gestig
8 Januarie 1917
Die NG Gemeente Umtali was ‘n gemeente in die Sinode van Midde-Afrika.
Voorgeskiedenis
In 1894 is ds. P. A. Strasheim deur die Kaapse Sinode benoem as afgevaardigde na Rhodesië om onder die Afrikaners te gaan werk en moontlik gemeentes te stig. In 1896 keer hy na die Kaap terug en werf Eerwaarde J. S. Groenewald, Eerwaarde A. I. Liebenberg en Eerwaarde L. le Roux wat onderskeidelik na Bulawayo, Enkeldoorn en Melsetter gegaan het. Eerw. le Roux was dan ook die eerste leraar wat ‘n besoek aan Umtali gebring het. Alhoewel dit wou voorkom asof Urntali onder die Kerkraad van Melsetter sou sorteer, het dit na die stigting van die gemeente Salisbury in 1905 ‘n wyk van laasgenoemde gemeente geword.
Teen die einde van 1905 is Umtali deur ds. I. N. Geldenhuys, leraar van Salisbury, besoek; ‘n diens is gehou in ‘n paalhuisie van ene rnev. W. Prinsloo van Imbezavallei; broeders H. A. Louw Snr. is as eerste ouderling en Dirk Uys as eerste diaken gekies (Uys het bedank en in sy plek br. J. T. L. Bekker). Br. H. A. Louw het oral besondere vermelding geniet vanweë sy pligsgetrouheid en die besondere offers wat hy gewillig was om te bring terwille van sy mede-Afrikaners en kerkgenote. Daarna is Umtali en omgewing besoek deur ds. D. du P. Steyn (1905-1907), eerw. W. Adshade (1909-1911). ds. C. R. Kotze (1911-1915). In die maande kort na die aankoms van ds. C. R. Kotze is daar ‘n sterk behoefte gevoel aan die wenslikheid van ‘n eie kerkgebou te Umtali. Hierdie gedagte is veral gesterk deur die besoek van ds. D. F. Malan in 1912, toe predikant van Montagu.
Kerkgebou te Umtali en afstigting
Op 16 Desember 1914 is die hoeksteen van die kerkgebou deur mnr. A. Louw Snr. gelê en die Kerkgebou deur mnr. H. A. Louw Jnr., met behulp van verskeie ander persone opgetrek. Die kerkgebou is op Woensdag 15 September 1915 ingewy. Ds. C. R. Kotze het die deur oopgesluit en die inwydingsrede is deur ds. A. F. Louw gehou. Weens die feit dat Umtali bevoorreg was om ‘n eie kerkgebou te hê, is daar besluit op die aanstelling van ‘n hulpprediker, met Umtali as werkkring. Prop. W. C. Malan is beroep en op 11 Maart 1916 te Umtali georden en bevestig deur ds. C. R. Kotze. Sake het nou vinnig ontwikkel in die rigting van die afstigting van Umtali as ‘n selfstandige gemeente wat dan ook gedoen is op 8 Jan. 1917 en die volgende was die eerste kerkraad wat op 4 Feb. 1917 voorgestel is:
Ouderlinge: H.A. Louw Snr., Umtali; G.J. Delport, Headlands; P.S. Grobler, Rusape.
Diakens: J.T.L. Bekker, Umtali; P.N. Miller, Umtali; J.B. du Plessis, Umtali; I.A. Delport, Headlands; G. Pretorius, Rusape; F. de Meyer, Inyanga.
Op 5 Februarie 1917 het die kerkraad byeengekom en is ds. W. C. Malan as eerste leraar beroep. Ds. Malan het die beroep aanvaar en is op 10 Junie 1917 deur ds. B.J. Kloppers, leraar van Salisbury en konsulent van Umtali, bevestig.
Bron: Ned, Geref. Kerk Midde-Afrika 75: 1895 – 1970