gestig
1743
Ring
Ring van Tulbagh
Adres
Waverenstraat, Tulbagh
eerste predikant
Ds AM Meiring
Die NG Gemeente Tulbagh op die gelyknamige Bolandse dorp is die vierde oudste gemeente in die Nederduitse Gereformeerde Kerk en val in die Sinode van Wes-Kaapland.
Die gemeente is in 1743 gestig, kort na ’n besoek aan die Kaap van baron Gustaaf Willem van Imhoff, goewerneur van Nederlands-Indië. Op sy reis deur die kolonie gaan die verwaarloosde toestand van die godsdiens en die onderwys van die lidmate van die verafgeleë dele van die destydse gemeentes Stellenbosch en Drakenstein hom so ter harte, dat hy by die Here Sewentien en die Politieke Raad ernstig daarop aandring dat twee nuwe gemeentes gestig word.
So kom dan hierdie gemeente tot stand en kort daarna die gemeente Zwartland. Volgens die notule is die eerste grense as volg vasgestel: “Van de Koopmansrivier tot beneden de onder kant van de Bergrivier, de Picquetbergen, de Oliphantsrivier en over het gebergte tot geheel beneden aan de Mosselbaay, so verre de jurisdictie van de E. Comp. strekt.”
Sestig jaar lank dra die gemeente die naam “Roodezandskerk in ‘t Land van Waveren” – name nog deur goew. W.A. van der Stel gegee: Roodezand waarskynlik weens die kleur van die grond en Waveren na ’n vername Amsterdamse familie. In 1804, toe die distrik Stellenbosch in twee verdeel word en die noordelike een ter ere van goewerneur Ryk Tulbagh die naam Tulbagh kry, word die naam van die gemeente ook verander tot Tulbagh.
Die eerste predikant was ds. Arnoldus Mauritius Meiring, wat op 28 Maart 1743 met die skip Adrichem uit Nederland aan die Kaap land. Op 16 September 1743 hou hy sy eerste diens in die Land van Waveren en doop vier kinders by daardie geleentheid. Vir die eerste eeu van sy bestaan word die gemeente agtereenvolgens deur agt predikante bedien.
Skeuring
In 1843 vind ’n skeuring plaas en word ’n nuwe gemeente gestig, t.w. Kruisvallei, en sou daar 92 jaar lank twee gemeentes op Tulbagh wees. Gedurende daardie tydperk het sewe predikante in die gemeente Tulbagh en agt in die gemeente Kruisvallei die herderstaf geswaai.
Die NG Gemeente Kruisvallei, wat weens onenigheid op 21 Januarie 1843 van Tulbagh afgeskei het, het op 5 Oktober 1935 met die moedergemeente verenig, waarna sy kerk die gemeente gehuisves het tot dit sodanig in die aardbewing op 29 September 1969 beskadig is dat dit gesloop moes word. Die gemeente Tulbagh se kerk is gesloop nadat dit in onbruik verval het.
Die pastorieë van die twee gemeentes was regoor mekaar geleë. In 1878 het die Tulbagh-gemeente se kerk verskuif vanaf die Oude Kerk na die Neo-Gotiese kerkgebou ’n entjie bokant die Oude Kerk (foto) in Vanderstelstraat.
Die Tulbagh-pastorie was steeds op die noordelike punt van kerkstraat. Die Kruisvallei-kerk is gebou waar die gemeente Tulbagh se kerkgebou vandag nog staan en hul pastorie was by Kerkstraat 42 sodat die twee predikante al die jare by mekaar verby moes loop op pad na hul onderskeie kerke.
Daar word vertel dat toe ene Pieter Theron van die Bo-kerk (Kruisvallei) in September 1930 met Lenie Rossouw van die Onder-kerk (Tulbagh) wou trou, nie een van die predikante bereid was om hulle in die huwelik te bevestig nie. Noodgedwonge moes Pieter toe eerw. Holtzapfel vir die taak gaan haal. Dis maar een van die staaltjies oor die onvrede wat amper ’n eeu lank op die dorp geheers het.
Hoewel die moeilikhede in die weg onoorkomelik geskyn het, het leraars en voormanne aan weerskante volhard in hul pogings tot toenadering tussen die twee gemeentes. Veral is ’n beter gees in die lewe geroep tydens die bediening van di. Büchner (Onder-kerk) en Van Aarde (Bo-kerk), wat onderskeidelik 25 en 29 jaar hier gearbei het.
Albei het hulle beywer vir die opbou van hul eie gemeente, finansieel en andersins, maar daarby het hulle deur minsame en verstandige optrede die weg tot hereniging voorberei. Ds. G.J. Hugo van Tulbagh het hom ook tydens sy bediening besonder vir die saak beywer en dit het geblyk dat die hereniging in sy tyd sou plaasvind. Hy het dit egter nie gesien nie.
Die wil en verlange tot hereniging het nietemin voortgewerk en so het dit gekom dat die gemeentes op 5 Oktober 1935 herenig het. ’n Herenigingsakte is opgestel en deur die kerkrade van die twee gemeentes onderteken in die Oude Kerk op dieselfde tafel waarop die voorwaardes van die oorgawe van die Kaap in 1806 deur die Hollandse en Engelse bevelvoerders onderteken is.
Die Ring in sitting op Tulbagh op 11 Oktober 1935 het die akte bekragtig. Ds. Snyman, leraar van Kruisvallei, is tot medeleraar van Tulbagh verklaar. Daar is ook ’n herenigingsdiens gehou wat op roerende wyse deur di. P.J. Retief en R.D. McDonald waargeneem is terwyl ds. P.G.J. Meiring die gebed gedoen het en ’n koor die plegtigheid opgeluister het.
Di. De Vos en Snyman het die gemeente saam bedien tot 1938 toe ds. Snyman ’n beroep na die NG Gemeente Oos-Londen aangeneem. In 1938 het Wolseley as afsonderlike gemeente afgestig en was dit nie meer nodig vir twee leraars nie. Ds. De Vos het die werk alleen voortgesit tot 1947.
Eerste kerk
Die eerste kerk is in 1743 gebou met materiaal wat gedeeltelik uit Nederland kom en die stene uit Batavia. Dis vandag die oudste kerkgebou in Suid-Afrika wat nog staan soos dit oorspronklik opgerig is. Tot 1878, toe ’n nuwe kerkgebou voltooi is, doen dit diens as plek van aanbidding. Daarna word dit as basaar- en konsertsaal gebruik. Deur die onvermoeide ywer van sir Meiring Beck, ’n agter-agterkleinseun van ds. A. M. Meiring, die eerste predikant, en sy eggenote, lady Mary Emily-Kuys Beck, ook ’n direkte afstammeling van een van die vroeëre leraars, t.w. ds. J. A. Kuys, is dit vandag egter as ’n museum van baie kosbare oudhede ingerig.
Die gemeente besit ook twee ander merkwaardige kerklike geboue wat van besonder hoë argitektoniese waarde is – albei pragstukke van die ou Kaaps-Hollandse boustyl, met indrukwekkende gewels van die barok-tipe – nl. die pastorie wat in 1769 gebou is en ’n ou wynkelder vlak daarnaas; laasgenoemde is ’n ietwat later gebou en in 1849 as skool ingewy, maar word tans vir bidure gebruik en staan bekend as die “Kapel”.
Ds. Marco Koch, sedert 7 Julie 2019 predikant van Windhoek-Eros in Namibië, is op 30 Januarie 2022 in die gemeente bevestig.
Predikante
- Arnoldus Mauritius Meiring, 1743 – 1757
- Remmerus Harders, 1758 – 1775
- Johannes Abraham Kuys, 1777 – 1787
- Petrus Johannes van der Spuy, 1788 as konsulent
- Johannes Abraham Kuys, 1789 – 1794
- Michiel Christiaan Vos, 1794 – 1802
- Hendrik Willem Ballot, 1803 – 1814
- Johannes Jacobus Kicherer, 1815 – 1825
- George Thom, 1825 – 1833
- Robert Shand, 1835 – 1871
- William Robertson, 17 Sep. 1871 – 1883
- Jan Adam Büchner, 29 Nov. 1883 – 30 Mrt. 1908
- Cornelius Daniël Bam, 6 Nov. 1908 – 1915
- Gideon Jozua Hugo, 22 Jul. 1915 – 1921
- Jan Hendrik Jacobus Greyvenstein, 16 Feb. 1922 – 1927
- Ebenhaezer Greyling, 30 Sep. 1927 – 1934
- Wouter Frans van Wyk de Vos, 9 Mrt. 1935 – 1947
- Jacobus Wilhelmus Snyman, 11 Okt. 1935 – 1938 (met samesmelting oorgekom van Kruisvallei)
- Gerrit Conradie le Roux, 1 Nov. 1947 – 1952
- Willem Carel van der Merwe de Swardt, 6 Des. 1952 – 1958
- Johannes Albertus Hurter, 23 Aug. 1958 – 1962
- Schalk Johannes von Solms, 1961 – 1972
- Paul Willem Jacobus van Jaarsveld, 1962 – 1965
- Hendrik Adam Albertyn Lambrechts, 1966 -1974
- Carel Aron van der Merwe, 1974 – 1990
- Christoffel Groenewald Eksteen, 1981 – 2022
- Marco Koch, 2022 –