gestig
24 Junie 1953
eers bekend as
NG Gemeente Rosettenville-Suid
waarby ingelyf is
2018
NG Gemeente Klipriviersberg
Saamgesmelt met
2022
ring
Ring van Turffontein
adres
Hexrivierstraat 6, Oakdene, Johannesburg
Eerste predikant
Ds AP Swanepoel
Die NG Gemeente Townsview was ‘n gemeente in die Hoëveld Sinode. Dit het in 2022 met Mondeor en Deo Gloria Gemeenskapskerk as Ligbaken Gemeente saamgesmelt.
DIE BEGIN VAN ONS GEMEENTE
Staan op die hoek van Verona- en Lawnstraat en voor jou is die saal met sy siersteenmure en rooi sinkdak wat jare lank die tuiste was van ons gemeente. In 1952 is besluit om ‘n deel van die Rosettenville Gemeente af te stig en ‘n nuwe gemeente te vorm. Op 24 Junie 1953 het die afstigting plaasgevind en die nuwe gemeente is Rosettenville-Suid genoem. Vyftien ouderlinge en vyftien diakens is gekies. Daar is besluit om eers ‘n saal te bou. Die saal was toegerus met ‘n konsistorie agter die verhoog en ‘n klein kerkorrel aan die kant van die verhoog. Binne hierdie saaltjie het ‘n ouderling deur ‘n valdeur in die vloer van die konsistorie geval en was ernstig beseer.
As eerste leraar is ds AP Swanepoel op 30 Januarie 1954 bevestig. Hy was in die dokke in Durban werksaam toe hy gehoor gegee het aan die roeping om predikant te word. Hy was ook ‘n ghitaarspeler in ‘n dansorkes. Die eerste tydelike pastorie was in Veronastraat. Die woning is egter later afgebreek om plek vir ‘n SPAR te maak. In 1955 is twee standplase teen R2700 in Prairiestraat-verlenging, Oakdene, gekoop vir die bou van ‘n pastorie. Dit is teen ‘n koste van R13 300 gebou. Die goeie ou tyd!
ROSETTENVILLE-SUID WORD HERNOEM NA TOWNSVIEW
Die naam van die gemeente is omstreeks 1957 na Townsview verander om verwarring met Rosettenville uit te skakel. Ds Swanepoel is op 23 November 1957 opgevolg deur ds FJ Botha wat bekend was vir sy uitmuntende geheue. Hoewel die aanvanklike plan was om later ‘n kerkgebou langs die saal te bou, is daarvan afgesien omdat gevoel is dat die geraas in Veronastraat te steurend was.
DIE NUWE KERKGEBOU
In 1957 is met ‘n kerkboufonds begin, dog eers in die tydperk van die derde leraar, ds Hennie van Wyk, is besluit om te begin bou. Ds Van Wyk is op 27 Junie 1964 bevestig en in 1966 is die grond langs Hexrivierstraat teen R4000 aangekoop vir die bou van ‘n kerk en saal.
In 1968 is die tender vir die bouwerk aanvaar en op 8 November 1969 is die nuwe kerkgebou amptelik in gebruik geneem. Tydens die openingsgeleentheid, het ds AP Swanepoel, die eerste leraar, gesê: “Die klok van hierdie Godsgebou sal getrou elke Sondag lui; die koster sal daarvoor sorg. U leraar sal die kansel vul en die orreliste sal die
orrel bespeel. As elkeen nie getrou op sy pos is nie, sal u teleurgestel wees. So sal God teleurgestel wees as Hy nie vir u daar vind nie. Kom luister na Sy Woord; deel in die sakramente.” Die klok het egter spoedig opgehou lui omdat die omgewing se inwoners
gekla het. Ds van Wyk, wat toe leraar was, het sy boodskap so afgesluit: “Ons kan
nie anders nie as om soos Asaf te sê: ‘Dit is vir my goed om naby God te wees’ (Ps. 73: 28). Daarom sal ek my plek getrou inneem by die erediens as deel van die feesvierende gemeente. Ek sal Hom getrou aanbid en dien.”
DIE PAD VERDER
Vanaf ‘n nederige ontstaan, het hierdie klein gemeente volhard en saamgewerk en gegroei tot ‘n volwaardige Nederduits Gereformeerde Gemeente wat in 2003 bestaan het uit sowat 800 volwasse lidmate en 200 dooplidmate.
Dr Johan van Rensburg was leraar in die gemeente vanaf 1974. In 1980 word sy broer, ds Christo van Rensburg, as medeleraar in die gemeente bevestig. In 1981 is ds Christo as voltydse leraar beroep. Ten tyde van sy bevestiging in Townsview was hy net ‘n dominee, sy doktorsgraad is later verwerf. Net nadat dr Johan van Rensburg beroep is as dosent by die Universiteit van die Vrystaat se kweekskool, is ds Christie van Zyl in 1985 bevestig as
medeleraar van ds Christo. Vir baie jare het dié twee leraars skouer-aan-skouer hulle werk in die gemeente verrig totdat dr Christo in 2001 afgetree het. Ds. Christie het ook later sy doktorsgraad verwerf.
Nog ‘n wonderlike toevoeging tot die kerkgebou, die Oratorium, het in 1996 sy beslag gekry. Dit was ‘n droom van dr Christo van Rensburg dat hierdie ongebruikte, vlak kelderverdieping van die kerkgebou ook nuttig gebruik moes word. Uitgrawings is gedoen om ‘n groot vertrek te vorm wat sitplek vir sowat 200 persone kan bied. ‘n Koffiekroeg, kerkkantoor, boekwinkel, ‘n vertrek vir dupliseer- en bindwerk en ‘n kleuterskool het hultuiste in hierdie ruimte gevind.
In 2001 is opknappingswerk aan die dak, die gepleisterde muurpanele, vensterrame, houtwerk en die kerktoring gedoen. Terselfdertyd is die klok herstel. Ds. Christie van Zyl het sy afskeidspreek gehou op 20 April 2008. Tydens die diens is Steve Havenga as die nuwe koster aan ons gemeente voorgestel. Daar was ook afskeid geneem van Richard en Estelle Crafford, kosterpaar vanaf April 1996. Kleinkie Engelbrecht het ook die tuig as
redakteur van Die Oproep neergelê. Hannes Steyn sou voortaan hierdie posisie beklee. Dit was inderdaad die einde van ‘n era. Lidmaatgetalle was, a.g.v. demografiese veranderinge binne die gemeentegrense, al ‘n geruime tyd aan die verminder en toe ds Johan Conradie op 17 April 2009 as gemeenteleraar bevestig is, was dit reeds seker dat NG Townsview se dae as groeiende gemeente getel was. In 1995 was die gemiddelde erediensbywoning op ‘n Sondagoggend, 500 lidmate. Kategese is bygewoon deur sowat 260 kinders. Hierdie getalle het aanhou verminder en teen die einde van 2021, is die eredienste bygewoon
deur ‘n gemiddeld van sowat 70 lidmate.
In 2013 is die 60ste bestaansjaar van die gemeente gevier met ‘n formele geleentheid in die kerksaal. Ten tyde van hierdie geleentheid het sowel ds Hennie van Wyk, sy gade, ds Christie en sy gade René van Zyl en Elsabé van Rensburg (weduwee van dr Christo) die geleentheid bygewoon.
Vroeg in 2018 het NG Gemeente Klipriviersberg ontbind en sy lidmate het op 20 Mei 2018 by NG Townsview ingeskakel. Ds Johan Conradie se afskeidspreek was op 28 April 2019.
Mei 2019 het ds Danie van Niekerk ingestem om, op ‘n aflosbasis, as leraar in NG Townsview op te tree. Hy is egter kort daarna ‘n meer permanente posisie op ‘n kontrakbasis aangebied – ‘n posisie wat hy tans nog beklee.
In die Ring Turffontein het die gemeentes Klipriviersberg, Danie Theron en Kroonrand, as gevolg van dalende lidmaatgetalle en gevolglike finansiële druk, reeds gesluit. Townsview, Mondeor en Deo Gloria gemeentes het nou, na deeglike besinning, besluit om die voortbestaan van die NG Kerk in die Suide van Johannesburg te verseker deur op 31 Mei 2022 te ontbind en op 1 Junie 2022, gesamentlik, ‘n nuwe gemeente te stig. Die nuwe gemeente sal as NG Gemeente Ligbaken bekend staan.
Saamgestel deur Hannes Steyn
Mei 2022
Predikante
- Alwyn Pieter Swanepoel, 1954 – 1957
- Frederick Johannes Botha, 1957 – 1964
- Hendrik Johan Christoffel van Wyk, 1964 – 1974
- Johan Janse van Rensburg, 1974 –
- Christo Janse van Rensburg, 1981 – 2001
- Christiaan Frederik van Zyl, 1985 – 2008
- Johannes Conradie, 2009 – 2019
- Danie van Niekerk, 2019 –