NG Gemeente Tarkastad

Die hoeksteen van Tarkastad se NG kerkgebou is op 1 Junie 1877 gelê en die gebou is op 12 Februarie 1880 ingewy.

Die NG Gemeente Tarkastad is die 24ste gemeente wat in die teenswoordige Sinode van Oos-Kaapland gestig is, maar tans is dit die 19de oudste gemeente omdat die gemeentes Stockenström, Middelburg, Komga, Greykerk en Alice, wat almal ouer as Tarkastad was, nie meer bestaan nie.

Agtergrond

In 1952 skryf Ons gemeentelike feesalbum, ’n oorsig van al die gemeentes in die NG Kerk met die oog op die Van Riebeeck-fees: “Die Tarka-gebied – daardie skone landstreek in die skaduwee van die Winterberg – het sy volle aandeel gehad aan die storms en stryd wat die nasionale lewe gedurende anderhalf eeu geskok het.”

Slagtersnek-rebellie

Ongeveer 26 km buite die dorp Tarkastad lê die eensame graf van die slagoffer van die Slagtersnek-rebellie Johannes Bezuidenhout, enkele kilometers van die toneel van sy laaste hopelose stryd teen die oormag van regeringstroepe. Die Slagtersnek-rebellie verwys na Bezuidenhout, ’n Oos-Kaapse boer, se kortstondige opstand teen die Britse bewind in die tydperk 1815–1816. Dit word ook as een van die redes vir die ontstaan van die Groot Trek beskou.

Die naam Slagtersnek, waar die rebelle gevang is, is ontleen aan die Britse handelaars van Grahamstad wat hier bymekaar gekom het om die boere in die omgewing se slagdiere te koop. Op ’n plaas naby wat vandag Somerset-Oos is, het Frederik Bezuidenhout ’n Khoikhoi-werker met die naam van Booi van diefstal verdink en sy loon teruggehou. Booi het Bezuidenhout gaan verkla van aanranding by die landdros op Graaff-Reinet. Bezuidenhout het twee keer geweier om voor die hof te verskyn en hy is in absentia tot een maand gevangenisstraf op 5 Oktober 1815 gevonnis.

Die Britse regering wou graag sy gesag oor die boere in die verre Oosgrens vertoon en het ’n mag van 12 Khoi-Khoi soldate, destyds Pandoere genoem, met ’n blanke offisier op 16 Oktober 1815 na Bezuidenhout se plaas gestuur om hom in hegtenis te neem. Bezuidenhout het hom verset en is deur een van die Khoi-Khoi soldate in ’n skuiling tussen rotse op sy plaas doodgeskiet. Op sy begrafnis het sy broer Johannes Bezuidenhout wraak gesweer en saam met ’n groep vriende het hy ’n opstand teen die Britse regering in die Kaap beplan. Hulle wou die Britse regering en die Khoi-Khoi uit die Oos-Kaap verdryf. Hulle het die Xhosa hoofman Gaika (ook Ngqika genoem) om hulp genader en aangebied dat hy die hele Zuurveld as betaling sou ontvang. Gaika het nie belang gestel nie. Hendrik Prinsloo is kort daarna deur ’n mag van 70, wat 40 Engelse soldate en 30 kommando lede ingesluit het, in hegtenis geneem.

Die rebelle het onsuksesvol probeer om hom te ontset en ander boere in die omgewing gevra om by die opstand aan te sluit. Die rebelle het op 18 November 1815 aan die Britse mag by Slagtersnek oorgegee. Johannes Bezuidenhout het hom teen inhegtenisname verset en is ook doodgeskiet. Die gevolg van die opstand was dat 32 rebelle uit die Oostelike Provinsie verban en ses van die rebelleleiers op 20 Januarie 1816 ter dood veroordeel is op ’n klag van hoogverraad. Een, Willem Krugel, word later deur die Kaapse goewerneur, lord Charles Somerset, begenadig. Op 9 Maart 1816 word Hendrik Frederik Prinsloo, Stephanus Cornelis Bothma, Cornelis Johannes Faber, Theunis Christiaan de Klerk en Abraham Carel Bothma in die openbaar gehang.

Groot Trek en Vryheidsoorlog

In 1838 het Tarka weer twee manne aan die Groot Trek afgestaan wat later onsterflike roem sou verwerf: Andries Hendrik Potgieter en Piet Retief. Nog later, in 1899, toe die twee Boererepublieke in ’n doodstryd gewikkel was, het talle lidmate van Tarkastad na die wapen gegryp en meer as een het voor die vuurpeloton die hoogste prys vir sy nasieliefde betaal. Digby die dorp het die burgers onder genl. Jan Smuts ’n Engelse patrollie in ’n hinderlaag gelok en uitgewis. En die destydse leraar, ds. D.J.J. van Velden, wat verdink is van pro-Republikeinse simpatieë, is meer as ’n jaar lank in ’n interneringskamp aangehou.

Gemeentestigting

Die gemeente Tarkastad is in 1863 gestig met ds. J.G.S. de Villiers as eerste leraar. Hy het in 1885 bankkrot gespeel en is gevra om te bedank omdat hy soveel lidmate geld geskuld het. Die eerste kerkie in Greystraat is in 1880 verwissel vir die huidige, sierlike kerkgebou.

Huidige kerkgebou

Die gemeente het in 1875 besluit om ’n eie kerkgebou op te rig en, ná vele oorweging, het hulle die NG Ggemeente Adelaide se klipkerk van 1862 as ’n model gebruik. Die kerkraad het tenders aangevra en ene mnr. Murfin s’n aanvaar.

Klip is in die omgewing gekap en 50 gemeentelede het gedurende die twee jaar lange bouwerk vragte hout en ander toerusting gratis per ossewa van Port Elizabeth af aangery. Die plaaslike landdros, Thomas Ignatius Muller Gie, het die hoeksteen van die kerk met ’n kruiskerkmotief op 1 Junie 1877 gelê. Ouderlinge het die houtpreekstoel, handewerk van “den heer Sleut”, geskenk. Lampe is uit Londen van Hart, Peard & Son bestel.

Die kerkraad het die banke in sitplekke van sowat 53 cm elk opgedeel en die eerste 36 aan “oude menchen” (diegene bo 60 jaar) beskikbaargestel. Van die 128 oorblywende sitplekke was agt vir die predikantsbank, 17 vir “vreemdelinge” en die res vir ander gemeentelede.

‘n Plegtige inwydingseremonie is op 12 Februarie 1880 gehou. Die eerste orrel, waarvoor die “Juffrouwen Commissie” £730 betaal het, is in 1884 in gebruik geneem.

Soos met baie ander kerkgeboue in die omgewing het vyandelike troepe ook die kerk op Tarkastad gedurende die Tweede Vryheidsoorlog beskadig. In 1903 is die draadheining om die kerk deur tralies vervang en gaslampe aangebring, wat in 1931 deur elektriese ligte vervang is.

Die kerk het mettertyd te klein geword vir sy groeiende gemeente en van 1912 tot 1915 het groot uitbreidings plaasgevind. Onder meer is drie galerye gebou om die sitplekke van 480 tot 960 te verdubbel, die vloer is aan die agterkant gelig sodat dit skuins na voor afloop en nuwe banke is ingesit. Die tweede plegtige inwyding is op 6 Februarie 1915 gehou.

Herstelwerk

In die vroeë jare sestig is daar afgekom op ernstige barste in die 37,5 m hoë kerktoring en teen 1967, toe die toring al 93 jaar oud was, het dit selfs gevaarlik geword om die kerkklok te lui. Die houtbalke wat die klok steun en die vibrasie van die klok is as die oorsake van die barste uitgewys.

Die toring is egter gered op buitengewone wyse en volgens ’n metode wat toe na bewering die eerste keer ter wêreld gebruik is. Spuitsement is aan die binnekant van die toring ingespuit waarna dit veilig was om steiers aan die buitekant op te rig. Die vloer bokant die uurwerk is met lood bedek sodat reën nie op die uurwerk kon val nie.

Omstreeks 1980 is die kerk opgeknap. In ’n glaskas in die gemeente se “Moedersaal” (die kerksaal) word grepe uit die geskiedenis bewaar.

Leraars

Tot 1952 is die gemeente deur 12 leraars bedien: De Villiers van 1863 tot 1886, dr. J.P. van Heerden van 1887 tot 1893, H. Muller van 1893 tot 1897, D.J.J. van Velden van 1897 tot 1903, D.J. Pienaar van 1904 tot 1912, J.F. Botha van 1912 tot 1918.

Dit was onder uiters tragiese omstandighede dat ds. Botha uit Johannesburg, waar hy die tweede leraar van die NG Gemeente Jeppestown was, na Tarkastad gekom het. Hy het in 1912 ’n beroep hierheen ontvang en dit in Junie daardie jaar aangeneem. Pas het hy die beroep aanvaar, of die doodsengels besoek die pastorie in Jeppestown en neem die pastoriemoeder teen die einde van Junie 1912 weg. Kort daarna, op 4 Julie, het dié kort beriggie in die amptelike kerkblad, die De Kerkbode, verskyn: “Van hier (Jeppestown) is Saterdag per telegram berig ontvang dat die eggenote van ds. J.F. Botha, wat reeds jare lank lydende was, in die hospitaal oorlede.” Al verwysing na haar begrafnis in die kerkraadsnotule is dié kort aantekening op 1 Julie 1912: “Die kerkraad besluit om die ‘cabs’ by die begrafnis van die oorlede eggenote van ons leraar uit die kerkkas te betaal.”

Onder dié omstandighede was ds. Botha se vertrek uit die Goudstad dubbel swaar en treurig, vir die gemeente sowel as vir hom. Met die dood en begrafnis van die pastoriemoeder nog so vars in die geheue van die gemeente en die wond nog so rou in die leraar se hart, is daar geen afskeidsgesellighede of -geleenthede gereël nie. Die hele afskeid het in stilte geskied. Reeds op 1 Julie, ’n paar dae ná mev. Botha se begrafnis, het die konsulent, ds. H.A. Lamprecht van die Johannesburg-Oos, oorgekom en op ’n spesiale kerkraadsvergadering eervolle ontslag aan ds. Botha gegee. Onder dié hartseer omstandighede het ds. Botha, vergesel van sy kinders, van wie die meeste nog heel klein was, die ou pastorie en gemeente van Jeppestown in die Goudstad gegroet en na Tarkastad vertrek, waar hulle tot 1918 sou kom woon. Omstreeks dié tyd (1915) het die siele in die gemeente 1 450 getel en die belydende lidmate 756.

Ds. Botha se opvolgers was: C.R. Kotzé van 1918 tot 1921, A.G.E. van Velden van 1922 tot 1930, A.H. Naudé van 1931 tot 1943, dr. (later prof.) P.A. Verhoef van 1944 tot 1946 (toe hy verder gaan studeer het en net enkele maande die leraar van die NG Gemeente Cradock was voor hy in 1950 hoogleraar aan die Kweekskool op Stellenbosch geword het), dr. E.A. Venter (1947 tot 1950) en ds. P.W. Jordaan van 1950 tot 1958.

Die NG Gemeente Molteno is op 22 Julie 1881 van Tarkastad afgestig. Die eerste vergadering van die dogtergemeente se kerkraad is op Sterkstroom gehou en die volgende dekade sou die vergaderings om die beurt daar en op Molteno self gehou word, totdat Sterkstroom in 1891 selfstandig geword het.

Reeds in 1952 berig Ons gemeentelike feesalbum: “As gevolg van die ontvolking van die platteland, tel die gemeente wat eertyds meer as 950 lidmate gehad het, vandag slegs 650. Tog bly die ywer en ondernemingsgees onverminderd.” Kort ná die verskyning van die feesalbum is ’n kerksaal, die Moedersaal, aangebou en die orrel gemoderniseer. In 1973 het die lidmate verder afgeneem tot 398, in 1979 tot 338, in 2012 tot 185 en in 2013 tot sowat 170.

Predikante

  • Johan George Steytler de Villiers, 1863 – 1886
  • Dr. Johannes Petrus van Heerden, 1887 – 1893
  • Helgard Müller, 1894 – 1897
  • Dirk Johannes Jacobus van Velden, 1897 – 1904
  • Daniel Jozua Pienaar, 1904 – 1912
  • Johannes Francois Botha, 1912 – 1918
  • Christiaan Rudolph Kotzé, 1918 – 1921
  • Anthonie George Eliab van Velden, 1922 – 1930
  • Andries Hendrik Naudé, 1931 – 1944
  • Pieter Adriaan Verhoef, 1944 – 1946
  • Dr. Erasmus Albertus Venter, 1947 – 1950
  • Pieter Willem Jordaan, 1950 – 1958
  • Jacobus Martinus Gerber, 1958 – 1961
  • Ignatius Christiaan Schutte, 1962 – 1973
  • Johannes Jacobus de Wet, 1974 – 1979
  • Jacobus Petrus Lodewiekus van Straaten, 1999 – 2010
  • Gerrit Vosloo, 2011 – 2013
  • Lizette Viviers, 2013 – hede