![](https://www.gemeentegeskiedenis.co.za/wp-content/uploads/2020/05/Stutterheim.jpg)
gestig
15 Oktober 1948
ring
Ring van Queenstown
adres
Kerkstraat, Stutterheim
eerste predikant
Ds. W.V. Reynierse
Die NG Gemeente Stutterheim is ‘n gemeente in die Sinode van Oos-Kaapland.
Aanleiding tot gemeentestigting
Die versoekskrif en die waarborglyste is in die gemeente rondgeneem en nadat die goedkeuring van Komgha se kerkraad verkry is, asook die belofte van die bruidskat van die kerk en pastorie op Stutterheim tesame met die medeleraarsaandeel in die Predikate-pensioenfonds, kon die versoekskrif met 297 naamtekeninge en die waarborglys met £943 10s. gewaarborg dien voor die Ring van Queenstown in sitting in Oos-Londen van 15 September 1948 af. Die Ring het met dank en waardering kennis geneem van die versoek en die afstigting aan die Ringskommissie opgedra.
Afstigting
Op 15 Oktober 1948 om 19:30 het die plegtige afstigting in die teenwoordigheid van die gemeente geskied en om 20:04 breek die groot oomblik aan toe ds. L.J. Heyns, voorsitter van die Ringskommissie en leraar van die NG gemeente Oos-Londen, vir die eerste keer sê: “Die gemeente Stutterheim!” Die gelukwensings van die lede van die Ringskommissie was baie indrukwekkend. Die voorsitter het toe gesê: “Mag u voorneme dié van Nehemia wees: Ons sal ons klaarmaak en bou!” Die kerkkoor van die pasgestigte gemeente het toe gesing: “Zingt onse God lof, te allen tyd.”
Nadat die dogtergemeente ‘n woord van dank veral teenoor die moedergemeente vir toestemming tot afstigting en die bruidskat uitgespreek het, asook teenoor die Ringskommissie vir hulle opkoms en die uitvoering van hul opdrag, is die verrigtinge met die sing van Psalm 146:1 en 8 en ‘n slotgebed deur ds. G.P. le Roux van Komgha afgesluit.
Eerste stappe
Teen 1951 het Komgha se belydende lidmate 530 getel, maar Stutterheim nog net 362. In 1973 was dit onderskeidelik 470 en 268, in 1979 Komga 480 en Stutterheim 266, maar in 1990 Komga 245 en Stutterheim 264. ‘n Jaar of wat later is die moedergemeente by die dogtergemeente ingelyf sodat daar in 1995 in die gekombineerde gemeente 271 lidmate was, 621 minder as die totaal in 1951. Komga het teenaan die destydse tuisland Transkei gelê waar mettertyd alle plase in blanke besit deur die destydse regering uitgekoop is.
So het talle Oos-Kaapse gemeentes in die slag gebly, naamlik Pondoland, Du Plessis, Greykerk, Alice en Peddie. Nie net die regeringsbeleid nie, maar ook die geleidelike ontvolking van die Oos-Kaapse platteland het ook hier sy tol geëis met Stutterheim se belydende lidmate wat teen 2014 afgeneem het tot slegs 195.
Predikante
- Willem Victor Reynierse, 1948 – 1955
- Philippus Cornelius Oosthuizen, 1956 – 1959
- J.H. du Plessis, 1959 – 1960
- Hendrik Jonathan van Niekerk, 1961 – 1965
- Carel Frederick Matthee, 1966 – 1970
- John Peter Barnard, 1972 – 1978
- Dirk Pieter van den Berg Enderstein, 1986 – 1998
- Stephanus Sebastianus Lombard de Witt, 2001 – 2006
- Deon Ockert Strydom, 2009 – hede