NG Gemeente Steynsburg

Ds. S.P. Malherbe het die kerkgebou se hoeksteen in 1910 gelê.

Die NG Gemeente Steynsburg is ’n gemeente in die Sinode  van Oos-Kaapland met sy middelpunt op die gelyknamige dorp in die Noordoos-Kaap. Die gemeente word begrens deur die gemeentes Burgersdorp, Molteno, Hofmeyr, Middelburg-Karoo en Venterstad.

Agtergrond en stigting

Die dorp Steynsburg is in 1872 deur die Gereformeerde Kerk aangelê en was destyds in die distrik Albert geleë. Die lidmate van die NG Kerk in die omgewing van Steynsburg het onder die gemeente Burgersdorp geressorteer. Deur hulle is, veral vanweë die groot afstande (byvoorbeeld 64 km na Burgersdorp) met primitiewe vervoermiddels, die behoefte aan ’n eie gemeente sterk aangevoel.

Nie lank ná die dorp se stigting nie, het dorpskomitee met ’n aanbeveling gekom om 22 erwe aan die Nederduitse Gereformeerde Kerk te skenk. Die Gereformeerdes as egter jaloers op hul monopolie. Later het hul hart tog sagter en broederliker geklop. Slegs ses maande ná die komitee se voorstel, op 9 Januarie 1874, is besluit om wel die erwe te skenk en te transporteer sodra ’n gemeente van die NG Kerk gestig word. Die transport van die 22 erwe is op versoek van die NG Gemeente Burgersdorp in 1874 gegee op voorwaarde dat geld wat daardeur ingevorder mag word, alleen ten bate van Steynsburg gebruik word.

Die gemeente se vorige kerkgebou.

In 1874 is reeds begin met die bou van ’n eerste kerkgebou, waarvan die hoeksteen in Maart 1875 gelê is. Veral deur die ywer van Johannes C.M.D. du Plessis is die gemeente op 26 Januarie 1876 gestig.

Leraars

Tien leraars het die gemeente vanaf sy stigting tot in die middel van die 20ste eeu bedien. Die eerste plaaslike NG predikant was ds. P.D. Rossouw, wat in 1878 die beroep hierheen aangeneem nadat hy van 1870 af die gemeente Uniondale bedien het, waar hy ook die eerste leraar was. In 1881 het hy na Franschhoek vertrek en in 1883 na Fraserburg, waar hy tot sy dood op 11 Oktober 1896 die gemeente se tweede leraar was. Sy opvolgers was di. A.A.L. Albertyn (1882-’83), J.P. van Heerden (1885-’87), W.H. Boshoff (1888–1906), S.P. Malherbe (1907-’25), wat hom onder meer beywer het vir nouer samewerking tussen die mededingende skole, waarvan die gevolg die stigting van die Hoërskool Paul Kruger was, I.J. Viljoen (1925-’31), drr. L.V. Rex (1932-’39), F.J.M. Potgieter, later ’n hoogleraar aan die Kweekskool op Stellenbosch, di. J.G. Bezuidenhoud (1943-’47) en W.A. Smit (van Maart 1948 tot 1953, en van 1961 af ’n dosent aan die Hugenote-kollege op Wellington).

Geboue

Prof. dr. F.J.M. Potgieter, in lewe ’n hoogleraar aan die Kweekskool op Stellenbosch, was ’n seun van die NG gemeente Barkly-Oos en van 1940 tot 1943 leraar van die gemeente Steynsburg.

Gedurende die dienstyd van ds. S.P. Malherbe en wel in 1910 is ’n toring aan die kerkgebou opgerig. Verdere verbeterings is tydens die dienstyd van ds. Viljoen aangebring toe ’n vleuel aangebou is en ’n baie doeltreffende orrel ingebou is wat op 12 en 13 Maart 1927 ingewy is. Die behoefte aan ’n geskikte konsistorie het steeds sterker geword en so is in 1951, toe die gemeente sy 75ste bestaansjaar kon vier, ’n begin gemaak met die aanbou daarvan.

Sending

Op die gebied van die sending het die gemeente gepresteer. Die sendinggemeente is in 1938 gestig en heel gou het daar twee sendingskole in die bruin woonbuurt verrys met ’n totale personeel (in 1952) van sewe. Later het ook ’n skool vir swart leerlinge gevolg wat in die beginjare ook as kerk gedien het.

Ook die armesorg het nie agterweë gebly nie en die gemeente het op 3 Mei 1951 die Herwin-tehuis vir sorgbehoewende meisies in gebruik geneem. Die tehuis het destyds voorsien in ’n groot behoefte.

Predikante

  • Pieter Daniël Rossouw, 1878–1881
  • Andries Adrian Louw Albertyn, 1882–1884 (waarna Rouxville tot sy dood op 3 Mei 1906)
  • Dr. Johannes Petrus van Heerden, 1885–1887
  • Willem Hendrik Boshoff, 1888–1906
  • Stephanus Petrus Malherbe, 1907–1925 (emeriteer; oorlede op 20 September 1927)
  • Izak Jacob Viljoen, 1925–1931
  • Dr. Louis Viljoen Rex, 1932–1939
  • Prof. dr. Frederik Johannes Mentz Potgieter, 1940–1943
  • Johan Gregorius Bezuidenhoud, 1943–1947
  • Dr. Willem Adriaan Smit, 1948–1953
  • Pierre Johan de Vos, 1953–1959
  • Sarel Jacobus Pieterse, 1960–1962
  • Marthinus Adrianus Bergh, 1962–1965
  • Barend Rudolph Buys, 1978 – 15 Maart 1981 (emeriteer)