
gestig
14 Mei 1965
Ring
Ring van Stellenbosch
Adres
Buitekringweg 6, Dalsig, Stellenbosch
Eerste predikant
Ds DJ Hattingh
Die NG Gemeente Stellenbosch-Welgelegen is ‘n gemeente in die SInode van Wes-Kaapland.
Die kerkraad van die NG Gemeente Stellenbosch moes baie oorredingswerk doen om lidmate suid van die Eersterivier sover te kry om af te stig. Dit was eers op 14 Mei 1965 dat die nuwe gemeente Stellenbosch-Welgelegen gestig is met ’n lidmaattal van 604 en 336 dooplidmate. Daar sou 14 wyke en 28 kerkraadslede wees. Op 2 Junie 1965 het Die Kerkbode berig dat die konsulent van die nuwe gemeente in die ring van Stellenbosch AJ (Attie) van Wijk is.
Tydens ’n kerkraadsvergadering op 15 Junie 1965 is DJ (Dirk) Hattingh van die gemeente Heidelberg, Transvaal, beroep as eerste leraar van die gemeente. Die telegram wat aan hom gestuur is, het gelui: “U is gisteraand beroep na nuwe gemeente Stellenbosch-Welgelegen. Hartelik geluk. Brief volg. Groete. Ds. AJ van Wijk – Konsulent.” Die beroep is aanvaar en die Hattingh-gesin is die naweek van 27 tot 29 Augustus 1965 in die gemeente ontvang. Hulle het voorlopig in Crusestraat 7, Krigeville tuisgegaan.
Die nuwe kerksentrum
Die oprigting van die gemeentesentrum was ’n langsame proses. In November 1966 is die grond vir die kerkgebou teen ’n totale bedrag van R19 000 aangekoop. Die grond was op die rand van Dalsig, wat deur Roulou Barry ontwikkel is. Dit het erwe 44 tot 50, asook 38 en die restant van erwe 43 en 51 ingesluit. Toe die ideaal van ’n eie kerksentrum werklikheid word, het die boukommissie vir twee jaar elke week vergader om te beplan sodat die beginsels van kerkbou en die toekomstige behoeftes van die gemeente bepaal kon word. Paul le Roux is as argitek aangestel.
Die ou Kweekskoolsaal langs Noordwal is gedurende die eerste sewe jaar na afstigting vir eredienste gebruik. Die ruimte was baie beperk en gedurende die somermaande was die saal baie warm. Ina Uys en Emily Heunis het die gemeentesang op bekwame wyse begelei. Daar was ook ’n kerkkoor. ’n Klein pakkamer het as konsistorie gedien. Kategeseklasse is in die verskillende lesingsale van die Kweekskool gehou. Die skriba het tydelik ’n klein kantoortjie by die Moederkerk gebruik.
Die ruim en moderne pastorie in Buitekring 11 is heel eerste opgerig. Dit is op Vrydag 13 September 1968 in gebruik geneem. Die totale boukoste van die pastorie was R34 238 en is kontant betaal. Dit was ook waar die Vroue-sendingbond en Kerkjeugaksie gereeld bymekaargekom het.
Die toewyding van die grond vir die kerksentrum was op Sondag 7 Februarie 1971. Ná die oggenddiens is sowat 400 gemeentelede na die bouperseel, waar Rudi Andrag ’n gebed gedoen het onder die groot bloekomboom. Daarna het Dirk Hattingh ’n boodskap uit 1 Konings 5:1 – 6:1 gelewer. Die volgende dag het ’n formele sooispitfunksie plaasgevind. Dit is deur sowat 150 mense bygewoon. Die oudste lidmaat, JP Potgieter, het die eerste sooi gespit met ’n graaf wat deur Dawie Joubert van die plaas Soverby geskenk is. Die nuwe kerksentrum, teen ’n totale koste van R407 000, is meer as ’n jaar later op Sondag 8 Oktober 1972 ingewy.
Orrel
Die meganiese Barok-orrel is deur die firma van Paul Ott in Göttingen, Duitsland, ontwerp en gebou. Paul Ott was een van die pioniers van die hervormingsbeweging (Orgel Bewegung) gedurende die twintigste eeu. In daardie stadium was dit die grootste meganiese kerkorrel in die Suidelike Halfrond. Elke pyp het ’n unieke klank voortgebring. Die akoestiek in die kerkruimte was so goed dat ’n bekende koorleier, Philip McLachlan, sangopnames hier gemaak het voordat die Universiteit Stellenbosch se nuwe konservatorium voltooi is. Vir hardhorende gemeentelede is ’n kabel in die buitemuur van die kerk aangebring sodat gehoorapparate daarby ingeskakel sou kon word. Daar is ook spesiale voorsiening gemaak vir rolstoele.
Bron: Geroep, Gewillig, Gestuur: NG Gemeente Stellenbosch-Welgelegen 1965 – 2015
Predikante
- Diederick Johannes (Dirk) Hattingh, 29 Augustus 1965 – 15 April 1992
- Philippus Francois (Flip) Theron, 13 Februarie 1977 – 28 Junie 1981
- Barend Abraham (Ben) du Toit, 30 Augustus 1981 – 24 Januarie 1988
- Mathys Daniël Jacobus (Thys) Smith, 18 Oktober 1981 – 6 Junie 1993
- Henry Leon (Leon) Fouché, 28 Februarie 1988 – 2017
- Theunis Jacobus (Theunis) Botha, 20 Mei 1990 – 31 Mei 2017
- Monty Peter (Monty) Sahd, 7 Februarie 1993 – 31 Maart 2022
- Louis Cloete (Louis) Jonker, Maart 1993 – 31 Desember 2002
- Louis Venter, 30 November 2003 – Desember 2006
- Leonard Christiaan (Leon) Cronje, 6 Mei 2007 – tans
- Nadia Marais, 2016 – tans (Dosent: US Fakulteit Teologie)
- Elzanne van der Westhuizen, 2018 – tans