gestig
1825
waarby ingelyf
NG Gemeente Visriviervallei
RING
Ring van Albanie
Adres
Kerklaan, Somerset-Oos
eerste predikant
Ds G Morgan
Die NG Gemeente Somerset-Oos is die vierde oudste gemeente van die Nederduitse Gereformeerde Kerk in die Sinode van Oos-Kaapland en die 15de oudste in die hele Kerk.
Stigting
Voor die stigting van ’n afsonderlike gemeente op Somerset-Oos in 1825 het een deel van die gemeente van die distrik aan die NG Gemeente Graaff-Reinet en die suidelike deel aan die NG Gemeente Uitenhage behoort. Die stap om ’n afsonderlike gemeente en ’n kerkgebou op Somerset-Oos te kry, is deur die landdros, William Mackay, gedoen. Op 27 Mei 1825, skaars vyf maande nadat die goewerneur die drosdy Somerset-Oos in die lewe geroep en Mackay as eerste landdros aangestel het, rig hy ’n privaat brief aan die goewerneur, lord Charles Somerset, waarin hy raad vra oor hoe hy te werk moet gaan om die gewenste oogmerk te bereik. Die antwoord, wat ook privaat gegee is, moes aanmoedigend gewees het, want binne ’n maand ná ontvangs het die landdros en heemrade ’n amptelike stoot aan die saak gegee.
Die Kerkorde van De Mist van 1804, wat tot met die Ordonnansie van 1843 gegeld het, het die mag aan hierdie openbare liggaam gegee om namens die regering stappe te doen in verband met die oprigting van gemeentes in die buitedistrikte. Op ’n vergadering gehou in die Somersetse Drostdy op 9 Julie 1825 is amptelik besluit om by die goewerneur aansoek te doen om ’n kerk op die dorp tot stand te bring. Omdat die goewerneur nie op eie houtjie kon reageer nie het hy die versoek na graaf Bathurst, koloniale sekretaris, in Engeland gestuur, maar dié het teleurstellend gereageer op die versoek om die oprigting van ’n kerkgebou toe hy laat weet “dat zijn Lordschap uit hoofde van de armoede van de Koloniale Kas gemelde versoek niet kon toestaan”.
Eerste leraar en kerkraad
Toestemming is nietemin verleen aan die stigting van ’n afsonderlike gemeente, want in Oktober van dieselfde jaar is ds. George Morgan, een van die eerste ses Skotse predikante wat Kaap toe gekom het om die tekort aan Afrikaanse leraars aan te vul en te help met die verengelsing van die Boerebevolking, as predikant aangestel asook ’n kerkraad bestaande uit die ouderlinge Robert Hart (ook een van Somerset-Oos se eerste drie heemrade) en F.J. van Aardt met die diakens Gideon Jordaan, Michael Bosch, Willem Prinsloo en P.M. Bester. Die eerste koster was Hendrik Waldeck teen ’n salaris van Rds. 25, “benevens de gewone bijlagen en inkomsten hem toekomende bij het bedienen des Doops, het bevestigen van Huweliken”. “Gelukkig het die mense in daardie dae baie getrou en is daar groot getalle gedoop en aangeneem,” skryf eerw. Andries Dreyer in 1935 in sy Gedenkboek van die Nederduits-Gereformeerde Kerk Somerset Oos, “want sy hele salaris het net ’n bagatel verteenwoordig.”
Die eerste voorlesers was George Aldrich, want teen ’n ietwat ruimer salaris as die koster aangestel is. Hy het egter spoedig bedank en tot hy later heraangestel is, het die burger P.B. Botha in sy plek opgetree. Botha kon nie permanent aangestel word nie, want dit was ’n regeringspos en hy het nie Engels geken nie. ’n Latere voorleser was C. Muller. Die plig van die voorleser was om by die godsdiensoefeninge die voorgesange op te gee, die 10 gebooie te lees en van ’n verhogie voor die preekstoel ook voor te sing, want destyds was daar nog geen musiek-instrumente in die kerke nie.
Die gemeente was met sy stigting geweldig uitgestrek. Dit het die veldkornetskappe Bruintjes Hoogte, Zwagershoek, Baviaans Rivier, Oost-Rietrivier en Boschjesmans Rivier ingesluit. Daar bestaan geen vermelding van die lidmaattal nie, maar in 1838 is die sieletal op 2 633 bereken. Die distrik het ’n baie groot swart bevolking gehad en in 1825 het honderde van hulle die distrik ingestroom. Hulle was brandarm en het vir kos vir die boere gewerk. Hoewel slawerny toe nog wettig was in die kolonie en daar steeds slawe-eienaars in die distrik was, was dit verbode om swart slawe te besit. Baie van hulle het die boere moeite gegee, soos tydens ’n groot oploop van swartes in 1835 in die distrik toe die kerknotule melding maak “dat de broeder Carel Mattheus op zijn woonplaats door eene vijandelijke bende verraderlijk was vermoord”. In die notule van 16 April 1835 staan die volgende oor die saak: “De Vergadering met diepe leedwezen deze ongelukkige gebeurtenis betreurende heeft besloten om dezelve op de Notule van deze bijeenkomst te vermelde, om daaroor de nagedachtenis te bewaren van een achtenswaardig medelik wiens voorbeeldige nederige en nuttige lewenswandel door vele Christelijke deugden verzierd is”.
Eerste kerkgebou
In 1834 besluit die kerkraad om die ou Wesleyaanse kapel op te knap en as pastorie in te rig. Hier het ds. en mev. Pears ook gewoon. Ds. Jan Hendrik Hofmeyr het tot 1908 hier gewoon en sy seun John Murray tot omstreeks 1940. Hierna is die huis aan laasgenoemde se seun dr. Jan-Hendrik Hofmeyr verkoop. In 1971 het die indertydse eienaar, K.S. Birch, die huis as ’n museum beskikbaar gestel en in 1972 het dit ’n provinsiale museum geword, wat bekendstaan as die Somerset-Oos-museum.
Die gemeente het nog in die jaar van sy stigting ’n predikant gekry, maar dit sou baie lank duur voor hulle in besit sou kom van ’n eie kerkgebou. Die landdros het ’n grootse plan aan die goewerneur voorgelê en selfs ’n skets van die gebou saamgestuur, maar soos graaf Bathurst met die stigting opgemerk het, dat daar geen geld daarvoor in die landskas nie.
Intussen het die gemeente aanbid in een van die ou regeringsgeboue van Somerset Farm wat hulle vir kerkdoeleindes ingerig het. Somerset Farm was ’n proefplaas wat lord Charles Somerset in 1815 laat aanlê het, gedeeltelik om die militêre troepe op die grens van proviand te voorsien en andersins om tabak te kweek vir uitvoer. Die terrein was ’n strook grond aan die voet van die pragtige Boschberg, wat tydens die bestuur van goewerneur Joachim van Plettenberg in besit van sy eerste eienaar gekom het, naamlik ’n sekere Willem Prinsloo.
Later is dit verdeel in twee leningsplase wat beset is deur die twee boere, Louis Trichardt en Bester. Trichardt was in 1833 die eerste Voortrekker wat dit oor die grense van die kolonie gewaag het. So suksesvol was Trichardt se tabakboerdery dat dit onder aandag van die goewerneur gekom het wat dit toe vir Rds. 200 (£165) laat onteien het. Die goewerneur het ’n bekwame plantkundige, dr. Mackrill, aangestel om die plaas te bestuur, maar die kweek van tabak was hierna ’n mislukking. As verversingspos vir die troepe was dit ’n gedeeltelike sukses, veral toe dit in 1817 onder die toesig kom van Robert Hart, Mackrill se opvolger. Pakhuise vir graan het verrys en vee is aangekoop wat weggestuur kon word wanneer benodig.
Die stigting het ontwikkel as depot sowel as proefplaas. Heelwat mense van alle rasse is in diens geneem en in 1821 begin eerw W. Shaw van die Wesleyaanse Kerk met godsdiensoefeninge, wat later, toe daar ’n kerkgeboutjie opgerig is, voortgesit is deur die sendelinge eerww. S. Kay en J. Ayliff. Dié kerkie is uiteindelik omskep in ’n pastorie vir die NG kerk.
Later het die goewerneur toestemming verleen dat die gemeente in die ou Drostdy kon aanbid. Blykbaar het die gemeente in die begin onder die wanindruk verkeer dat hulle op besondere behandeling van Somerset kon aanspraak maak omdat die dorp na hom genoem is. Hulle het gedurig by hom aangeklop en sy raad gevra omdat die kerk destyds die Staatskerk was en niks sonder sy toestemming gedoen mog word nie. Maar steeds was die antwoord teleurstellend weens die stand van die staatskas. Die kerkraad het selfs ’n versoek om skenkings aan die koloniale sekretaris, goewerneur, luitenant-goewerneur en ander hooggeplaastes gerig, maar die notule vermeld nie ’n oulap wat uit dié bronne ontvang is nie. So het die gemeente die les geleer dat hulle hulself moes help.
Lyste is toe in 1826 onder die mense in die distrik uitgestuur. Van diegene wat nie geld kon gee nie, sou die gemeente vee aanvaar. Met moeite is die lyste eers twee jaar later teruggegee en daarop was vir die bedrag van £560 geteken. Die luitenant-goewerneur, sir Richard Bourke, besoek die dorp in September toe die predikant, ds. Morgan, en die ouderling Hart hom versoek om ’n stuk grond as bouterrein vir ’n kerk. So staan hy ná ’n inspeksie ’n mooi stuk grond aan die suidelike punt van Beaufortstraat aan.
Dit het egter nog lank geduur voordat met die bouwerk begin is, want in Augustus 1828 het die goewerneur op ’n skrywe van die kerkraad geantwoord at hulle voorgestelde gebou ver te groot en te duur is en dat hy iemand gelas het om ’n plan op te stel vir ’n gebou met sitplek vir 300 mense. Die kerkraad besluit eenparig dat die voorgestelde plan veels te klein is omdat die gemeente toe uit 5 698 siele bestaan het en die huis wat as kerk gebruik is, hoewel dit meer as 300 sitplekke bied, met Nagmaalsgeleenthede so “opgepropt” is dat vele moet omdraai en ander glad nie eers opdaag nie. Die goewerneur het toegegee en gelas dat die aritek Shinnon ’n plan moet ontwerp met 600 sitplekke.
In 1829 is nog geen aanstalte met die werk gemaak nie en toe die tydelike kerkgebou is ’n slegte toestand raak en ongeskik vir gebruik word, het die Ring van Graaff-Reinet ’n memorie aan die goewerneur gestuur om te versoek dat die ou Drostdy gebruik mag word vir kerkdoeleindes tot tyd en wyl die nuwe kerkgebou voltooi is. Die goewerneur keur die versoek goed en toe hy in September 1829 die dorp besoek, het ds. Morgan en ouderling Hart weereens die groot behoefte aan ’n kerkgebou onder sy aandag gebring. Hulle rapporteer later aan die kerkraad dat hulle glo die goewerneur sou bereid wees om ’n lening van £700 aan die gemeente toe te staan en ook die toestand van die gemeente aan die regering in Engeland oor te dra.
Dié versoek is toegestaan en so kon die gemeente, met die lening en bedrag wat reeds deur lidmate belowe is, ’n begin gemaak word. Eers op 6 September 1830 is die bouplan goedgekeur vir die kerk met ’n binneruim van 75 by 40 voet (23 by 12 m, dus 276 m²), 20 voet hoog (6 m), met mure 2½ voet dik (0,75 m). Die toring voor die gebou sou 16 x 16 voet (4,89 x 4,89 m) groot wees. Aan die voorkant is ’n deur, en vier vensters voorsien, met dieselfde aan die teenoorgestelde kant. Die baasmesselaar was ene Sandilands van Graaff-Reinet en H. Waldeck het die tender gekry om die hout van Kowie Bos aan te ry teen Rds. 25 vir 800 voet se planke (244 m). Bandiete is gebruik om die bouwerk te help.
Hoeksteen gelê
Uiteindelik kon die hoeksteen op 25 Desember 1830 gelê word. Nêrens word vermeld wanneer die kerk ingewy is nie, maar dit het klaargekom, hoewel met baie moeite, want in die notule van die spesiale kerkraadsvergadering van 2 September 1833, wat ouderling Hart belê het, is gevra dat ondersoek moes ingestel word oor hoekom die bouwerk so langsaam vorder. Ene David McMaster het die tender vir banke gekry, maar toe hulle teen Julie 1837 nog nie klaar was nie, het die kerkraad hom met ’n boete gedreig. Die bepaling was dat elke lidmaat vir hul eie bank sou betaal, maar dié betaling sou eers begin nadat die bedrag wat oorspronklik aan McMaster toegestaan is, uitgeput is. Die banke sou in drie klasse verdeel word van voor na agter in die kerk. Die duurste sitplekke voor het jaarliks Rds. 3 gekos, die middelste Rds. 2½ en die agterste Rds. 2. Dié bepalings sou geld van 1 Januarie 1834 sodat dit waarskynlik was toe die kerk ingewy is. In die beginjare is daar elke Sondag om die beurt ’n diens in Hollands en Engels gehou en dit het so voortgeduur tot omstreeks 1846 toe ’n Skots Presbiteriaanse kerk op die dorp gestig en die Engelse dienste afgeskaf is.
Eerste drie predikante
Somerset-Oos se eerste leraar was ds. George Morgan. Hy neem in 1841 ’n beroep aan na die Presbiteriaanse kerk in Kaapstad en ds. John Pears volg hom in dieselfde jaar op en word op 24 Oktober bevestig. Ná Pears se afsterwe in die pastorie, dien ds. Jan Hendrik Hofmeyr van 1867 tot 1908. Hy was getroud met ’n dogter van ds. Andrew Murray sr. en die egpaar het, net soos mev. Hofmeyr se ouers, vyf seuns gehad wat predikant geword het. Een van die seuns, John Murray Hofmeyr, was eers hulpprediker van 1907 en van sy pa se dood af predikant tot 1940. In die eerste 115 jaar van sy bestaan het die gemeente dus net vier predikante gehad.
Tweede kerkgebou
Een van die eerste sake waaraan ds. Hofmeyr sy aandag gegee het, was kerkbou. Die ou kerk met sy rietdak was bouvallig en boonop te klein. In 1869 is besluit om ‘n baie groter kerk op dieselfde terrein aan die suidelike punt van Beaufortstraat op te rig. Dit was destyds op baie dorpe die gebruik om die kerk aan die punt van ‘n straat te bou sodat daar ‘n onbelemmerde uitsig op die gebou was. ‘n Paar stukke muur van die ou gebou is gebou, maar die res was heeltemal nuut na die plan opgetrek deur die Duits gebore argitek Carl Otto Hager. Die inwyding het plaasgevind op 17 November 1871. Die feesvieringe het die Donderdag al begin toe lidmate van die distrik op die dorp begin aankom het. Die hotelle was gou vol sodat privaat gesinne verblyf aan die lidmate moes verskaf. Dieselfde middag is ‘n kerkbasaar ter stywing van die boufonds in die pakhuis van ene mnr. Webb gehou. Die opbrengs was £73. Die volgende môre kon die plegtighede in verband met die inwyding van die kerkgebou begin.
Die toring was nog nie heeltemal voltooi nie, die muur rondom die perseel nog nie klaar opgetrek nie en ook was die verfwerk nog hier en daar nie klaar nie, maar omdat die inwydingsdag lank vooraf reeds bepaal is, moes die gemeente daarmee voortgaan. Tienuur die oggend het lidmate en ander belangstellendes by die saal van die Gill-kollege byeengekom waar ds. Georg Stegmann van Glen Lynden ‘n kort gebed doen. Die hele “stoet” (soos die beskrywing in Het Volksblad die optog noem) begewe hulle toe in prosessie na die kerk wat deur ds. Hofmeyr in die Naam van die Drie-enige God geopen is. Die koor het ‘n “Inwydingsanthem” gesing wat ‘n plaaslike amateur gekomponeer het en daarna preek ds. Charles Murray, ‘n swaer van die predikant, na aanleiding van 2 Kronieke 7:12: “En de HEERE verscheen Salomo des nachts, en Hij zeide tot hem: Ik heb uw gebed verhoord, en heb Mij deze plaats verkoren tot een offerhuis.” Die koor sing tydens die oggenddiens nog enkele liedere.
In die namiddag preek ds. Steyler van Uitenhage in Engels voor ‘n talryke skare. Die Saterdagoggend hou dr. Adrian Roux van Riebeek-Oos ‘n ernstige voorbereidingspreek en die namiddag preek ds. Stegmann vir die kinders. Die Sondag bereik die inwydingsnaweek sy hoogtepunt met die Heilige Nagmaal, waar dr. Roux en di. Murray, Du Plessis, Muller, Steytler, Stegmann en Hofmeyr. Met inbegrip van die basaar bedra die naweek se opbrengs amper £600, £40 meer as wat die lyste in 1828 in twee jaar kon inbring. Mnr. Hagar, die boumeester, is geprys vir die bekwame wyse waarop hy sy kontrak vervul het en kry £100 as geskenk uit erkentlikheid. Die Maandag word vir die Sondagskoolkinders ‘n piekniek gehou, waartoe ook die kinders van die ander kerkgenootskappe uitgenooi is. Het Volksblad sluit sy berig af: “Des Dinsdags was het weder even stil als gewoonlijk op het dorp.”
Predikante
- George Morgan, 1826–1841
- John Pears, 1841 – 18 Junie 1866
- Jan Hendrik Hofmeyr, 1867 tot 25 Augustus 1908
- John Murray Hofmeyr, 1907–1940
- Izak Jacob Viljoen, 1940–1956
- Johannes Hermanus Frier, 1944–1946
- Gabriël Jacobus Lotter, 1947–1963
- Hendrik Johannes de Vos, 1956–1965
- Stephanus Johannes Hofmeyr van der Spuy, 1964 – 18 November 1969
- Hercules Philippus Malan, 1966–1970
- Nikolaas Jacobus du Toit, 14 Maart 1970–1974
- Heinrich Franz Heymann, 23 Januarie 1971 – April 1976
- Carel Aaron Anthonissen, 1975–1979 (asook sendingkerk)
- Johannes Jochemus Eucharistius Koornhof, 1976–1981
- Barend Hermanus Smit, 1980 – 23 Julie 1987
- André Schmidt, 1982–1987
- Jan Frederick Marais, 1987–1991
- Petrus Jacobus Naudé, 1990–1992
- Adriaan Ferreira van der Merwe, 1991–2002
- Petrus Johannes Bester, 1992–2002
- Hermanus Venter Burger, 1992–1999
- Izak Johannes van der Merwe, 1995–2000
- Christoffel Johannes du Raan, 2002 – hede
- Ferdinand Pieter Louw, 2004–2008
- Deon André Els, 2010 – 7 Februarie 2016
- Johan Orsmond, 22 Januarie 2017 – hede