
gestig
1901
eerste predikant
Ds D du P Steyn
Die NG Gemeente Salisbury was ‘n gemeente in die Sinode van Midde-Afrika.
Nog voor 1890 het die Sinode van die Kaapse Kerk die Buitelandse Sendingkommissie versoek om verslag te doen oor die Hollandsprekende lede van die NG Kerk in Mashonaland. Dit was besef dat baie van ons kerk se mense saam met die eerste trekke die land binnegekom het en dat die kerk daarna byna alle kontak met hulle verloor het.
In 1890 is die rapport van die Kommissie oor Mashonaland aan die Sinode voorgelê. As gevolg van die rapport is onder meer besluit:
(a) om so gou moontlik twee predikante te stuur na Mashonaland,
(b) om met hulle terugkeer twee ander predikante te stuur om sodoende nie die werk te onderbreek nie,
(c) dat die Moderatuur volmag sou hê om, waar nodig, gemeentes te stig,
(d) dat ‘n milde skenking wat ontvang is van Cecil John Rhodes vir hulpbehoewende gemeentes, gedeeltelik gebruik sou word om die onkoste in verband met die besoeke te dek.
Ds. Adriaan J.L. Hofmeyr van Prins Albert en Ds. C.W. Stegmann (Willie) is gekies om die eerste besoek aan Mashonaland te bring. Op 31 Maart 1891 het hulle van die dorpie Prins Albert vertrek. In Julie van dieselfde jaar het hulle in Salisbury aangekom.Gedurende hulle besoek aan Salisbury het Ds. Hofmeyr en Ds. Stegmann ‘n brief ontvang van Dr. Harris, die Sekretaris van die B.S.A. maatskappy, waarin hy beloof het dat die maatskappy aan die kerk grond sou gee vir ‘n kerkgebou, pastorie en uitspanplek, in elke dorp waar daar ‘n gemeente gestig word.
In 1892 kon niemand gevind word om Mashonaland te besoek nie. Onophoudelik is pogings egter aangewend om iemand te vind wat in Mashonaland kon kom werk en op 12 April 1893 is Prop. Paul Nel op Stellenbosch georden as die eerste predikant van Mashonaland; oorspronklik het hy homself geroepe gevoel om sendingwerk te doen maar was gewillig om onder die blankes te dien.
Op 30 Junie 1893 het ds. Nel in Salisbury aangekom waar hy hartlik deur die mense van ons kerk verwelkom is. Vir so lank het hulle nie ‘n predikant van ons kerk gesien nie en was dus te meer dankbaar om hulle eie leraar in hulle midde te ontvang. Ds. Nel het die eerste diens op die Sondag nadat hy aangekom het in die hofsaal gehou; dit word vertel dat daar 20 mense teenwoordig was. Solank as wat hy hier was het hy in die oggende in Afrikaans dienste gehou en in die aande in Engels.
Nadat Ds. Nel ‘n insae gekry het in plaaslike omstandighede, het hy by die Moderatuur aanbeveel dat daar ‘n pastorie en kerk in Salisbury gebou moes word, dat ‘n tweede predikant na Mashonaland gestuur moes word en dat Fort Charter ook ryp was vir die stigting van ‘n gemeente.
Teen die einde van 1893 het die Matabele oorlog uitgebreek met die gevolg dat baie van die inwoners begin wegtrek het. Ds. Nel moes vaarwel se aan sy planne om ‘n kerk te bou aangesien daar niemand oorgebly het om onder te werk nie. Hy is terug na die Unie. Nadat die onluste bedaar het, het die pioniers in 1894 weer begin terugtrek, veral na Matabeleland. Daar die Moderatuur bekommerd was oor die sieleheil van die trekkers is op 7 Maart 1895 aan ds. Strasheim van Wynberg opdrag gegee om Rhodesië te besoek. Toe ds. Strasheim in Mashonaland aangekom het in Oktober 1895 het hy tussen Salisbury en Umtali net 21 lede van die N.G. Kerk gevind.
Daar die grootste aantal Hollandsprekendes hulself in Matabeleland gevestig het is die eerste gemeente in Rhodesië op 6 September 1895, met ‘n sieletal van bykans 250, in Bulawayo gestig. ‘n Algemene Kerkraadsvergadering, te Bulawayo, is belê op 2 Desember 1895 ten einde beter organisasie en samewerking te bevorder. Verteenwoordigers van Umyati, Victoria, Melsetter en Salisbury het die vergadering bygewoon. Salisbury se verteenwoordigers was Petrus Hendrik Viljoen en Jan Stephanus Groenewald. By hierdie vergadering is besluit om ‘n predikant te beroep teen ‘n salaris van £500 per jaar. Die leraar moes gedurende die droë maande Salisbury en ander dorpe besoek en gedurende die reëntyd moes die lede te Bulawayo bearbei word.
STIGTING VAN SALISBURY GEMEENTE
Kort na die reëns in 1901 opgehou het, het Eerw. Liebenberg weer na Salisbury gekom om sy werk bier voort te sit. Op aandrang van die Hollandsprekendes het hy op 28 Mei 1901 ‘n gemeente in Salisbury gestig. (Dit wil se ‘n voile vier jaar voor 1905 wat deur baie beskou word as die stigtingsdatum van die gemeente).
In 1903 het Ds. H. C. de Wet in opdrag van die Sinode, Salisbury besoek. Die hofsaal is tot sy beskikking gestel vir dienste die opkoms was egter baie swak en dikwels was nie meer as 20 mense teenwoordig nie. Ds. de Wet het rapporteer dat daar ‘n gees van wêreldgesindheid te bespeur was. Daar was toe omtrent 150 siele in die gemeente.
Ds. J. N. Geldenhuys wat in April 1904 te Bulawayo bevestig was, was die eerste gevestigde predikant in die land. Alhoewel die Salisbury gemeente reeds vier jaar bestaan het, het die gemeente nog nooit ‘n eie predikant gehad nie. Toe Ds. Geldenhuys Salisbury in 1905 besoek het, het hy gevind dat die gemeente aansienlik gegroei het. ‘n Gemeente vergadering is byeengeroep, die gemeente is herstig, en tot die Ring van Hopetown gevoeg. Later in die jaar het Ds. Geldenhuys op die Ring van Hopetown verslag gedoen oor die werk en die mening uitgespreek dat Salisbury ‘n predikant moes beroep. Die Ring het besef dat dit alleenlik kon geskied mits die Kommissie van Hulpbehoewende Gemeentes £200 per jaar tot die leraar se salaris sou bydra.
Twee jaar later het dit die gemeente geluk om hulle eerste predikant te kry toe Ds. D. du P. Steyn ‘n beroep aangeneem het. Hy is op 19 Januarie 1907 te Salisbury deur Ds. Geldenhuys bevestig. Die gemeente het verlang om hulle eie kerkgebou te besit en, nadat die erwe wat hulle van die regering ontvang het, wat naby die Koppie geleë was, verruil is vir die erwe in Jamesonlaan is besoek afgelê na drie gemeentes in die Vrystaat en dertien in die Kolonie om fondse in te samel. Dit blyk dat die grootste indiwiduele skenking ontvang was van mej. Robertson van Wepener wat £50 gegee het. Ondermeer het mnr. P. Schoeman van Oudtshoorn twee silwer kollektebordjies en Prokureur A. J. Murray, ook van Oudtshoorn, die doopbak, gegee; mnr. R. Pringle van Glen Leyden het die nagmaalservies geskenk. As gevolg van die insamelings in die Unie het die gemeente genoeg fondse in die kas gehad (£880) om hulle in staat te stel om die kerk en pastorie gelyktydig te begin bou. Om geld te bespaar het die Kerkraad besluit dat hulle self die twee geboue sou oprig en Ds. Steyn is benoem om die werk te bestuur.

Op die 14de Mei 1908 is die hoeksteen van die kerkie deur die Administrateur, in teenwoordigheid van Di. Steyn en Geldenhuys, gelê.
Bron: Feesprogram Ned.Geref. Gemeente Salisbury 23-31 Mei 1959
Dogtergemeentes
1917 Umtali
1943 Gatooma
1949 Sinoia
1951 Marandellas
1954 Salisbury-Suid
1970 Bindura
Predikante
- D du P Steyn, 1907 – 1908
- D R Kotze, 1911 – 1916
- A J Olivier, 1913
- W C Malan, 1916
- B J Klopper, 1916 – 1921
- A J Olivier, 1921 – 1922
- P P van der Merwe, 1923 – 1925
- J A Pienaar, 1925 – 1931
- H J C Snyders, 1934 – 1937
- H C de Wet, 1937 – 1944
- J F Minnaar, 1944 – 1946
- J D de B Joubert, 1947 – 1955
- H C de Wet, 1950 – 1951
- C H Delport, 1953 – 1954
- C B Zietsman, 1956 – 1960
- L F van Niekerk, 1961 – 1964
- Alric T Kemp, 1965 –
- Frederik Swanepoel, 1966 – 1970