NG Gemeente Salisbury-Suid

NG Gemeente Salisbury-Suid

gestig

2 Maart 1954

Die NG Gemeente Salisbury-Suid was ‘n gemeente in die Sinode van Midde-Afrika

Die gemeente Salisbury-Suid is op 24 Maart 1954 tot selfstandige gemeente afgestig met ds. J.D. de B. Joubert, van Salisbury, as eerste konsulent.

Ds. en mev. C.H. Delport, voorheen van Salisbury, is ontvang as eerste leraarspaar en op Saterdag 18 Julie 1954 is die bevestigingsrede gelewer deur eerw. S. van Wyk na aanleiding van Lev. 10:3.

Die gemeente is afgestig van die moedergemeente Salisbury met al die woongebiede suid van die hoof-spoorlyn tot by Beatrice, tesame met die plase van Enkeldoorn suid van die Umfuli-rivier. As deel van bruidskat het die gemeente ‘n kerksaaltjie en pastorie ontvang.

Die Hatfield kerksaaltjie wat grootliks deur die inwoners van hierdie omgewing self gebou is, en in 1936 ingewy is, kon toe dadelik dien as kerkgebou. Die hoeksteen is deur H.E. Lady Stanley op 8 Februarie 1936 gelê.

Die latere teruggawe van ‘n deel van die gemeente aan die moedergemeente, het die gemeente nie net kleiner gemaak nie, maar dit het ook die kerksaaltjie en pastorie tot by die noordelike grens van die gemeente gebring. So het dit dan gekom dat grond meer sentraal bekom moes word.

Te Beatrice is ook ‘n kerksaal opgerig wat in 1958 ingewy is en waarvan die hoeksteen deur ds. Delport gelê is. Die ou preekstoeltjie, gemaak deur br. Tom Fourie, wat diens in die Hatfield saaltjie gedoen het, is in 1963 na Beatrice oorgeplaas.

In 1958 het ds. C. H. Delport ‘n beroep na die Zoekmekaar gemeente aangeneem en daarna was die gemeente baie lank vakant. Dr. S.F. Weich, emeritus, kon die laaste periode van die vakature hier waarneem.

Met die koms van ds. W.T. Badenhorst vanaf Ladismith, K.P. in Februarie 1960, was dit dan ook sy eerste taak om aandag te gee aan meer sentrale plek van aanbidding. Die nuwe kerksaal in Parktown se gedenkplaat is op 2 Julie 1961 deur ds. Badenhorst onthul. Die inwyding het op 7 Oktober 1961 plaas gevind met ‘n dankbare skaar van ongeveer 400 belangstellendes. Die optog het van die Hatfield saal plaasgevind waar ds. Louw eers geskiedkundige praatjie gelewer het. Die kanselbybel en gesangboek is deur brs. J.P.B. Pieterse en A.G. Jooste onderskeidelik op die preekstoel van die nuwe kerksaal geplaas. Die Hatfield-saal wat nou uitsluitlik vir die jeug van die gemeente gebruik word, het ‘n maksimum sitplek-ruimte van 158 gehad saam met die stoep. Die nuwe saal bied ruimte aan 310 sitplekke. Die koste van die nuwe kerksaal was ongeveer £15,000 wat binne drie jaar afbetaal was. ‘n Lening van £5,000 moes aangegaan word.

Meer stoele, asook ander meublement, is met die loop van die jare aangekoop en van verskillende lidmate is van tyd tot tyd meublement as geskenke ontvang. Met die inwyding is ‘n nuwe klavier aangekoop, en die orreltjie is aan die begin van 1964 aangekoop met ‘n rentelose lening deur br. Schalk Oosthuizen. Die nuwe preekstoel is op 22 September 1963 in gebruik geneem en deur diaken J. J. Arangies gemaak. Die bywoning van dienste in die nuwe saalkerk het onmiddellik verbeter omdat die saal meer sentraal geleë is.

Die ou pastorie, gelee in 86 Twentydalesweg, Hatfield, was egter nog 5¾ myl vanaf die nuwe kerksaal. Op 1 julie 1969 kon ds. En mev. Badenhorst na ‘n nuwe en gerieflike pastorie oorskuif – 118A Montgomery Rylaan – wat ongeveer £ 8 000 gekos het.

Op 1 Julie 1969 was die lidmaattal 572 en die kerkraad bestaan tans uit  44 lede.

Na ‘n dienstyd van 10 jaar het ds Badenhorst ‘n beroep na Hendrina aangeneem, en op 8 Februarie 1970 het hy van die gemeente afskeid geneem. Dit was sy vierde beroep.

Die volgende het as skribas en kassiers gedien, nl R.H. Landman, J.P. Fourie, P.C.W. Jooste (tans adjunk-saakgelastigde van die Sinode van Midde-Afrika), J.A.G. Jacobs, F. Nel en S. Coetzee. Die huidige skriba/kassier is br. A.G. Jooste.

Die volgende het as skriba/registers gedien, nl. S. Wessels, S.J. Grobler, en A.G. Jooste.

Die volgende het as kosters gedien, nl. Mev A. Smith en brs. S.J. Grobler, J.F. Viljoen, T.J. van Schalkwyk, P.J. Rossouw. Die huidige koster is br. A.W.J. Delport.

Die volgende het as werksters gedien, nl. Mejj Theron, Visser en mevv. F.E. Badenhorst en S.S. Badenhorst. Die huidige werkster is mev. V.R. van Schalkwyk.

Die volgende het as orreliste gedien, nl. Mej. Babs de Villiers (nou Marshall) mej Janetta Jooste (nou van der Merwe), en mev ds Badenhorst. Mej Coreen Smith neem tydelik waar as orreliste.

Die Bothashof-kerkskool met ds A.F. Louw as Direkteur, val ook in Salisbury-Suid gemeente. Ds A.F. Louw die ook die gemeente as mede-leraar met Bothashof as standplaas.

Die volgende verenigings bestaan in die gemeente, nl. Die Rhodesiese Christelike Vroue Vereniging, Midde-Afrikaanse Vroue Sending Vereniging, Kerkjeugvereniging en Kinderkrans.

Bron: Ned. Geref. Kerk Midde-Afrika 70: 1895 -1970