gestig
1 Julie 1949
Die NG Gemeente Rusape was ‘n gemeente in die Sinode van Midde-Afrika.
Van die tyd toe die getalle lidmate van ons kerk dit geregverdig het, is die lidmate in die omgewing van Inyazura tot by Headlands deur die leraars van Umtali bedien. Hulle het in die vroeë jare dikwels met die ossewa of te perd gekom om huisbesoek te doen, dienste te hou en die sakramente te bedien. Sommige van daardie eerste inwoners van die omgewing, of dan van hulle nageslag, is vandag nog lidmate van die huidige gemeente. Dit is dan ook in hierdie vroeë tydperk dat twee kerksale, nI. op Headlands en op Inyazura, deur die inisiatief en ywer van die plaaslike lidmate opgerig is. ‘n Plek van aanbidding en samekoms moes daar wees! Die SaaI op Inyazura is gebou op ‘n perseel wat deur mnr. Harry Margolis aan die N.G. Kerk geskenk is, terwyl mnr. Ryk Fisher van Headlands nie slegs die grond geskenk het vir die Saal daar nie, maar ook die hoeksteen gelê het. In albei gevalle is die bouwerk deur lidmate self behartig en kon die sale in 1930 (Headlands) en 1935 (Inyazura) in gebruik geneem word.
Stigting van Gemeente
Met die toenemende uitbreiding in die Hoëveld het dit egter duidelik geword dat die bediening beter kan geskied indien ‘n afsonderlike gemeente gestig word. Na die voorlopige ondersoek en goedkeuring van die Ring van Bulawayo het die afstigting dan op 1 Julie 1949 plaasgevind onder leiding van die voorsitter van die Ringskommissie, ds. A.B. Wessels. Die notule van die Ringskomrnissie vertel dat oudl. S.A. de Kock by die geleentheid ‘n ernstige pleidooi gelewer het dat daar ‘n sterk eenheidsband tussen die drie groot wyke, t.w. Rusape, Inyazura en Headlands, sal groei en dat daar gewaak sal word teen ‘n driedelige gemeente. Dit sou geen maklike en vanselfsprekende ideaal wees nie – ‘n probleem wat eie is aan etlike gemeentes in Rhodesië. Deur doelgerigte arbeid deur die jare is hierdie ideaal van eenheid van die dele egter in ‘n groeiende mate verwesenlik, veral met die latere oprigting van die kerkgebou op Rusape. Alhoewel daar vandag nog met groot sukses wyksbasaars gehou word, is die kerkgebou die plek waar die gemeente as geheel saamtrek en waar die gevoel van eenheid konkreet ervaar en gevoed word.
Kerkraad
By geleentheid van die afstigting word toe die volgende kerkraadslede gekies: Ouderlinge: A.M. Nysschen, A.P. van Heerden, D.M. de Kock, M.J. Martin. H. de Waal, W.J. van Tonder, J.P. du Plessis en A.I. Holloway, en diakens J.C.A. Welman, J.A. van der Merwe, M.du T. Hoffman, G.J. Delport, J.G. Crous, A.M. Swart, P.J. Fouche en F.C. Muller. Ses van hierdie broeders is reeds oorlede en tans dien twee van die broeders, t.w. M.J. Martin en J.G. Crous nog in die kerkraad.
Net ‘n maand na afstigting, op 2 Augustus 1949, word die eerste kerkraadsvergadering onder voorsitterskap van die konsulent, ds. A.B. Wessels gehou, en word die bal aan die rol gesit vir die werksaamhede van die gemeente. As eerste skriba word br. W.H. Boshoff (P.Sn) en as eerste kassier br. J.J. Alberts gekies. Laasgenoemde, asook ses van daardie eerste kerkraadslede woon nog in die gemeente.
Die aantal kerkraadslede sou nie lank of 16 bly staan nie, want die Hoëveldstreek was bestem om vinnig uit te brei op landbougebied, veral as gevolg van die bloeiende tabaknywerheid. Sedert afstigting het die lidmaattal dan ook bestendig gegroei tot in die sestigerjare, veral as gevolg van die ontwikkeling van nuwe plase in dele soos Inyati, Rathcline en Mayo Ranch. Daar moes spoedig meer wyke gevorm word en meer kerkraadslede gekies word om beter bediening te verseker, sodat die sestien van die begin aangegroei het tot 24 vir die huidige twaalf wyke van die gemeente.
Boukommissie
Ten tye van afstigting het die gemeente net beskik oor die twee sale op Headlands en Inyazura waarna vroeër verwys is, en daar moes dadelik werk gemaak word met die daarstelling van ‘n saal en pastorie op Rusape. Derhalwe is daar reeds op die eerste kerkraadsvergadering besluit om ‘n boukommissie te benoem, bestaande uit: J.P. de Kock (voorsitter), A.M. Swart. F. Muller, I.A. van der Merwe, M.J. Martin, P.A. le Roux en W.H. Boshoff (skriba). Naas die opstel van die nodige planne. is dadelik aandag geskenk aan die insameling van fondse. Met die gevolg dat toe die voorsitter van die boukommissie minder as ‘n jaar later (op 30 Mei 1950) sy verslag i.v,m. die koste van die saal en pastorie aan die kerkraad voorlê, en meedeel dat die oprigting van die twee geboue sowat $30,000 sou kos, was helfte van die bedrag ook reeds veilig in die bank! Daarom kon die kerkraad die tender van kontrakteur A. B. Mentz vir die bou van die saal teen ‘n bedrag van 8,661 spoedig daarna aanvaar. Op 23 Januarie 1951 word die voltooide saal op Rusape afgelewer – ’n ruim gebou met pragtige Hollandse gewels en sitplek vir omtrent 300 persone. Maar die ingebruikneming vind eers vier maande later, op 26 Mei, gelyktydig met die ontvangs van die eerste leraar, plaas.
Kerksaal op Mayo
Die behoeftes van die buitewyke het steeds die aandag van die kerkraad geniet, want daar moes gesorg word dat diegene wat ver van die kerksentrum af gevestig is, wel bedien word met Woord en sakrament. Daarom is dit begryplik dat reeds so vroeg as die kerkraadsvergadering van 10 November 1949, skaars vyf maande na afstigting. Ouderling Nysschen se voorstel dat die kerkraad oorweging daaraan skenk om ‘n saal op Mayo – die mees noordelike buitewyk, ongeveer 60 myl van Rusape – te bou. In die omgewing was heelwat boere saamgetrek en hulle is van die res van die gemeente geskei deur ‘n reservaat. Daar was dus die baie sterk behoefte aan ‘n vergaderplek vir godsdiensoefening en kulturele byeenkomste. Ten spyte van probleme met die plasing van die saal, vorder die planne steeds, en word later die aanbod van br. M. G. Willemse van ‘n stuk grond langs die grootpad aanvaar. Die kerkraad dra dan self ook ruim by tot die boukoste, en die lidmate van die wyk vind verder die nodige fondse sodat die saal in 1958 ingebruikgeneem kon word – weereens sonder skuld.
Leraars
Byna twee maande na die afstigting van die gemeente, op 23 Augustus 1949, word die eerste beroep uitgebring, nI. ds. C. A. du Plessis, destyds van Senekal. Die groslys by daardie geleentheid was nie minder as twintig name nie. Daar moes natuurlik rustende kerkraadslede die vergadering bygewoon het! Ds. du Plessis bedank egter, en so doen ook die volgende ses predikante wat beroep word. Op 20 Januarie 1951 word ds. A.M.de V. Esterhuizen, toe van Melsetter, beroep uit ‘n groslys van vyf name, waaronder drie proponente. Hy neem die beroep aan en word met groot dankbaarheid op 26 Mei daardie jaar ontvang en bevestig as eerste leraar van die gemeente. Slegs vier jaar later, in 1955, word ds. Esterhuizen egter siek en blyk dit selfs na ruim siekteverlof, dat hy nie met sy bediening in Rusape sal kan voortgaan nie. In September van daardie jaar aanvaar hy sy emeritaat.
Nog voor die vertrek van ds. Esterhuizen, besluit die kerkraad om ‘n proponent se dienste te verkry en begin prop. J. H. van Niekerk saam met ds. Esterhuizen die gemeente te bedien. Na laasgenoemde se emeritaat word prop. van Niekerk dan ook beroep en in Januarie 1956 as leraar bevestig. In 1959 neem hy ‘n beroep na Melsetter aan en neem op 29 Mei van die gemeente afskeid. Ds. van Niekerk bedien tans die gemeente van Gwelo – sy derde gemeente in die vyftien jaar wat hy onafgebroke in Rhodesië arbei.
Die vakature sou gelukkig nie baie lank duur nie, want met die vyfde beroep word ds. P. de V. Grobbelaar van Moorreesburg beroep, nadat hy reeds ‘n vorige keer bedank het, en kon die gemeente hom op 28 Februarie 1960 as herder en leraar verwelkom.
Kerkbou
Gedurende die dienstyd van ds. Grobbelaar word dan ook die ideaal van kerkbou verwesenlik – nadat dit baie lank gekoester is en op een stadium weens die staatkundige verwikkelinge amper skipbreuk gely het.
Op ‘n kerkraadsvergadering van 22 Junie 1956 word onder die item ,,Kerkboufonds” ‘n bespreking gevoer en die volgende voorstel van diaken (later ouderling) H.J. Meyer en diaken R. Els aanvaar: ,,Dat nieteenstaande die bedrag waaroor die kerkraad tans beskik (ongeveer $6,000) daar ook met tyd en gereeld, gereël sal word vir uitgebreide, georganiseerde insameling deur die gemeente ten behoewe van die kerkboufonds. Wanneer en hoedanig so ‘n insameling sal plaasvind, kan later deur die kerkraad bepaal word.”
Hierdie voorstel gee aanleiding daartoe dat elke moontlike bedrag vir daardie doel afgesonder word, en spoedig groei die bedrag tot $10,000. Elke nou en dan is die saak maar weer onder bespreking deur die kerkraad, totdat ouderling M.J. Martin op 30 Maart 1960 voorstel dat die kerkraad nou oorgaan tot die oprigting van ‘n kerk op Rusape.
Daar en dan word ‘n kommissie benoem om ondersoek in te stel, en toe hulle drie maande later verslag doen, word daar eenparig op voorstel van ouderlinge H. de Waal en S. T. Malan besluit ,,om daadwerklik oor te gaan tot die oprigting van ‘n kerk op die perseel op Rusape.
Op een stadium is daar weer getwyfel en word met meerderheid van stemme besluit om die bou vir ‘a jaar uit te stel (kerkraadsvergadering gehou 15 November 1961). Maar veertien dae later word ‘n buitengewone kerkraadsvergadering gehou en word op voorstel van ouderlinge H.J. Meyer en M.J. Martin besluit om dadelik met die bouery voort te gaan. As argitek word mnr. W. Bronkhorst van Kaapstad aangewys en die bouwerk word onderneem deur Langlaagte Bougenootskap. Op 30 Junie 1963 word die toringkerk ingewy met prof. A.B. du Preez, van die Teologiese Fakulteit in Pretoria as prediker. Weereens is die dankbaarheid groot want daar bly geen skuldelas oor nie. ‘n Jaar na die inwyding van die kerk kon die orrel, geskenk deur die susters, in gebruik geneem word, met mevr. A. B. de Waal as eerste orreliste.
Die vreugde van die inwyding is enigsins gedemp deur die nuus dat ds. Grobbelaar ernstig siek is en ‘n groot operasie moes ondergaan.
Deur die genade van die Here was die operasie wonderlik geslaag en kon hy later dieselfde jaar sy gemeentelike pligte hervat. Twee jaar dien hy nog in die gemeente met veel seën en vrug, maar aanvaar op advies van sy geneesheer sy emeritaat in November 1965. Hy bly egter nog ‘n jaar in die gemeente en behartig deeltyds die dienste gedurende die vakature, wat op 3 Desember 1966 gevul word met die bevestiging van ds. S. Boshoff, leraar van die gemeente by die opstel hiervan.
Bron: Ned.Geref.Kerk Midde-Afrika 1895 – 1970 – 75