NG Gemeente Reebok

Die NG kerk Reebok. FOTO: Verskaf

Gestig

 1 Maart 1999

Afgestig van

Hartenbos

Ring

Mosselbaai

Adres

Impalalaan 58, Reebok, Klein-Brakrivier

Webtuiste

www.ngkreebok.co.za

Sluit in

Fraai Uitsig, Klein-Brakrivier, Reebok, Riverside

Eerste predikant

Ds. G.L. van Dyk (1999-hede)


Die NG Gemeente Reebok aan die Suid-Kaapse kus is in 1999 gestig. Dit is dus een van die jongste gemeentes in die Sinode van Wes-Kaapland, waar amper al die gemeentes wat sedert 1990 gestig is, aan die kus geleë is, waaronder Grootmist (1993), Suidpunt (1996), Onrusrivier (2001), Danabaai (2004) en St. Helenabaai (2005).

Agtergrond

Aan die begin van die twintigste eeu was op Reebok ’n paar strandhuisies onderkant die treinspoor wat hoofsaaklik aan die families Le Roux en Olivier behoort het. Hulle was almal boere van Oudtshoorn se wêreld. Hulle het die grond gekoop van die eienaar, H.J.G. de Jager. Sy plaas, Rheboksfontein, het gestrek tot aan die see.

Dié strook tussen die treinspoor en die see was vir De Jager nutteloos aangesien hy met vee geboer het en die trein ’n gevaar vir sy vee ingehou het. Hy het die stuk grond aan hulle verkoop. Op 23 Augustus 1910 het Ockert Fourie namens die 10 eienaars die oordrag van die grond onderteken. Die grootte van die stuk grond was nagenoeg 18 ha en die koopprys £50. Die plekkie het toe bekend gestaan as Strand Rust.

In die middel vyftigerjare van die twintigste eeu het groot belangstelling vir hierdie gebied bokant die treinspoor opgevlam. ’n Gedeelte van die plaas Rheboksfontein is geoormerk vir dorpsontwikkeling. Op 8 Februarie 1956 het die afdelingsraad in beginsel goedkeuring verleen vir dorpstigting en is dit as dorpsgebied geproklameer. De Jager het ’n stuk grond geskenk vir ’n kerk en pastorie.

Die nuwe dorpsgebied het vinnig en met rasse skrede gegroei en gou ’n gesogte woonbuurt geword. Die naaste NG kerk was egter op Mosselbaai (sowat 30 km hiervandaan).

Sonsopkoms oor die see met die NG kerk Reebok se toring op die voorgrond. FOTO: Verskaf

Groei

In 1962 het Hartenbos afgestig van Mosselbaai met Reebok as ’n wyk van die nuwe gemeente. Hartenbos het later ’n gemeentesentrum op Reebok gebou om al die lidmate te akkommodeer en ’n derde leraar beroep met standplaas Reebok. Aan die begin van 1999 het die Reebok leraarswyk net oor die 700 siele getel.

Nadat al die nodige vereistes nagekom is, het Reebok op 1 Maart 1999 van Hartenbos afgestig. Sedertdien is die gemeentesentrum (kerk) vergroot deur ’n saal aan te bou, wat deel uitmaak van die binneruim van die kerk, asook ’n kantoor, ekstra kombuis, ’n kleuterlokaal en pakkamer.

Eerste predikant

Onmiddellik ná die stigting van die nuwe gemeente het die teenwoordige belydende lidmate ’n kerkraad verkies, wat ’n week later deur die konsulent in hul amp bevestig is. Op die nuwe kerkraad se eerste vergadering net ná die erediens is ds. G.L. van Dyk as leraar beroep. Op 21 Maart 1999 is hy as eerste leraar van die NG Gemeente Reebok bevestig.

Predikante

  • Ds. G.L. van Dyk, 1999 – hede (oorgekom van Hartenbos af)
  • Ds. G. Oberholzer, 2003 – 2005 (pastorale hulp)
  • Dr. J. van Zyl, 2005 – hede (Opdrag: Missionale Gebedsbediening in Afrika. Reebok is die ankergemeente van vier gemeentes wat verantwoordelikheid aanvaar vir sy traktament. Hy woon binne die gemeentegrense en help met eredienste.)
  • Ds. F.J. Herselman, 2007 – 2009 (leraar)
  • Ds. T.C. de Wet, 2009 – hede (leraar)