gestig
6 Oktober 1944
afgestig van
NG Gemeente Linden
eers bekend as
NG Gemeente Ferndale
RING
Ring van Linden
Adres
H/v Doverstraat en Vinelaan, Ferndale
eerste predikant
Ds JC Combrink
Die NG Gemeente Randburg is ‘n gemeente in die Hoëveldse Sinode.
1944. Die Tweede Wêreldoorlog is steeds aan die gang. Terugkerende soldate kry klein staatshuisies op akkers grond in Ferndale. Hulle kom bly tussen ambagsmanne, boere, onderwysers en entrepreneurs. Te midde van armoede en werkloosheid lei 3 pioniers, AJ Cruywagen, HJ Claassen en JJP Bierman die geloofsgemeenskap van Ferndale tot afstigting van NG Kerk Linden. Die NG Gemeente Ferndale – met sowat 450 lidmate en 550 kinders – word op 6 Oktober 1944 in ‘n half voltooide kerksaal gestig. Die kerkraadsnotule getuig … “Ons glo dat die Here dit so gewil het dat daar so ‘n gemeente in Ferndale moet bestaan.”
Die eerste saal van die gemeente Ferndale wat vir amper 20 jaar ook as kerkgebou gedien
Die gemeente se geskiedenisboeke vertel verhale van besondere seën en versorging van God wat mense oor ‘n tydperk van meer as 75 jaar telkens in staat gestel het om met geloofsmoed die eise van die tyd te deurleef. Hier volg maar enkele mylpale op hierdie pad wat ons in 2019 vier:
Prop JC Combrink word op 9 Februarie 1945 as eerste leraar ontvang. Daar rus ‘n groot taak op sy skouers. Hy moes die kerkorganisasie opknap, ernstig aandag gee aan die verkondiging van die Woord en die haglike omstandighede waarin lidmate verkeer het – sonder water of elektrisiteit – probeer verlig. Die gemeente beskik oor geen fondse en leef van lenings. Onenigheid in die kerkraad, verswakkende lewensomstandighede en geestelike vervlakking heers toe ds Combrink in Mei 1947 na Jamestown vertrek.
Na 18 maande se steeds verslegtende omstandighede kom ds JP le Roux op 5 November 1948 na die gemeente. Die groot skuldlas en ‘n groot aantal gemeentelede wat geestelik koud gestaan het bring mee dat dankoffers ‘n laagwatermerk bereik en die leraar se salaris kon nie meer bygebring word nie. Ferndale word byna ‘n hulpbehoewende gemeente.
Deur toegewyde arbeid begin ‘n oplewing aan die begin van 1950. Die eerste wyksbidure word gehou. Die kerkraadsnotule van 2 Mei 1952 vertel opgewonde … “die vure begin helder brand”. In hierdie bloeityd tree ds le Roux op 11 Mei 1952 af. Verskeie aflos predikers tree in die tyd op en God seën die gemeente … “die kerkbywoning was so goed dat die saal soms tot op die verhoog vol was.”
Dertien beroepe word uitgebring voordat ds JHN Prinsloo op 16 Januarie 1953 na die gemeente kom. Die geestelike groei wat aan die einde van ds le Roux se bediening begin het, word verder voortgesit. Ds Prinsloo kry besondere lof vir die wyse waarop hy leiding neem en bydra tot die verandering op geestelike gebied. Harte en beursies gaan oop. Die gemeente wat so vele jare finansiële probleme ervaar het, is vry van hulle skuldlas. Die kerkklok beier op Oujaarsnag 1954 oor Ferndale om die heuglike geleentheid te herdenk.
‘n Nuwe trots vat pos in die gemeente en lidmate begin “smag” na ‘n eie kerkgebou. Goedkeuring vir ‘n boufonds geskied in 1954 met die uitdruklike voorwaarde gestel dat daar nie op skuld gebou word nie. ‘n Sekere mnr Joubert van Letsitele skenk ‘n stuk plantasie met Matumbi-bome en ‘n aantal gesinne gaan kamp en kap die bome self af – om later verwerk te word as kerkbanke.
1956 kan met reg ‘n jaar van groei genoem word – op geestelike sowel as op materiële gebied. Die Sondagskool het op hierdie stadium uit 240 leerlinge en 35 leerkragte bestaan. Daar was vyf Sondagskole, nl. Ferndale, Fernville, Kensington B en twee in Blairgowrie. In hierdie geseënde tyd vertrek ds Prinsloo op 16 September 1957 na Potgietersrus.
Die gebied van Ferndale en omgewing kry munisipale status as “Randburg” en op 15 Junie 1958 verander die naam van die gemeente ook na Randburg. ‘n Nuwe tydvak word ingelui toe ds JA Hough op 2 Augustus 1958 van Daniëlskuil af na die gemeente kom.
Die sooie vir die nuwe kerk – met ‘n tender bedrag van R56 240 – word gespit op 19 September 1959. Almal werk geesdriftig saam om op verskillende maniere fondse in te samel vir die gebou. Op 20 Augustus 1960 word die nuwe kerkgebou in gebruik geneem.
In Oktober 1962 word ds AWL Smal as hulpleraar bevestig. Randburg-Suid stig op 16 Oktober 1963 af en ds Smal word as eerste leraar beroep. Op 26 Januarie 1968 word ds DCG (Dirk) Fourie as medeleraar in die gemeente ontvang en beplanning begin vir tweede pastorie in Bryanston met die oog op verdere afstigting. Op 25 Augustus 1968 vertrek ds Hough na ‘n geseënde dienstydperk van 10 jaar.
Bryanston stig op 21 April 1969 van Randburg af. Dr Fourie vertrek op 22 Februarie 1975 na Bryanston en dr ACJ Smit word in Julie 1975 in die gemeente ontvang. ‘n Verdere tyd van seën word beleef en veral die Vrouediens ontwikkel baie sterk onder leiding van mev Yvonne Smit. Dr Smit vertrek in Februarie 1979 na Reitz-Wes.
Dr Albert Botha van Germiston Môrewag word op 15 September 1979 in die gemeente bevestig. Hy is ‘n baie lojale en pligsgetroue predikant en saam met sy vrou Marina word waardevolle werk in Randburg gedoen. Die getal kinders in die gemeente noodsaak meer kategese lokale. Dr Botha aanvaar ‘n Sinodale aanstelling en lewer sy afskeidspreek op 4 Julie 1982.
Op 14 Augustus 1982 ontvang die gemeente vir ds Frans Louw uit Port Elizabeth. ‘n Tyd van ontploffing in erediensbywoning heers en die kerkraad oorweeg verskeie opsies om die ruimte probleem op te los. ‘n Aantal transaksies vanaf 1984 tot 1990 waarin die pastorie, kerkgebou en nog ‘n saaltjie in Weslaan verkoop word stel die kerkraad in staat om grond aan te koop vir die oprigting van ‘n groter kerk kompleks in ‘n stiller omgewing op die hoek van Doverstraat en Vinelaan. Die nuwe kerk kompleks – met ‘n totale projek koste van R2,1 miljoen word feestelik ingewy op 4 Maart 1990.
Besondere glaspanele, ontwerp deur Leo Theron, word teen die een muur van die nuwe gebou aangebring. Die tema “EK IS” word uitgebeeld met – Ek is die Skepper, Ek is die Brood en die Wynstok, Ek is Lig van die wêreld, Ek is gekruisig, Ek is die Opstanding en die Lewe en Ek is die Hoof van die liggaam.
Die bedieningstyd van ds Frans en Christine Louw word gekenmerk as jare van gemeentebou en ontdekking van die gemeente se identiteit as liggaam van Christus in die stad. Ds Frans Louw aanvaar in Januarie 1995 – na 13 jaar in Randburg – ‘n beroep na Parksig.
Ds Gideon Kok word op 26 Januarie 1991 as Polisiekapelaan in die gemeente bevestig. Hy vertrek in 1994 na Mondeor.
Ds JO (Bussie) van der Schyff van Goodwood word in Julie 1995 in die gemeente ontvang. Sy bediening kenmerk die uitbou van die jeugwerk en verdere aandag word ook aan die gemeentebou-visie gegee.
Prop Jaco Classen dien vir ‘n jaar as pastorale hulp totdat hy vroeg in 1998 ‘n beroep na Oudtshoorn aanvaar. Ds van der Schyff verlaat die gemeente as leraar in Maart 1998.
Ds Servaas de Kock van Fichardtkruin in Bloemfontein word op 20 September 1998 in die gemeente bevestig. Die gebied waarin die kerk kompleks geleë is beleef demografiese verskuiwings en ‘n groeiende getal lidmate van die gemeente woon nie meer binne die tradisionele gemeente grense nie.
Dit stel nuwe uitdagings aan die bediening en in Augustus 2000 word omgeegroepe, wat voorsiening maak vir alle lidmate se behoeftes, as bedieningskeuse gevestig. Hierdie groepe sou in die jare wat kom ‘n belangrike rol op verskillende maniere in die gemeente speel. Die groepe bied vir ‘n verskeidenheid lidmate na amper 20 jaar steeds ruimte vir groei, behoort en dien.
Die gemeentevisie word herformuleer vir Randburg as gemeente waar … “elke lidmaat ‘n toegewyde dissipel van Jesus Christus is … deur te leef uit die genade van God, in liefde vir ander gelowiges te sorg en ‘n seën te wees vir God se wêreld.”
Die pyporrel wat uit die vorige kerkgebou gebring is word in 2001 uitgebrei en herontwerp deur Siegfried Pretsch wat sedert 1998 as orrelis optree.
Die gemeente neem vanaf 1998 tot 2001 ‘n stel nuwe kanselklede en liturgiese bande – wat deur ‘n klein groepie vroue lidmate geskep is – in gebruik. Saam met die proses van liturgiese ontdekking word die bestaande preekstoel vervang met ‘n doelmatige verhoog en losstaande hout preekstoel met ‘n bypassende doopvont en Nagmaalstafel.
‘n Muur van Herinnering word in 2001 gebou en die Gebedskapel word in Oktober 2005 ingerig. ‘n Aantal gemeente tradisies soos Toewydingsdag, Gemeentefees, Wintersorg, Dankbaarheidsdag en Kersfeeskardoese word gevestig in die jaarprogram.
Die gemeenteprofiel verander geleidelik sodat daar ‘n al groter komponent kleiner kinders en jong gesinne in die gemeente ‘n tuiste vind. Prop Jean van Biljon doen sy Gemeentejaar in 2009 in die gemeente waarna hy na Edenville beroep word.
Prop Morné Steenkamp word op 23 Januarie 2011 as leraar in ‘n vaste termynkontrak bevestig met opdrag jeug en jong lidmate. Hy skep ‘n bewussyn van die kerk se gestuur wees in ons wêreld. Die vennootskap met MES, Orange Farm en Cosmo City word verstewig. Hy verlaat diens in Desember 2012.
Prop Sunell Theron doen haar Gemeentejaar in 2013 en lewer besondere diens in 2014 as Jeugwerker voordat sy na Ladybrand vertrek.
‘n Strategiese Gespreksgroep word in 2014 gevorm met die opdrag “Randburg 2020”. ‘n Intensiewe proses van dink en luister volg om te bepaal hoe ‘n Bybels-funksionerende geloofsgemeenskap in 2020 behoort te wees. Die produk van die proses word saamgevat in … elke lidmaat word geroep om dieper te groei, nader te behoort en verder te dien.
Ds Rian Steenkamp sluit in 2015 by die gemeente aan in ‘n Kontrakpos met spesifieke opdragte. ‘n Groot nuwe aftreeoord in die Oilvedale-omgewing noodsaak die skep van ‘n bedieningspunt in 2017. Die gebouekompleks word in 2018 uitgebrei met ‘n doelmatige kuierstoep waar ‘n al groeiende aantal lidmate Sondae voor en na die erediens kuier. Mense wat mekaar liefhet … soos soos God ons liefhet … bly die vreugde van ons bestaan. (Met erkenning: 75-jaar feesbrosjure)
Dogtergemeentes
- 1965: Randburg-Suid
- 1969: Bryanston
Predikante
- Jan Christoffel Combrink, 1945 – 1947
- Jacob Philippus le Roux, 1948 – 1952
- Johannes Hendrik Nicolaas Prinsloo, 1953 – 1958
- Jasper Anthonie Hough, 1958 – 1968
- Andries Willem Lategan Smal, 1962 – 1963
- Dirk Cornelis Grobler Fourie, 1968 – 1975
- Abraham Christiaan Johannes Smit, 1975 – 1979
- Albert Hendrik Botha, 1979 – 1982
- Frans van Zyl Louw, 1982 – 1995
- Gideon Jacobus Kok, 1991 – 1994
- Jacobus Ostenwald van der Schyff, 1995 – 1998
- Servaas Daniel de Kock, 1998 – hede
- Morne Steenkamp, 2011 – 2012
- Christiaan Steenkamp, 2015 – hede