NG Gemeente Queenstown

Ds. P.J. du Plessis het die kerkgebou, ontwerp deur Wynand Louw, se hoeksteen op 2 Februarie 1924 gelê.

gestig

1853

afgestig van

NG Gemeente Cradock

waarby ingelyf is

NG Gemeente Queenstown-Tuine

Ring

Ring van Queenstown

adres

Robinsonweg 38, Queenstown

eerste predikant

Ds S P Naude

 

Die NG Gemeente Queenstown is die 54ste oudste bestaande gemeente en die 10de oudste in die Sinode van Oos-Kaapland. Dit was een van vier gemeentes wat in 1853 gestig is. Die ander drie is almal in die teenswoordige Sinode van Wes- Kaapland: Robertson op 19 Januarie, Oudtshoorn op 11 Oktober en Darling ook in Desember.

Die dorp Queenstown is in September 1853 gestig en die gemeente drie maande later. Sowel Ons gemeentelike feesalbum van 1952 as Ons Kerk Album van 1917 gee die stigtingsdatum van Queenstown aan as “vroeg in die jaar 1854”, toe dit van die moedergemeente, Cradock, afgestig het, maar die gemeente self gee die datum aan as 16 Desember 1853.

Stigting

Ná die afstigting van die gemeente het die konsulent, ds. John Taylor van Cradock op 5 Maart 1854 die eerste erediens waargeneem. Hy het ook die eerste kerkraadsvergadering op 6 Maart 1854 gelei. Eredienste is aanvanklik in die Wesleyaanse kerkgebou gehou. Met die stigting van die dorp Queenstown ontvang die nuwe gemeente 45 erwe.

‘n Belangrike mylpaal vir die gemeente is bereik op 22 Oktober 1855 toe William Shepstone, siviele kommissaris van die distrik, die hoeksteen van die kerkgebou lê waarin die gemeente byna 70 jaar lank sou aanbid. Ook teenwoordig tydens die hoeksteenlegging was di. John Pears van Somerset-Oos en Andrew Murray sr. van Graaff-Reinet. Die inwyding van dié eerste kerk het eers op 22 Januarie 1859 plaasgevind. Weer was ds. Pears (toe die konsulent) teenwoordig, tesame met di. Georg Stegmann van Glen Lynden en Thomson (waarskynlik ds. W.R. Thomson, eerste leraar van die NG Gemeente Stockenström).

Queenstown se ou NG kerkgebou, afgeneem omstreeks 1917. Hierin het die gemeente aanbid van 1855 tot 1925.

Eerste leraar

Eers ses jaar ná die afstigting verwelkom Queenstown sy eerste predikant in die persoon van ds. S.P. Naudé, wat op 18 April 1860 beroep en op 18 September daardie jaar bevestig is. Reeds in 1858 is ds. John Murray van Burgersdorp beroep, maar hy het die beroep bedank en kort daarna professor aan die kort vantevore gestigte Kweekskool op Stellenbosch geword. Die beroep op ds. Naudé was die vyfde. Hy arbei byna 50 jaar lank in die gemeente tot aan sy dood op 26 Julie 1909.

Ds. Naudé het sy opleiding geniet in die teologie en filologie in Utrecht in Nederland en Bonn in Duitsland. Hy het hom onderskei deur sy letterkundige talent, wat hy lewenslank beoefen en waarvan sy biblioteek ’n sprekende bewys was. Hy dien jare lank as voorsitter van die Ring van Graaff-Reinet en beklee ook vele posisies van eer in die gemeenskap van Queenstown. Hy is beskryf as ’n baie vriendelike mens en is wyd geag. Hy kon oortuigend praat en harte aanroer en het ’n sterk invloed uitgeoefen teen openbare sondes.

Latere leraars

Ds. Naudé se opvolger was ds. D.J. Malan wat op 2 Mei 1909 georden is en hier werksaam was tot 26 Junie 1916, toe hy opgevolg word deur P.A. Alheit, wat bevestig is op 25 November 1916. Hy was ’n seun van ds. W.A. Alheit, wat drie gemeentes bedien het waarvan twee in die huidige Oos-Kaaplandse Sinode val, naamlik Colesberg van 1878 tot 1885 en Dordrecht van laasgenoemde jaar tot 1894. Ds. P.A. Alheit was ’n kleinseun aan moederskant van ds. P.K. Albertyn, leraar eers van Prins Albert en daarna Caledon.

Ds. Alheit bly hier tot 1922 en daarna kom ds. P.J. du Plessis aan die beurt van 1923 tot 1929, ds. T.C.B. Stofberg van 1930 tot 1940 en dr. Louis Viljoen Rex van 1941 tot 1946. Ds. P.A. de Wet bly net twee jaar van 1947 tot 1949. Ook in 1947 is ds. M.G. Mynhardt bevestig en vier jaar later ds. J.J. Struwig. Eersgenoemde bly tot 1953 en laasgenoemde tot 1955.

Nuwe kerkgebou

Weens die snelle uitbreiding van die gemeente moes die kerkraad in 1924 oorgaan tot die bou van ’n ruimer kerk. Die hoeksteen van dié toringkerk is deur ds. P.J. du Plessis op 2 Februarie 1924 gelê en die inwyding het op 18 April 1925 plaasgevind. Die argitek was Wynand Louw, die eerste Afrikaanse argitek, en die ontwerp van die kerk, wat vandag nog in gebruik is, herinner sterk aan Gerard Moerdyk, enkele jare lank Louw se vennoot, se ontwerp vir die NG Gemeente Salisbury en die NG kerk op Louis Trichardt. Tydens die inwyding van die nuwe kerk het die gemeente se lidmate 933 (57 meer as in 2012) en die siele 1 787 getel.

Die NG gemeente Queenstown-Oos het in 1953 van die moedergemeente afgestig en dié kerkgebou in Warnerstraat opgerig. Queenstown-Noord het in 1972 afgestig, maar smelt in 1982 saam met die Oos-gemeente as Queenstown-Tuine, wat op sy beurt in 1999 by die moedergemeente ingelyf is.

Uitbreiding

Toe die ledetal in 1947 1 560 en die sieletal 2 470 bereik, het die kerkraad die verdere uitbreiding van die gemeente tegemoet gekom deur die eerste maal ’n medeleraar te beroep. Teen 1952 het die ledetal die 2 200- en die sieletal 3 300-merk oortref. Toe kon die kerkraad die eerste keer aan afstigting begin dink. Queenstown-Oos het in 1953 van die moedergemeente afgestig en Queenstown-Noord in 1972 van die dogtergemeente, maar reeds in 1982 het hulle saamgesmelt as Queenstown-Tuine, wat in 1999 by die moedergemeente ingelyf is. In 2018 het die gemeente Queenstown uit 634 belydende en 167 dooplidmate bestaan.

Predikante

  • Stephanus Petrus Naudé, 1860 – 26 September 1909 (oorlede in die amp)
  • David Johannes Malan, 1909–1916
  • Pieter Albertyn Alheit, 1916–1922
  • Philippus Jacobus du Plessis 1923–1929
  • Theunis Christoffel Botha Stofberg, 1930–1940
  • Dr. L.V. Rex, 1941–1946
  • Petrus Arnoldus de Wet, 1947–1949
  • Marthinus Gerhardus Mynhardt, 1947–1953
  • Jeremia Jacobus Struwig, 1951–1955
  • Dr. Gerhardus Cornelis Oosthuizen, 1956–1959
  • Johannes Jacobus Naudé, 1958–1961
  • Dr. A.J. Venter, 1960–1963
  • Jacobus Johannes Swart, 1961–1964
  • Philippus Cornelius Oosthuizen, 1963–1965
  • Johannes Gerhard Moolman, 24 Julie 1965–1970
  • Johannes Bekker, 1968–1971
  • Roelof Johannes Janse van Vuuren, 1970–1976
  • Dr. C.F. le R. Stodart, 1975–1992
  • W.J. le Roux, 1977–1992
  • W.F.A. Lotter, 1987–2005
  • M.A. Pretorius, 1992–1999
  • W.J. Lotter, 1999–2003
  • Potgieter, 2003–2009
  • Grobbelaar, 2005–2008
  • A.C. Vlok, 2008 – hede
  • Marike Els, 2012 – hede