NG Gemeente Protektoraat

Die kerkgebou van die NG Gemeente Protektoraat op Lobatse, afgeneem deur John Conroy.

gestig

1943

sluit in

Lobatse

Eerste leraar

Jan Gysbert Grové

Die NG Gemeente Protektoraat se middelpunt was op die dorp Lobatse, wat in 1966 as ‘n onafhanklike Botswana se hoofstad voorgestel is nadat die Betsjoeanaland-Protektoraat uit Mafeking in Suid-Afrika geadministreer is. ‘n Nuwe hoofstad, Gaborone, is egter gebou.

Lobatse is 65 km suid van die hoofstad en net 58 km noordwes van Zeerust in Suid-Afrika se Noordwes-provinsie. Dit is vroeg in die 20ste eeu deur die Brits-Suid-Afrikaanse Maatskappy gestig en het ‘n belangrike nywerheids-en-administratiewe sentrum geword.

Die gemeente is in 1943 gestig. Die eerste predikant, ds. J.G. Grové, is op 15 Januarie 1944 bevestig nadat hy sy eerste gemeente, Prins Albert, sedert Julie 1938 bedien het. Hy het Betsjoeanaland vroeg in 1944 verlaat en is op 15 Februarie daardie jaar in Nigel bevestig.

Vyf jaar ná sy stigting het die gemeente ’n sieletal van 811 gehad en ’n lidmaattal van 455. Ds. M.B. Brink was destyds die leraar. Hy het die gemeente bedien van 10 Mei 1947 tot vroeg in 1950, waarna hy op 4 Februarie daardie jaar in Duplooysburg bevestig is.

Die derde predikant, ds. W.H. Oosthuizen, is op 27 Januarie 1951 alhier bevestig.

Protektoraat het iewers in die sewentigerjare ophou bestaan. In 1970 was die gemeente vakant nadat ds. M.F.M. Pretorius die beroep na Rustenburg-Wes opgevolg het (hy het in 1987 oorgegaan na die APK), terwyl die sieletal afgeneem het tot 310 en die lidmaattal tot 210. Twee jaar later was dit 249 en 159, toe ds. H.C. de W. Lourens die predikant was.

Predikante

  • Grové, Jan Gysbert, 1944 –1947
  • Brink, Marthinus Beyers, 1947 – 1950
  • Oosthuizen, Willem Hendrik, 1951 – 1961
  • Pretorius, Michael Frederik Müller, 1967 – 1970