NG Gemeente Potchefstroom-Mooirivier

NG Gemeente Potchefstroom-Mooirivier

gestig

1917

RING

Ring van Potchefstroom

Adres

Kerkstraat 235, Potchefstroom

Eerste predikant

Ds A G Murray

Die NG Gemeente Potchefstroom-Mooirivier is ‘n gemeente in die Goudland Sinode.

Weens die twis en tweedrag tydens die 1914-Rebellie (toe sekere Afrikaners geweier het om Duits-Suidwes-Afrikan namens Brittanje binne te val en te beset) en daarna het Potchefstroom-Mooirivier op 5 Februarie 1917 van die moedergemeente Potchefstroom afgestig.
Die bestaande kerkgebou van die moedergemeente het toe die naam “Rebellesie”-kerk gekry, want die kerkraad en lidmate was ten gunste van die Rebellie.
Tydens die Tweede Wêreldoorlog het Mooirivier as die Barrish-kerk bekendgestaan terwyl die moedergemeente die Worst-kerk was, na aanleiding van elkeen se jare lange predikant, di. H.D. Barrish en G.D. Worst. Eersgenoemde het al die Sappe (aanhangers van die Suid-Afrikaanse Party) gehuisves omdat laasgenoemde net Natte (ondersteuners van die Nasionale Party) toegelaat het.
Op 6 Julie 1918 het genl. Louis Botha (’n Sap) die kerk se hoeksteen gelê. Op 18 April 1919 het die inwyding van die kerkgebou in die teenwoordigheid van ‘n baie groot skare van gemeentelede en belangstellendes plaasgevind, toe dié foto geneem is.
Oorspronklik het die Ring die dorp in twee dele gesny: Mooirivier sou die suidelike kant bearbei en Potchefstroom die noordelike, met Wolmaransstraat as die middellyn. Later is die lyn deur die Sinode opgehef sodat die twee gemeentes in die dorp en distrik sonder grense sou fungeer en lidmate na gelang van hul politieke oortuigings by die een of die ander gemeente kon aansluit.

Op 6 Oktober 1928 is die Moedersaal op die kerkgrond ingewy. Dis gebruik vir Sondagskool- en Kinderkranswerksaamhede. Allerlei funksies word in die saal gehou en hy vervul ‘n baie nuttige rol in die gemeentelike lewe. Die pragtige kerkorrel met drie manuale, 27 stoppe en 1 353 pype is deur die firma R. Muller vir £2 217 gebou, en is omstreeks 1950 deur prof. P.K. de Villiers vir £5 000 gewaardeer. Die kerkgebou se argitek was die Paarlse argitek Wynand H Louw. Die orrelontwerper was John Connell, FRCO. Vanaf die stigting van die gemeente was mev. M.M. van der Bent jare lank die orreliste van die gemeente en het dit haar geluk om gereeld ‘n kerkkoor aan die lewe te hou.

In 1952 berig Ons gemeentelike feesalbum: “Ons Sondagskool, Kindersendingkrans en Vroue-Sendingvereniging floreer en doen verbasende goeie werk en samel jaarliks meer as £700 vir die sending in. Ons Strewersvereniging het soms geweldig gebloei, dan weer gekwyn. Die dood van vooraanstaande kerkraadslede en gemeentelede, asmede die dood van die pastoriemoeder op 15 Augustus 1948 was vir die gemeente ‘n geweldige terugslag. Hulle was reuse in die werk van die Here.”

Daar was destyds hartlike samewerking tussen Mooirivier en die ander twee Ned. Herv. of Geref. gemeentes op die dorp, veral op sendinggebied. Die drie gemeentes het die plaaslike blanke sendeling onderhou en ook vir hom ‘n pastorie laat bou. (Geskryf deur Morne van Rooyen).

Predikante