gestig
1837
Ring
Ring van
waarby ingelyf is
NG Gemeente Merrivale
Adres
Holidayweg 49, Merrivale
Eerste predikant
Ds HE Faure
Die NG Gemeente Pietermaritzburg was die NG Kerk se moedergemeente in die hoofstad van KwaZulu-Natal, maar ná die verkoop van die gemeente se gebou in die middestad, is die sentrum van die gemeente nou op Howick. Dit was die eerste gemeente wat die Voortrekkers buite die destydse Kaapkolonie gestig het en is die 25ste oudste gemeente van die NG Kerk.
Agtergrond
Die Voortrekkers se pogings om ’n predikant uit die Kaapkolonie te kry, het vrugteloos geblyk en omdat eerw. Erasmus Smit vroeër as sendeling aan die Londense Sendinggenootskap verbonde was en nie ’n geordende predikant was nie, wou ’n groot deel van die Trekkers hom nie erken nie. Nietemin het eerw. Smit na die beste van sy vermoë as herder en leraar opgetree. In Maart 1837 begin hy die eerste doopregister vir die Trekkers op Modderrivier naby Blesberg en gee dit die opskrif: “Doop Register van de Gereformeerde Kerk Reizende door Z.O. Afrika”.
Ná ’n mislukte poging op 23 April 1837 is Erasmus Smit op 21 Mei aan die versamelde Trekkergemeenskap aan die noordelike oewer van die Vetrivier deur “goewerneur” Piet Retief as die “eerste leraar voor de reizende gemeente der Gereformeerde Kerk naar Port Natal” voorgestel. Daarna kon hy met meer gesag optree, kinders doop, lidmate aanneem en huwelike bevestig. Gedurende November is die grootste deel van die trek oor die Drakensberg, gevolglik het die volgende gebeurtenisse wat eerw. Smit in sy dagboek aangeteken het, op Natalse grondgebied plaasgevind.
Op 3 Desember 1837 het hy vier kerkraadslede voorgestel. Op 10 Desember het hy die eerste kind wat in Dingaan se land gebore is, gedoop en die eerste kerkraadsvergadering gehou, wat ook deur die goewerneur as die kommissaris-politiek bygewoon is. Op hierdie vergadering is ’n behoorlike program opgestel en daarna word herhaaldelik melding gemaak van die hulp en bystand wat die broers van die kerkraad verleen het asook van die aanneming van nuwe lidmate. In die laaste kwartaal van die “roujaar”, naamlik op 28 Oktober 1838, is die eerste nagmaalsviering tydens die trek gehou.
Die moorde en die dreigende houding van die Zoeloes het die Voortrekkers genoodsaak om in groot versterkte laers saam te woon en dit het eerw. Smit se werk vergemaklik sodat groot getalle lidmate sy dienste kon bywoon. Op 9 Desember is die Gelofte deur die oprukkende Gideonsbende van Andries Pretorius afgelê en op 16 Desember die oorwinning oor Dingaan behaal. Daarna kon die trek weer na die bepaalde eindbestemming voortgesit word.
Op 23 Oktober 1838 het die Trekkersraad reeds besluit om “de eerste dorpsplaats te stichten” en op Kolonieplaas wat laer-kommandant Piet Greyling aangelê het, en dit na die twee leiers Piet Retief en Gerrit Maritz Pietermaritzburg te noem. Gevolglik was daar reeds ’n redelike groot gemeenskap op Pietermaritzburg toe die groep onder wie eerw. Smit was, op 31 Januarie 1839 daar aankom. Die Zoeloemag was nog nie gebreek nie en dit was nodig om in die laers te staan, maar eerw. Smit het spoedig vir ’n plek vir gereelde eredienste voorsiening laat maak. Die eerste geboutjie, wat binne-in die beskermende laer opgerig is, moes primitief gewees het, want Susanna Smit maak in haar dagboek melding van die “Rietkerk” en ’n preekstoel waarvoor ’n paar goedgesindes betaal het.
Op 13 Mei 1839 het die Sekretaris van die Volksraad aan die predikante van die gemeentes Kaapstad, Stellenbosch, die Paarl en Wynberg geskryf dat die gemeenskap ’n kerk wil bou en ’n predikant nodig het. Op 15 Junie daardie jaar skryf adv. C.J. Brand aan Pretorius dat hy ’n intekenlys geopen het “tot bijdragen van de opbouwen des tempels, welke gij den Heere hebt belooft” (tydens die Gelofte). Op 28 April 1840 is begin met die oprigting van die geboutjie wat vandag nog as die Geloftekerk of Voortrekkerkerk bekendstaan en vanwaar die gemeente ook sy ander naam, die Voortrekkergemeente, kry.
Eerste predikant
Die Amerikaanse sendeling Daniel Lindley het eindelik op 1 April 1841 die aanstelling as predikant van die Voortrekkers aanvaar. Sy gemeente het van Port Natal (nou Durban) tot oor die Drakensberg, tot aan Winburg en Potchefstroom gestrek en verskeie kere het hy die hele gebied deurreis, kinders gedoop, lidmate aangeneem en huwelike bevestig. Eerw. Lindley het voortdurend daarop aangedring dat ’n leraar uit Holland beroep moet word sodat hy tot die sendingveld kan terugkeer. Toe hy in 1846 verneem dat ds. A.C. Stucki op weg was na Natal, het hy die tuig neergelê. Ongelukkig is ds. Stucki ter see tussen Kaapstad en Durban oorlede en van Maart 1847 tot 1849 het eerw. J.L. Döhne van die Berlynse Sendinggenootskap die pligte van herder en leraar behartig.
Eerste Afrikaanse predikant
Teen die einde van 1852 het die gemeente sy eerste Afrikaanse predikant, dr. H.E. Faure, ontvang en binne twee jaar ná sy aankoms het die kerkraad besluit om ’n nuwe kerk te bou. Pogings om ’n gedeelte van die markplein vir die doel te bekom, het misluk en is toe is besluit om die kerk, wat op 7 April 1861 ingewy is, langsaan op die perseel van die Geloftekerkie te bou.
Eerste kerkgebou in Natal
Die eerste kerkgebou in die Voortrekkergebied is op Pietermaritzburg opgerig as uitvloeisel van die plegtige gelofte van Sarel Cilliers op Danskraal op 9 Desember 1838 wat ná Dingaan se Zoeloemag op 16 Desember 1838 verslaan is, na vervulling geroep het. Dit was, volgens die kerkraad van die moedergemeente Pietermaritzburg in 1949 en ds. C.W.I. Pistorius, die leraar van 1946 tot 1948, nie die eintlike Geloftekerk nie omdat hulle dit as ’n tydelike geboutjie bedoel het wat later, sodra die nodige geld voorhande sou wees om die werklike Geloftekerk op te rig, in ’n pastorie omskep moes word.
Weens die Engelse anneksasie en die gevolglike vertrek van die meerderheid van die Voortrekkers uit Natal, het hierdie plan egter nooit werklikheid geword nie. Die kerkraad wou ’n sekere stuk grond in Pietermaritzburg, naamlik Langmarkstraat 33, wat die Volksraad oorspronklik vir die ware Geloftekerk opsy gesit het, ten einde dié gebou toe daarop te bou.
Voor die gemeente met die bou van ’n kerk kon begin, moes hulle eers heelwat voorbereidingswerk doen en veral die geld en materiaal ingesamel word. Vir ’n plek van aanbidding moes hulle dus eers tydelike reëlings tref. Pietermaritzburg het toe nog uit ’n klompie hartbeeshuisies bestaan en die Voortrekkers moes voorlopig in een van hulle bymekaarkom. Vroeg in 1839 was die lidmate reeds hard besig met hul insameling. Op 13 Mei het Jacobus Burger, Johannes Stephanus Maritz en Andries Pretorius in ’n gesamentlike brief aan vier predikante in die Kaapkolonie (di. Abraham Faure, T.J. Herold, G.W.A. van der Lingen en P.E. Faure) geskryf dat hulle geen oomblik laat verbygaan het nie, maar dadelik besig was “om lysten te vormeeren tot inteekening voor den God aller Goden voor wiens wonderlike bescherming een yder moet verstommen”.
Sommige van die Voortrekkers het taamlik goeie bydraes gelewer, maar ander, wat weens beproewings en veral die rowery van Zoeloes verarm is, kon maar baie min bydra. Enkele Engelssprekende inwoners van Pietermaritzburg het ’n pond elk bygedra, maar die insameling was nie beperk tot die Voortrekkerhoofdorp nie, want Burger, Maritz en Pretorius het in dieselfde brief van 13 Mei gevra of die geld wat die Comitee voor de Emigranten (die komitee wat in die Kaapkolonie gestig is om hulp aan die geteisterde Voortrekkers te verleen, geskenk kon word vir die oprigting van die kerkgebou. In Kaapstad is ook geld ingesamel. Hierin het C.J. Brand, redakteur van De Zuid-Afrikaan, die voortou geneem. En op 29 Oktober 1839 het die “opsienders van den gemynte van P.M. Burg” ’n beroep gedoen op mense wat ver verwyderd van die daarvandaan woon om ’n aalmoes aan die kerk te skenk.
Die bouery het aan die gebou op erf no. 34 Langmarkstraat het einde April 1840 begin en in die loop van die jaar met rukke en stote gevorder. Die mense was arm en het swaargekry en sekere benodigdhede was skaars en moeilik bekombaar. Die geld was skaars en op 29 September 1840 het die boukommissie die Volksraad gevra om ’n lening uit die kerkfonds. Die Volksraad het dié versoek toegestaan en enkele maande later is die gebou voltooi. In 1841 is dit ingewy. In die begin moes kerkgangers hulle eie banke en stoele aandra tot die gemeente kon bekostig om banke en stoele vir die kerk te koop. Die Geloftekerkie, wat veronderstel was om net tydelik as kerkgebou te dien, was in gebruik tot die tweede Voortrekkerkerk in April 1861 ingewy is.
Geloftekerkie gered
Nadat die nuwe kerk ingewy is, het die Geloftekerkie eers ’n skool geword en in 1874 het die gemeente dit verkoop. Adv. E.G. Jansen, die latere goewerneur-generaal van die Unie van Suid-Afrika, het dit gesien as ’n aptekerswinkel en as deel van ’n smidswinkel toe hy vroeg in die 20ste eeu in die stad as advokaat gepraktriseer het en elke Sondag op pad kerk toe het dit hom onaangenaam getref hoe hierdie geskiedkundige gebou aan verwaarlosing prysgegee is.
Die plaaslike NG leraar, ds. George Murray Pellissier (mev. Martha Mabel Jansen, vrou van die advokaat, se broer), en adv. Jansen het hulle vir die terugkoop en herstel daarvan beywer, bygestaan deur ’n komitee waarvan Jansen die sekretaris was en wat op Pellissier se aandrang in 1908 gestig is. Die komitee moes kyk hoe die kerk van algehele verval gered kon word en teruggekoop word vir die volk van Suid-Afrika en as blywende gedenkwaardigheid ingerig kon word. Op 16 Desember 1912 is die kerkie toe op indrukwekkende wyse as Voortrekkermuseum in gebruik geneem. Die museum is later aan die staat oorgedra. Tot aan sy dood was adv. (later dr.) Jansen ere-voorsitter van die raad. Die raad het sy Julievergaderings altyd so gereël dat dit saamval met die winterverblyf van die goewerneur-generaal in Natal sodat hy die byeenkoms self kon lei.
Die daarstelling van ’n museum in die ou Voortrekkerkerkie was die eerste deel van ’n tweeledige doelwit. In De Bode van 1 Julie 1914 verskyn ’n brief van Jansen aan die minister van binnelandse sake waarin hy onder meer skryf: “Ik heb de eer u in kennis te stellen dat er nu stappen genomen worden om het tweede gedeelte van het oorspronklik plan uit te voeren n.l. het oprichten van een monument ter ere van Piet Retief, Gerrit Maritz, Piet Uys en andere Voortrekker voormannen.” Hoewel die regering geen geldelike steun hiervoor wou toesê nie, is vir die doel van ’n Retief-standbeeld spesifiek geld van die publiek ingesamel. Die dryfkrag hieragter was mev. Jansen, en toe sy op 6 April 1962 die beeld te Pietermaritzburg onthul het, gemaak deur Coert Steynberg, kon sy die bedrag met rente belopende R10 000 ter bestryding van die koste oorhandig.
Latere ontwikkelinge
Die tweede Voortrekkerkerk (van 1861) is later gesloop om plek te maak vir die Gedenkkerk. Die hoeksteen van dié kerk is op 6 April 1961 gelê ná ’n lang stryd om erf 33, naasaan die erf waarop die Geloftekerkie staan, te bekom. Die hoeksteen is ingemessel in die granietpodium aan die voorkant van die gebou. Die kerk is deur P.R le Roux ontwerp as ’n simboliese interpretasie van die gebeure wat op 16 Desember 1838 plaasgevind het. Die gebou moes nie net ’n kerk wees nie, maar ook ’n monument aan die Voortrekkers. In die binnehof is die gelofte op die muur aangebring, wat met knopkierries en assegaaie omring is in die vorm van die Zulu-vegtaktiek of horingformasie. Die lig wat deur die dak op die muur skyn en die toring wat skerp na bo punt, simboliseer die bron van die Voortrekkers se krag. Die lamppale langs die gebou simboliseer die lanterns van die waens by Bloedrivier op 16 Desember 1838. Die mure aan weerskante van die gebou simboliseer beskermende arms.
Op 6 April 1962 is die Gedenkkerk ingewy. J.F.T Naudé het die gebou geopen en dr. A.J. van der Merwe het die diens waargeneem. Op dieselfde dag is die Retief-standbeeld onthul. Dit is deur Coert Steynberg ontwerp en weeg 363,3 kg. Retief kyk in die rigting van die “beloofde land”. Die stene aan die onderkant van die beeld kom van die plek waar Retief in 1837 Natal die eerste keer oor die Drakensberg binnegetrek het. Ds. F.P. Myburgh het die geleentheid geopen met skriflesing en gebed waarna P.W.J Groenewald ’n praatjie gelewer het. Na die koorsang het Mabel Jansen die beeld onthul en ’n toespraak gelewer.
Die gemeente het die Gedenkkerk in 2008 aan die Museumraad verkoop en toe het die bedieningspunt van die gemeente geskuif na Merrivale (op Howick) se kerkgebou, nadat dié gemeente in 1999 by Pietermaritzburg ingelyf is. Dis sowat 20 km vanaf die oorspronklike kerk in die middestad van Pietermaritzburg geleë.
Predikante
- Andries Conradus Stucki, op 26 Januarie 1847 oorlede as aangestelde predikant, maar nie bevestig en georden nie
- Dirk van Velden, 1850 (tydelik)
- Hendrik Emmanuel Faure, 1853–1859
- Dammes Pierre Marie Huet, 1860–1867 (na Holland; oorlede 9 April 1895)
- Abraham van Velden, 1868–1879 (bediening neergelê weens ‘n “swakheid” wat sy meester geword het; oorlede in Natal in 1893)
- Daniël Ferdinand Bosman, 1880–1884 en 1896–1897
- Pieter Taillefer Retief, 1892–1895
- Willem Petrus Rousseau, 1897 – 8 Julie 1903 (oorlede in die amp)
- Helgard Müller, 1884 tot 1887
- George Murray Pellissier, 1907–1918
- Daniël Francois Erasmus, 1918–1920, waarna leraar in die Nederduitsch Hervormde Kerk
- Jacobus Ebenhaezer van Heerden, 1921–1945
- Hendrik Adrian de Wet, 1922 (waarna leraar van dogtergemeente Pietermaritzburg-Wes)
- Carl Wilhelm Irene Pistorius, 1945–1948
- Andreas Petrus Morgenthal, 1948–1959
- Frederik Petrus Myburgh, 1959–1965
- Stephanus Petrus Senekal, 11 Februarie 1965–1969
- Alexander Leon Wehncke, 1971–1976
- Johannes Theodoris Jordaan, 5 Oktober 1974–1983
- Hendrik Pieter Basson, 1983–1986
- Carina Swart, 7 September 2013 – hede