NG Gemeente Pearston

Die kerkgebou, ontwerp deur Carl Otto Hager in die Neogotiese styl, of dan ten minste begin deur hom en bes moontlik voltooi deur Arthur Reid (soos ook die geval was met die NG Gemeente Jansenville se kerkgebou), en in 1887 ingewy nadat die eerste steen 22 jaar vroeër gelê is, maar bouwerk gestaak is weens ‘n meningsverskil tussen twee sterk partye in die jong gemeente.

Gestig

12 Oktober 1859

Ring

Albanie

Adres

Hudsonstraat 45, Pearston

Sluit in

Pearston en omgewing

Eerste predikant

C.T. Muller (1861–1872)


Die NG Gemeente Pearston is ’n gemeente van die Nederduitse Gereformeerde Kerk in die Oos-Kaap. Dit was ten tyde van sy stigting die 78ste gemeente in die Kerk en die 18de in wat later die Sinode van Oos-Kaapland sou word. Dis nou die 75ste oudste bestaande gemeente. Omdat die dorpie Pearston as kerkdorp gestig het en die gemeente ouer is as die nedersetting, het Pearston sy naam te danke aan die gemeente, en nie andersom nie soos meestal die geval is.

Stigting

Die gebeurtenis wat gelei het tot die stigting van die gemeente was ’n vergadering wat op 21 September 1859 op die plaas Rustenburg aan die Vogelrivier in die distrik Somerset-Oos gehou is en waarop besluit is om by die Ringsvergadering wat op Graaff-Reinet gehou sou word, aan te soek om die stigting van ’n afsonderlike gemeente hier. Ten einde van die Ring die vereiste verlof te kry, is die broers J. Meintjes en C. Ziervogel afgevaardig om die versoek by die Ringsvergadering in te dien. Dit is op 12 Oktober toegestaan en dit word aan die Ringskommissie opgedra om die nodige stappe te doen tot die stigting van die gemeente. Dadelik is ook daartoe oorgegaan om ’n pastorie en ’n noodkerk te bou.

Die eerste kerkraadslede was, as ouderlinge, J. Meintjes en P.R. Botha en, as diakens, C.J. Lotter, G. van Eeden, J.J. Odendal en G.A.P. Kotzé. Die eerste godsdiensoefening is hier gehou op 20 November dieselfde jaar deur die konsulent, ds. John Pears van die NG Gemeente Somerset-Oos, na wie die gemeente genoem is. By dié geleentheid is die eerste kerkraadslede voorgestel. Op die eerste kerkraadsvergadering op 16 Januarie 1860 word besluit om te begin bou aan die pastorie en noodkerk (tydelike kerk), wat sowat £2 000 gekos het. Nadat twee beroepe bedank is, neem ds. C.T. Muller van Jansenville die derde aan. Hy is op 7 September 1861 bevestig, dus byna twee jaar ná die stigting van die gemeente. Hy dien hier 12 jaar, toe hy weer ’n beroep na sy ou gemeente aanneem.

In sy tyd en wel in die jaar 1865 is daar ’n begin gemaak met die bou van ’n nuwe kerk, maar weens moeilikheid in die gemeente (twis tussen twee sterk partye) is die werk gestaak toe die mure reeds ’n sekere hoogte bereik het. Dié langdurige vete het eers bedaar tydens die dienstyd van die vierde leraar. Ds. Muller se opvolger was di. C.W. du Toit (9 Mei 1874 tot Junie 1875). Ná ’n lang vakture word prop. P.F. Hugo eers agt maande nadat hy die beroep aanvaar het op 29 September 1877 ingeseën omdat hy ten tyde van die beroep op reis in Europa was. Hy dien die gemeente met getrouheid en toegewydheid slegs vyf jaar tot 1883, want op 14 Mei daardie jaar word hy tot hoër diens opgeroep. Hy het ’n aansienlike som geld nagelaat wat hy met veel inspanning vir die boufonds van die nuwe kerk byeengebring het.

Kerkgebou voltooi

Nou bly die gemeente ’n jaar vakant tot ds. C.H. Radloff van die NG gemeente Barkly-Oos in die Noordoos-Kaap (1884 tot 1913). Laasgenoemde het met veel seën in die gemeente gearbei, baie vir die opvoeding gedoen en altyd die beste vir die gemeente nagestreef. Danksy sy moed en takt kon hy die gemeente sover kry om die gestaakte bouwerk aan die kerk te hervat. Op 25 Desember 1886 kon ’n gedenksteen gelê word ter gedagtenis aan die hervatting van die werk met as opskrif Ps. 48:10. Die kerk is met seën en voorspoed voltooi en kon sonder skuld ingewy word op 30 Junie 1887, 22 jaar nadat die bouwerk begin is. Deur ds. Radloff se onvermoeide ywer kon daarna ’n toring aan die kerk toegevoeg word wat op 10 September 1899 plegtig onthul is. Die kerk is ontwerp deur die argitek Carl Otto Hager, ’n Duitse boorling en die grootste eksponent van die Neogotiese boustyl in Suid-Afrika en ook onder meer verantwoordelik vir die ontwerp van die kerkgebou van die buurgemeente Somerset-Oos.

Ná ds. Radloff se geseënde bediening van 29 jaar, verlaat hy Pearston op 15 September 1913 vir die NG gemeente Kalkbaai in die Kaapse Skiereiland. Ná sy vertrek bly die gemeente vir twee jaar en nege maande vakant. Omdat daar ’n ongekende droogte geheers het en die land in erge politieke moeilikhede verkeer het, ervaar die gemeente baie donker en benoude tye. Tydens die vakature het die sendeling P. le Roux die gemeente 17 maande lank bearbei.

Vyfde en latere predikante

Die gemeente se vreugde was groot toe die elfde beroep, op ds. J.A. Koch van Christiana, slaag. Hy is op 20 Mei 1916 (toevallig ook die dag waarop die tydskrif Huisgenoot gestig is) bevestig. Nou betree die gemeente, ná milde reëns wat die droogte gebreek het, ’n nuwe tydperk van groei. Ds. Koch is se onmiddellike opvolgers was di. J.J. Wasserfal (1920 tot 1928), D. du P. Steyn (1928 tot 1939), A.P. Morgenthal (1939 tot 1943), J.T. Martins (1943 tot 1946), A.P. Smit (1947 tot 1950) en O.A.O. Naudé, wat in 1950 bevestig is.

Op 30 Julie 1938, gedurende die dienstyd van ds. D. du P. Steyn, was die gemeente weer in feesstemming toe die nuwe orrel, die nuwe preekstoel en die ligte van die kerk ingewy is.

Hede

Teen 2012 het Pearston 105 belydende lidmate gehad en was die gemeente vakant, maar in daardie jaar het ds. Frans Burger, van 1992 tot 2009 die leraar van die NG Gemeente Drieankerbaai, ’n kontrakpos hier aanvaar. Pearston is een van 16 gemeentes in Oos-Kaapland wat in 2012 tussen 100 en 200 belydende lidmate gehad het. Tien het minder as honderd gehad.

Predikante

  • Carl Theodorus Muller, 1861 – 1873
  • Charles Wynand du Toit, 1874 – 1875
  • Pieter Francois Hugo, 1877 – 14 Mei 1883 (sterf in die amp)
  • C.H. Radloff, 1884 – 1913
  • Vakant, 1913 – 1916
  • Johann Augustinus Koch, 1916 – 1920
  • Jacob Johannes Wasserfall, 1920 – 1928
  • Daniel Du Plessis Steyn, 1928 – 1939 (emeriteer)
  • Andreas Petrus Morgenthal, 1939 – 1943
  • Jan Thomas Martens, 1943 – 1946
  • Abraham Petrus Smit, leraar van 1947 tot 1950
  • Ockert Andries Olivier Naudé, 1951 – 1961
  • Alexander Floris Kriel, 7 November 1964 – 1968
  • Frans Petrus du Toit, 26 April 1969 – 1974
  • Charles Jacobus Cassel, 1974 – 1977
  • Gideon Frederik Aggenbag, 2006 – 2010 (emeritus, kontrakpos)
  • Frans Albertus Burger, 2012 – 2015