Gestig
1884
Ring
Vaalrivier (vroeër Vredefort)
Adres
Viljoenstraat
Sluit in
Parys (deels)
Eerste predikant
T.C. Dönges (1890–1896)
Die NG Gemeente Parys is die moedergemeente op die Vrystaatse dorp Parys. Met sy stigting in 1884 (of 1882 volgens ander bronne) was dit die 27ste gemeente in die Vrystaatse Sinode.
Aanleiding tot stigting
Ruim 10 jaar voor die gemeente Parys se stigting het aan die vrugbare oewer van die Vaalrivier ’n dorp ontstaan wat die mense met die grootste verwagting vir die toekoms na Frankryk se hoofstad, Parys, genoem het. Nadat die eienaars, drie broers Van Coller, die plaas aan ’n komitee verkoop het en erwe en standplase uitgemeet is, het vele huisgesinne hulle hier kom vestig met die vooruitsig om hul tuine en akkers uit die groot stroom te besproei. Weldra het hul ’n belangrike buitewyk van die gemeente Heilbron gevorm, wat gereeld en getrou bearbei is deur ds. D.J. Minnaar (leraar daar van 1879 tot sy aftrede in 1915; sy enigste gemeente).
Aan die begin van die 1870’s is daar op die ringsitting op Kroonstad besluit om in die gebied benoorde die Renosterrivier, benewens die pas gestigte Heilbron (1873) nog ’n gemeente tot stand te bring. Die kommissie deur die Ring daartoe benoem, het gesoek na ’n geskikte plek om te dien as kerksentrum in hierdie groot gebied wat feitlik die hele latere Volksraadskiesafdelings van Vredefort en Heilbron beslaan het. Nadat die dorp Vredefort in die onmiddellike nabyheid van Parys aangelê is, het die Ring van Winburg jare agtereen voor die moeilike vraag gestaan watter van die twee dorpe die beste sentrum vir ’n nuwe gemeente sou wees: die plaas Vischgat (die huidige Vredefort, waar ’n Gereformeerde gemeente reeds in 1872 gestig is) of die plaas Klipspruit (die huidige Parys) wat net 10 myl (sowat 16 km) uitmekaar geleë was.
Omstreeks dieselfde tyd (1876) is genoemde twee plekke ook tot dorpsgebiede omgeskep. Eersgenoemde was ’n ietsie ouer as laasgenoemde en kon daardeur vir die kerksentrum in aanmerking kom. Hierteenoor staan weer dat laasgenoemde ’n besondere groot stuk grond vir die toekomstige NG kerk uitgemeet het. Aanvanklik is die oplossing daarin gevind dat een predikant beroep sou word en dat elkeen van die twee gemeenskappe hom vir die helfte van sy salaris verantwoordelik sou hou. So sou dit dan uitgesluit wees dat die een plek bo die ander voorrang geniet.
Maar heel gou het die vraag opgeduik: Waar sou die pastorie gebou word? Hiermee is ’n dooiepunt bereik, en omdat die een nie die ander hierdie voorrang wou vergun nie, is in 1882 daartoe oorgegaan om die gemeente Vredefort in die lewe te roep, sowel as Parys, volgens Ons gemeentelike feesalbum; ander bronne gee laasgenoemde se stigtingsdatum aan as 1884. Di. G. Radloff en C.D. Murray skryf in Ons Kerk Album (uit die Nederlands vertaal): “Die destydse predikant van Winburg, ds. P.A.C. van Heyningen, het hom bewys as die warmste vriend van Parys, en het so aanhoudend by elke ringsvergadering vir dié dorp gepleit dat eindelik in 1884 ’n gemeente hier gestig is.”
Ná die gemeentestigting
Die lidmate was bly en dankbaar dat die waardige, hoogs bejaarde ds. De Jongh van Arkel – wat deur die Sinode tot die evangeliebediening in die Vrystaat toegelaat is – hom tydelik uit Holland op Parys gevestig het. Hier het hy gereeld die evangelie verkondig as hulp vir die konsulent, ds. D.J. Minnaar van Heilbron, wat getrou kwartaalliks Nagmaal kom bedien het. So moes die gemeente dan agt jaar aansukkel sonder sy eie predikant.
Eerste twee predikante
Dit was ’n blye dag vir Parys toe hulle ds. T.C. Dönges op 6 Maart 1890 as hul eerste predikant kon verwelkom. Hy het die gemeente vlytig en met seën bedien en ’n noodkerk en pastorie laat bou. Hy vertrek in 1896 na die NG Gemeente Bothaville, en is in 1897 deur ds. J.C. Hefer opgevolg. Hy was so geseënd in sy werk dat die gemeente ’n ruim godshuis van £6 000 kon laat bou. Ongelukkig toe dit moes ingewy word, kon net die vroue en kinders aan die plegtigheid deelneem omdat die manne en vaders in die Tweede Vryheidsoorlog toe juis Ladysmith in Natal beleër het.
Dit het nie lank geduur nie, of ds. Hefer is weggevoer na die konsentrasiekamp op Vredefort. Daar moes hy die bitterheid smaak om twee kinders aan die dood af te staan. Later is hy parool gegee na Worcester te gaan. Ná ’n agtjarige bediening is hierdie ywerige leraar deur liggaamswakheid genoodsaak om sy werk in 1905 te staak. Hoewel hy ná ’n rustyd weer beroep en bestig is, het hy hom in 1911 gedwonge gevoel om weens die verlies van sy gesondheid die herderstaf vir goed neer te lê.
Van Januarie 1912 tot 1927 was ds. C.D. Murray, wat van 1905 af leraar van Bloemfontein was, aan die roer van sake. Kort voor lank nis die bediening gekenmerk deur sy spesiale arbeid aan die kinders en jong mense. Op sy inisiatief is reeds in Maart 1912 ’n algemene Sondagskoolkonferensie op Parys gehou waarheen sowat 300 afgevaardigdes uit alle dele van Suid-Afrika, onder wie 25 predikante en sendelinge, met veel seën deelgeneem het. Die Sondagskool was destyds groot en ’n saal is gebou deur die Jongeliedevereniging. Toe reeds is ook ’n mooi meisieskoshuis opgerig. Destyds kon Ons Kerk Album berig: “De gemeente is een groote, belangrijke werkkring geworden. Gedurig komen intrekkers zich hier vestigen, en gedurende de vacantie ziet men een stroom van plezierzoekers, vooral van de (Transvaalse) Goudvelden.”
In 1952 skryf die medewerker van Parys soos volg in Ons gemeentelike feesalbum: “Hoewel Parys vinnig besig is om alle spore van sy harde, karige kinderjare uit te wis en haastig voortskry om inderdaad die ‘Koningin van die Vaalrivier’ te word, is die huidige kerkgebou een van die dinge wat in sy ongesmukte eenvoud die verbyganger dwing om terug te blik. Die mure vertel hoedat hul net voor die uitbreek van die Anglo-Boereoorlog gebou was met stene wat nie die tyd gegun was om af te koel nie.
“Die hoeksteen deel mee hoedat dit die vernedering moes ondergaan om deur Engelse troepe uit sy oorspronklike plek gelig te word omdat hulle gedink het dat dit miskien groot skatte kon herberg. Op die kerkbanke het die spykers van Engelse oorlogstewels onuitwisbare merke agtergelaat. In die kanselbybel kan gelees word die handtekeninge van genoemde besettingstroepe met vermelding van die regimente waaraan hul behoort het. Vra iemand waarom die kerkgebou so weggesteek is agter ander geboue, dan kom die antwoord dat daar tye was toe ’n ondraaglike skuldelas die kerkraad verplig het om stuksgewyse kerkgronde te verkoop.”
Parys se eerste dogtergemeente, Parys-Oos, het op 19 November 1948 afgestig. Nog afstigtings op die dorp het gevolg: Parys-Wes (1960), Parys-Suid (1973) en Schonkenville (2001). In 2015 was die moedergemeente vakant en het sy net 16 doop- en 267 belydende lidmate gehad, vergeleke met onderskeidelik 253 en 1 105 in 1985.
Predikante
- Theophilus Christiaan Dönges, 6 Maart 1890–1896 (sy eerste gemeente)
- Johannes Coenraad Hefer, 1897–1911 (aanvaar sy emeritaat; oorlede 14 Oktober 1917)
- Charles Daniel Murray, 1912–1927
- Jacobus Albertus Van Zyk Viljoen, 1927–1944 (toe hy sy emeritaat aanvaar; oorlede 16 Oktober 1947)
- Pieter Willem de Lange, 1945–1948
- Dr. Hendrik Ludolph Neethling, 1948–1953
- S.J. Serfontein, 1954–1958
- W.J.V. Botha, 1958–1962
- Prof. J.J. (Mias) de Klerk, 1959–1962
- David Willem Krynauw, 1962 – 29 Junie 1972 (aanvaar sy emeritaat)
- S.J. van der Spuy, 1963–1967
- J.H.J. Oosthuizen, 1976–1981
- A.M. Herholdt, 1981–1995
- Oehley, 1982–2010 (aanvaar sy emeritaat; laaste eie predikant)