NG Gemeente Opuwo

gestig

16 Junie 2023

Ring

Noorde Ring

Adres

Eerste leraar

ds JA Ngambwe

Die NG Gemeente Opuwo is ‘n gemeente in die Sinode van Namibië.

Op 16 Junie 2023 keur die Ringskommissie van die Noorde Ring die stigting van die NG Gemeente Opuwo amptelik goed. Hiermee word ‘n mylpaal bereik op ‘n pad wat 26 jaar gelede begin is. Dit het só gekom:

Ongeveer 4 jaar na die totstandkoming van die Verenigende Gereformeerde Kerk in Suider Afrika (VGKSA), het dit sekere praktiese gevolge gehad in die noord-weste van Namibië. In Maart 1997 neem die Ringskommissie van Otjiwarongo kennis dat die Etosha-sendingwerkkring beoog om eerder in ‘n eenwordingsproses met die NGKN betrokke te raak as met die VGKSA. Tot hier het die Werkkring nou saamgewerk met (Evangeliese Gereformeerde Kerk in Afrika) EGKA. Hierdie Kerk het besluit om saam met die NG Sendingkerk in Namibië op te gaan in die VGKSA as ‘n sinode hier te lande. Dit blyk toe egter dat ‘n beduidende aantal EGKA-lidmate van die voormalige EGKA-gemeentes Orumana, Khorixas en Outjo verkies om lidmate van onderskeidelik Kamanjab en Outjo te word. Die feit dat hier individuele lidmate is wat van kerkverband wil verander, was belangrik. In die RSA was daar hele vergaderings (gemeentes, ringe en/of sinodes) van die NG Kerk in Afrika (NGKA) wat nie aan die eenwording met die Sendingkerk wou deelneem nie. Dit het beteken dat die NGKA-Kerkverband regtens bly voortbestaan het. Waar daar toe gemeentes van beide NGKA en die VGKSA in dieselfde dorp beland het, het dit aanleiding gegee tot uitgerekte regsgedinge oor eiendomsreg van gebou. Op dié manier is derduisende rande Koninkryksgeld bestee aan onverkwiklike regsprosesse. Namibië is genadiglik hierdie ongelukkige scenario gespaar, want niemand het daarop aanspraak gemaak om ‘n voortsetting van die EGKA-verband te wees nie. Die verhaal kry ‘n nuwe hoofstuk In Augustus 1997 toe die Ringskommissie van die Otjiwarongo Ring ‘n brief van ds JA Ngambwe van Opuwo in behandeling neem. Hy skryf: “Hiermee wil ek vir die Ring of Sinode van Otjiwarongo sê: Ek gaan nie saam met die VGK (RSA) nie. Ek bly saam met die groepe wat na die NGK gaan. Ek bly nog in die bediening as leraar van die groepe en wil nie saam gaan met die VGK (RSA) nie.” Die VGKSA (Namibië-sinode), die Kerk waarvan ds Ngambwe tot hier predikant was, het hierdie optrede beskou as ‘n bedanking en het hom dus van die sy bevoegdheid as predikant ontneem. Boonop het die Orumana-gemeente wat hy bedien het, nie meer bestaan binne die VGK-raamwerk nie. Die Beheerraad van die Getuienisbediening Kunenestreek, die NG-struktuur onder wie se toesig en beheer die sendingwerk in die streek staan, het egter geoordeel dat ds Ngambwe steeds proponentstatus het. Daarom het hulle geoordeel hy kan voortgaan met die geestelike bediening van die nuwe NG Kerk-lidmate te Kaokoland en omgewing, met toestemming van Kamanjab se kerkraad. Die Algemene Sinode het in 1998, op aanbeveling van Namibië, gekwalifiseerde bevoegdheid aan ds Ngambwe verleen toe hy beroepbaar gestel is vir bediening aan Herero-sprekende lidmate in die kerk. En nou, 26 jaar later, word die proses voltrek deurdat die lidmate van die voormalige EGKA-gemeente Orumana as volwaardige NG-gemeente georganiseer is. Ds Jason het intussen emeritaat aanvaar, maar is steeds deeltyds by die bediening betrokke. – Clem Marais, Argivaris

Bron: Agenda Ring Otjiwarongo 1997, Notule Algemene Sinode 1998, Brief Ringskommissie Noorde Ring 2023