gestig
1946
afgestig van
NG Gemeente Windhoek
ring
Oostelike Ring
adres
Tweedestraat 604/5, Okahandja
eerste predikant
–
Die NG Gemeente Okahandja is ‘n gemeente in die Sinode van Namibië.
Reeds in 1792 was daar kontak tussen Kaapstad en Okahandja toe Pieter Brand, wat saam met Van Reenen op reis was, deurdring tot die Swakoprivier wat by Okahandja verbyvloei. Hy was waarskynlik die eerste wit mens wat hier gekom het. Okahandja het ‘n lang en veelbewoë geskiedenis omdat die Nama en Herero hier mekaar ontmoet het en menige bloedbad die gevolg was. Meer as 150 jaar gelede het die evangelie egter gekom danksy die werk van die Rynse Sendinggenootskap.
Okahandja se naam beteken “klein-breed” en is die Hererowoord vir die rivier wat nie baie lank is nie, maar baie breed. Die wyk was vroeër deel van die baie groot gemeente Gibeon, wat meer as die helfte van die oppervlak van Suidwes-Afrika beslaan het. Gedurende 1929 is NG gemeente Windhoek van Gibeon afgestig en het Okahandja ‘n wyk van die nuwe gemeente geword. In Oktober 1946 stig Okahandja af van Windhoek en ‘n jaar later heet die gemeente sy eerste leraar, ds. J.T. Potgieter, vroeër leraar van Gibeon, welkom.
Die gemeente was teen 1952 steeds maar klein met net 320 lidmate, slegs 28 minder as teen 2010 en 63 minder as teen 2015, maar was vroeg reeds selfonderhoudend. Die kerksaal is reeds in 1930 in gebruik geneem en die pastorie in 1950 voltooi, langs die fondamente van die Herero-kaptein Samuel Maharero se eertydse huis. Hy het in 1903 die Herero-opstand gelas en vanaf die krans op sy erf is die eerste skote van die oorlog geskiet.
Die kerkgebou, ingewy in 1974, is ontwerp deur die argitek J. Anthonie Smith, wat vir meer as 60 NG kerke verantwoordelik was. (Geskryf deur Morne van Rooyen).
Predikante
- Gideon Daniël Jacobus Potgieter, 1966 -1969
- Jacobus Johannes Visser Smith, 1982 -1987
- Willem Jacobus Kotzé, 1988 -1989
- Jacobus Venter, 1991 – 2002
- Tjaard Machiel Venter, 1996 – 2000
- Christoffel Nel, 2003 – 2007
- Jan Johannes Pienaar, 2009 – 2016
- Johannes Hendrik Gerhardus Maritz, 2018 – hede