
Gestig
16 Oktober 1854
Ring
Swellendam
Adres
Badstraat, Montagu
Sluit in
Montagu en distrik
Eerste predikant
Dr. Servaas Hofmeyr
Die NG Gemeente Montagu is ’n gemeente in die Sinode van Wes-Kaapland. Dit is in 1862 gestig en is nou die 59ste oudste bestaande gemeente.
Stigting
Omstreeks 1850 was daar reeds soveel lidmate van die gemeente Swellendam aan die oostekant van Cogmanskloof in die Langeberge dat besluit is om ‘n “Gesticht” vir godsdiensoefeninge op die plaas Uitvlugt van D.S. van der Merwe te bou. Met die hoeksteenlegging op 19 April 1851 het dr. William Robertson, predikant van Swellendam, die hoop uitgespreek dat dit die begin van ‘n nuwe gemeente sou wees, wat na die destydse koloniale sekretaris, sir John Montagu, moes heet.
Op 16 Oktober 1854 het die Ring in sitting op Caledon tot die afstigting van die gemeente Montagu oorgegaan, en op 30 September 1860 is dr. Servaas Hofmeyr as eerste predikant deur sy broer, N.J. Hofmeyr, professor aan die Kweekskool, bevestig. Met sy bevestiging was daar reeds ‘n geseënde herlewing aan die gang.
Kerkbou
Op Woensdag, 21 Mei 1862, is die huidige kerkgebou met sy duisend sitplekke ingewy. Nog herlewings van ingrypende betekenis vir die geestelike lewe in die gemeente het in 1874 en 1884 plaasgevind. Die eerste leraar het onuitwisbare spore op gebied van die geestelike lewe, sending, onderwys en Christelike lektuurverspreiding nagelaat. Sy geseënde bediening het op 5 Desember 1888 ten einde geloop toe hy hier op 58-jarige leeftyd oorlede en begrawe is. Op ‘n hegte fondament kon sy opvolgers toe met seën voortbou.
Latere leraars
Terwyl ds. G.S. Malan (1889–’95), later redakteur van De Kerkbode, as prediker uitgemunt het, het ds. J.C. Truter (1896–1905) daarna veral as herder goeie werk gedoen. In 1906 is dr. D.F. Malan, later eerste minister, hier bevestig. Van belang in sy bediening was die kragtige bevordering van onderwys, die bou van ‘n sierlike pastorie en die aanstelling van die eerste hulpprediker hier. Daarna volg die 24-jarige bediening van ds. D.P. van Huyssteen, later organiserende armesorgsekretaris, in wie se tyd ‘n hoërskool tot stand gekom en groot werk op die gebied van armesorg gedoen is.
Voorts gaan die kerkraad daartoe oor om ‘n tweede leraar en later ‘n medeleraar te beroep in die persone van di. P.A. Alheit (1922–’26) en F.R. Grobbelaar (1930–’34). Vanaf 1938 is die gemeente van meer as 2 000 lidmate bedien deur dr. D.J. Louw (1938–’46) en di. W.J. du Toit (1944–’47), A.G.E. van Velden (1946– ’51) en ds. D.J. Malan (1947–’54).
Predikante
- Servaas Hofmeyr, 30 September 1860 – 5 Desember 1888
- George Stephanus Malan, 1889 – 1895
- Johannes Christoffel Truter, 1896 – 1905
- Daniël François Malan, 1906 – 1913
- Daniel Petrus van Huyssteen, 1913 – 1937
- Pieter Albertyn Alheit, 1922 – 1926
- Tobias Johannes Kotzé, 12 Mrt. 1927 – 1929.
- Frederick Rossouw Grobbelaar, 1930 – 1934
- Daniel Johannes Louw, 1938 – 1946
- Willem Johannes Du Toit, 2 Sep. 1944 – 1947
- Anthonie George Elias van Velden, 1946 – 1951
- Daniel Johannes Malan, 1947 – 1954
- Edward George Daniel Coetzee, 20 Mrt. 1954 – 1956
- Frederic John Berning Malan, 1951 – 1960
- Albertus Bernardus Retief, 13 Apr. 1957 – ?
- Jacob Andries Cornelius Weideman, 1960 – ?
- Philippus Lodewikus Scholtz, 1964 – 1970
- Johannes Christiaan Portwig, 1964 – 1966
- Jacobus Daniel Albertus Conradie, 1966 -1969
- Leon Maree Steenkamp, 1967 – 1972
- Frederik Floris Johannes Brand, 1971 – 1976
- Jan Hendrik Gous, 1976 – 1993
- Jean Stephanus Higgs, 1986 – 1991
- Francois Pieterse, 1992 – 2006
- Jakobus Johannes de Jager, 1993 – 2015
- Johannes Petrus Theron, 1995 – 2001
- Charl van Rensburg, 2006 – 2020
- Johan Andre Theron, 2016 –
- Johannes Ries, 2017 –