NG Gemeente Middelburg, Mpumalanga

Die NG moederkerk (Witkerk) op Middelburg, Mpumalanga, soos dit omstreeks 1966 gelyk het.

Gestig

13 Maart 1866

Ring

Middelburg

Adres

H.v. Walter Sisulu- en Dr. Beyers Naudéstraat, Middelburg, Mpumalanga

Sluit in

Middelburg, Mpumalanga (deels)

Eerste predikant

D.F. Bosman (1874–1880)


Die NG Gemeente Middelburg (Mpumalanga) is ’n gemeente in die Oostelike Sinode. Dit was, voor die Transvaalse Kerk in twee, drie en later vier Sinodes verdeel het, die tiende oudste gemeente van dié kerk. Dit het vroeër bekendgestaan as die gemeente Middelburg, Transvaal, maar sedert omstreeks 1994 as Middelburg, Mpumalanga, om dit te onderskei van die Oos-Kaapse gemeente Middelburg.

Stigting

Die gemeente is op 13 Maart 1866 onder die naam “Nasaret” gestig. Die geskiedkundige gebeurtenis het plaasgevind op die plaas Elandspruit, wat aan oudl. N.P. Prinsloo behoort het, en ongeveer 10 km buite die huidige dorp Middelburg geleë is. Gedurende die jaar 1866 is die dorp Nasaret opgemeet en uitgegee op ’n plaas wat aan die gemeente Lydenburg behoort het. Eers op 24 Februarie 1872 is Nasaret deur die staatspresident tot ’n afsonderlike distrik verklaar en is die heer A.B. Joubert as eerste landdros aangestel. Die tweede gebou wat opgerig is (in 1867), was ’n klein NG kerkie, waarvan die hoeksteen deur ds. Frans Lion Cachet gelê is. Hy is deur eerw. Merensky, ’n sendeling op Botshabelo, bygestaan.

Eerste twee leraars

Op 9 September 1874 het die gemeente sy eerste vaste leraar bevestig in die persoon van ds. D.F. Bosman, aan wie op 20 Desember 1880 demissie verleen is toe hy die beroep na Pietermaritzburg aanneem.

In 1884 is ds. A.P. Burger as herder en leraar bevestig, en 44 jaar lank bedien hy die gemeente tot by die aanvaarding van sy emeritaat in 1928. Met die uitbreek van die Tweede Anglo-Boereoorlog (1899-1902) sluit hy hom as veldprediker by die Middelburg-kommando aan, maar word in Februarie 1902 gevang en na Indië gestuur, waar hy in Shahjahanpur en in die kamp Bhimtal van die vrugbaarste maande van sy bediening beleef. Sy herinneringe hieraan is in Worsteljare, ’n boek deur sy seun ds. Attie Burger (die sanger Gé Korsten se skoonpa), weergegee.

Saam met ds. A.P. Kriel van Langlaagte kan ds. Burger as die grondlêer van die inrigtingsorg van die barmhartigheidsdiens van die Transvaalse NG Kerk gereken word. Op Middelburg rig hy in 1902 ’n kinderhuis vir oorlogsweeskinders op wat vir die onderwys in die algemeen onteenseglik veel beteken. As voorsitter van die Commissie voor Armblanken (1906) verrig hy belangrike dienste om verarmde landgenote te rehabiliteer en is in dieselfde jaar verantwoordelik vir die stigting van die arbeidskolonie op Delagersdrift (Laersdrif). Hy en sy vrou het ook groot belangstelling in die sending en begin omstreeks 1905 met sendingwerk in Sekhukhuneland. Die eerste sendingstasie wat in die twintigerjare aldaar opgerig word, naamlik Burgerstasie, is na die egpaar genoem.

Ds. Georg Hofmeyr

In Mei 1929 word ds. G W.S. Hofmeyr bevestig en 19 en ’n half jaar staan hy met toewyding in die gemeente tot by die aanvaarding van demissie op 9 November 1948. Met die gemeente se eeufeesviering in 1967 (om die een of ander rede het die stigtingsdatum mettertyd met ’n jaar aangeskuif) het ds. Hofmeyr die volgende oorsig van sy dienstyd in dié gemeente gegee: “Met my bevestiging in Mei 1929 het die gemeente ongeveer 1 800 lidmate getel. Daarna het jare van swaarkry gevolg, veral die depressie van 1930-’31. Dit het veroorsaak dat groot getalle lidmate – veral jongmense – na die stede verhuis het om ’n beter heenkome te soek. Dit het meegebring dat die ledetal mettertyd skerp gedaal het, later tot tussen 1 500 en 1 600.

“In daardie tyd het die Departement van Onderwys begin met sy sentralisasieskema om al die plattelandse skoolkinders na die dorpskole oor te plaas. Omdat net ’n klein persentasie van die plaaskinders in die skoolkoshuise gehuisves kon word, is van skoolbusse gebruik gemaak om die kinders te vervoer. Sommige van die soms in die snerpende koue en dan weer in snikhete hitte. Sentralisasie het toe meegebring die sluiting van elf of twaalf van ons buiteskole wat binne die grense van die gemeente geval het. Daardie buiteskole was in baie opsigte ligpunte in die gemeente wat toe uitgedoof is. In die buiteskole het die wyksmense vergader vir skoolkonserte, wyks- en Pinksterbidure en buitedienste, sodat die verdwyning van die skole ’n werklike verlies vir die kulturele en godsdienstige lewe van die gemeente was.

“Oorspronklik het die gemeente baie swak bygedra vir die Kerkfondse. Gemiddeld was die dankoffer-opbrengs ongeveer £700 per jaar. Gelukkig het met verloop van tyd ’n groot verbetering ingetree, in so ’n mate dat met die aanslag vir die Sinodale Fondse Middelburg later geplaas is in klas A – saam met die ryk gemeentes, soos bv. Ermelo en Pretoria. Hierdie verbetering was daaraan te danke dat die lidmate geleer het om te gee en te werk vir hulle Kerk. Wat ook veel bygedra het, is die feit dat die susters van die gemeente op die dorp die stelsel van sistematiese bydraes ingevoer het, waardeur tot £1 000 per jaar byeengebring is.

“Pinksterbidure was in die buitewyke geheel onbekend. Dus is programmas van dienste in al die buitewyke opgetrek, en Pinksteronderwerpboekies aan elke huisgesin in die buitewyke uitgedeel. Die gevolg was dat die opkomste baie bemoedigend was, sodat die laaste jare die gesamentlike afsluiting op Pinkster-Sondag in ’n goed gevulde kerk gehou is. Pinkster val gewoonlik in die oestyd; en so het baie vriende by die buitedienste hul beloftes gemaak van mielies, bone, aartappels ens. en is daar tot 100 mud ingesamel wat dan versprei is onder weeshuise en inrigtinge van die Kerk en die SAVF. Dat die gemeente geleer het om te gee, word ook bewys deur ruime bydreas vir Sending en Armsorg, vir die jaarlikse Transvaler-Kersfeesfonds, en ook vir die Mediese Fakulteit in Pretoria.”

Die geskiedenis van die gemeente hang dus vir ’n lang tydperk van 64 jaar saam met die lewenswerk van hierdie twee leraars. Op 1 Februarie 1946 is ds. W.H.S. Barnard as medeleraar bevestig. Hy bly in die gemeente tot hy sy emeritaat aanvaar in Oktober 1973. Nadat ds. Hofmeyr in 1948 sy emeritaat aanvaar het, word ds. W.J.G. Lubbe op 19 Februarie 1950 as sy opvolger bevestig.

Kerkbou, uitbreidings en sending

Ds. A.P. Burger het die hoeksteen van die huidige kerkgebou op 2 April 1887 gelê en in die jaar 1890 is die kerk ingewy. In die eerste 85 jaar van die gemeente se bestaan is nege dogters van die moedergemeente afgestig, geheel of gedeeltelik. Die jongste gemeentes op Middelburg is Middelburg-Wes, wat in 1982 gestig is, en Dennesig in 1991. Net soos op talle ander groter dorpe en in die meeste stede van Suid-Afrika waar die moedergemeente algaande kleiner geword het terwyl ál meer lidmate verder weggetrek het van die middedorp af, het hierdie gemeente se lidmaattal in die drie dekades sedert 1985 afgeneem van 1 189 belydende en 621 dooplidmate in 1985 tot 550 belydende en 102 dooplidmate in 2015. Terselfdertyd het die Ring van Middelburg se belydende lidmate ’n geringe afname getoon van 8 617 tot 7 959 en die dooplidmate skerp van 5 409 tot 2 513.

Reeds in die jaar 1910 is die NG sendinggemeente gestig, waar die Sending-kandidaat W.S. Bruwer in 1915 tot leraar bevestig is. Hierdie leraar het hier gestaan tot in Februarie 1946, toe hy demissie ontvang het. Sy opvolger was eerw. W.P. Dippenaar wat op 10 Augustus 1947 bevestig is. Ná sy vertrek na Odendaalsrus is ’n beroep andermaal op die emeritus leraar W.S. Bruwer uitgebring en is hy opnuut op 5 Mei 1951 bevestig.

Predikante

  • Daniel Ferdinand Bosman, 9 September 1874 – 20 Desember 1880
  • Alwyn Petrus Burger, 11 Oktober 1884 – 28 Oktober 1928 (emeriteer)
  • Georg W S Hofmeyr, 18 Mei 1929 – 7 November 1948 (emeriteer)
  • Willem Hendrik Stefanus Barnard, 1 Februarie 1946 – 21 Oktober 1973 (emeriteer)
  • Willem Jacobus Gerhardus Lubbe, 19 Februarie 1950 – 1952
  • T Maré, 1966 – 1972
  • W A Janse van Rensburg, 1971 – 1974
  • C J Benadé, 1973 – 1978
  • J G Lindeque, 1979 – 1984
  • P L Moolman, 1980 – 1984
  • P G von Wielligh, 1989 – 1995
  • Piet Hattingh, 1992 – 2013
  • Jaco van Rooyen, 1989 – 2018