NG Gemeente Merlindale

NG Gemeente Merlindale

gestig

16 November 1949

ring

Ring van Witbank

Adres

Enkeldebosch, Vanwyksdrif

Eerste predikant

Ds. N.J. Swart

Ontbind

Februarie 2022

Die NG Gemeente Merlindale was ‘n gemeente in die Oostelike Sinode.

Stigting

Onder ‘n geweldige stortbui het ‘n groot aantal lidmate om 2.30 nm. op Woensdag 16 November 1949 in die waenhuis van J.N. Swart op Welstand vergader, aldus die notule van die afstigtingsvergadering van die gemeente Merlindale. Dis ook die eerste hoofstuk in die gemeente se geskiedenis. Die afstigting het plaasgevind van die gemeentes Bethal, Middelburg (Tvl.) en Witbank. Die naam van die dorpie Merlindale, wat nog geproklameer moes word, het die naam van die gemeente geword. Die naam is blykbaar ’n samestelling van “Merlin”, ‘n soort valk en “dale”, laagte; eintlik dus Valklaagte. Vroeër het die grootpad na Johannesburg hierlangs deurgegaan en meer as een swaar gelaaide wa het daar vasgeval in die laagte waar baie van die valksoort was.

Beginjare

Met moed, ywer en besieling het die gemeente die nuwe taak aangepak en gehoop op die spoedige proklamasie van die dorp. Eers die vierde beroep was geslaagd, toe ds. N.J. Swart van Primrose-Oos die beroep aanvaar het. Op 11 November 1950 is hy bevestig as leraar van die gemeente op die plaas Welstand waar hy gebore is, grootgeword, later geboer, en intussen ‘n korrespondensie-kursus gevolg het totdat dit moontlik was om die studie te gaan voortsit vir evangeliedienaar. Saam met sy eggenote, wat ook in die gemeente opgegroei het, het hulle met moed begin om andermaal ‘n jong gemeente te help om op die bene te kom.

‘n Donker dag vir die gemeente, waarop almal in rou was, was 18 Maart 1951, toe die eerste lidmaat van die gemeente op Welstand ter ruste gelê is, die alombekende en geliefde tant Maggie, die moeder van die leraar. ‘n Teleurstelling het verder gevolg toe bekendgemaak word dat die proklamasie van die dorp uitgestel is en dat die gemeente geen plek het om ‘n huis van aanbidding op te rig nie. In 1951 berig Ons gemeentelike feesalbum: “So in die veld in woonhuise, waenhuise en onder die bome gaan die gemeente voort, met die hoop en vertroue dat daar wel ‘n uitkoms sal kom en die gemeente eersdaags ‘n eie plekkie van aanbidding sal besit, al is dit ook eenvoudig. Solank as ons sy Woord het en die krag van die Heilige Gees, God as ons Vader en Christus as ons Koning, het ons die belangrikste. Hy wat roep sal ook voorsien.”

Predikante

  • N J Swart, 1950 – 1953
  • A S du Toit, 1953 – 1957
  • A Smit,1957 – 1966
  • W J Pretorius, 1967 – 1971
  • W Rossouw, 1971 – 1972
  • J P Schoeman, 1973 – 1978
  • Clem Marais, 1978 – 1979
  • W van Wyk, 1981 – 1987
  • B L van Wyk, 1987 – 2003
  • G A Cruywagen, 2004 – 2005 (Past hulp)
  • J M Jooste, 2004-2005 (Tentmaker)
  • G H Theron, 2004 – 2008 (Past hulp)