NG Gemeente Marikana

Die NG Kerk Marikana is ontwerp deur Gerard Moerdyk. Dit is in Junie 2009 gesloop om plek te maak vir ’n winkelsentrum.

gestig

1944

nou

Magaliesberg Gesinskerk

ring

Ring van Krokodilrivier

adres

Buffelsaal, ATKV-Buffelspoort, Marikana

eerste predikant

Ds

Die NG Gemeente Marikana is ‘n gemeente in Noordelike Sinode.

Die Marikana-gemeente het ‘n lang geskiedenis, maar voor die ontstaan van ‘n selfstandige gemeente, was die lidmate deel van die Nederduits Gerformeerde Gemeente in Rustenburg. Afstande was egter ‘n groot probleem en daar was ‘n brandende behoefte by die lidmate vir ‘n eie plek van aanbidding. Op 17 Oktober 1942 skryf die diaken TH Duvenage van Barnardsvlei ‘n brief aan die Rustenburgse kerkraad, waarin aansoek gedoen word om goedkeuring vir ‘n nuwe gemeente in die Marikana-omgewing. So vind daar dan ook op 26 Augustus 1943 ‘n vergadering aan huis van P Grobler te Buffelspoort plaas, waar dr A van Schalkwyk, leraar van Rustenburg, die lidmate se gevoelens raadpleeg en op 28 Augustus 1943 vra die kerkraad van Rustenburg magtiging van die Ring om voort te gaan met die voorgestelde afstigting.
So vind die afstigting van die nuwe gemeente op 7 September 1943 plaas en op 6 Oktober 1943 word daar berig dat die afstigting van die gemeente deur die Ring gemagtig is en dat waarborglyste ingehandig moet word. Dit het egter nie so vlot verloop nie en weens ongunstige weersomstandighede, kon daar teen 12 Februarie 1944 slegs drie lyste ter tafel gelê word. Lede van die kerkraad het egter die versekering gegee dat die waarborge nie minder as ₤450 sou beloop nie en die voorgenome afstigting is deur die kerkraad goedgekeur. Die amptelike afstigting sou moontlik na die nagmaal in April plaasvind.
Op 1 Maart 1944 lees ds JM du Toit ‘n brief van die Rustenburgse kerkraad aan die kerkraad voor, waarin gemeld word dat die Ringskommissie die betrokke stukke goedgekeur het en dat daar met afstigting voortgegaan kan word. Tydens ‘n vergadering in die skoolgebou te Buffelspoort op 8 Maart 1944, waar albei leraars van Rustenburg teenwoordig is, gee ds du Toit kennis dat die afstigting op 22 April 1944 sal plaasvind en gedurende die naweek van 22-23 April 1944 vind ‘n indrukwekkende afstigtingsgeleentheid by die skool op Buffelspoort plaas met gevierde sprekers, waaronder prof Pelissier van die Universiteit van Pretoria. Die nuwe gemeente kry ook ‘n naam en staan voortaan as Rustenburg-Oos bekend.
Die eerste kerkraadsvergadering van die gemeente Rustenburg-Oos met ds JM du Toit as voorsitter het op 3 Mei 1944 plaasgevind, waartydens die eerste kerkraad, bestaande uit die ouderlinge DJ van der Merwe (Groenkloof), Daniël Barnard (Mooinooi), Theunis Duvenage (Barnardsvlei), Stephanus Viljoen (Sterkoog), Thomas de Jager (Marikana), Renier Smit (Kafferskraal) en Willem Engelbrecht (Buffelspoort) verkies is.
Daar is op toe op 22 Augustus van dieselfde jaar besluit om voort te gaan met die bou van ‘n kerkgebou met 500 sitplekke teen ‘n beraamde koste van ₤12 500 en op 2 April 1949 word die hoeksteen deur ds WJG Lubbe gelê. Gedurende die naweek van 1 tot 2 Oktober 1949 word ‘n belangrike mylpaal in die gemeente se bestaan bereik toe die kerkgebou feestelik ingewy word.
Op 11 Februarie 1950 is demissie aan die gemeente se leraar, ds Lubbe verleen wat ‘n beroep na Middelburg aangeneem het en op 26 April 1950 word ds NAS Lombard na die gemeente beroep. Op 2 Junie 1956 neem ds Lombard egter afskeid van die gemeente en op 1 September1956 word die nuwe leraar, ds PJ du Toit bevestig.
Die finale uitgawe van ₤9 464, vier sjielings en sewe pennies vir die kerksaal word op 28 Januarie 1959 goedgekeur.
Tydens ‘n kerkraadsverdadering op 27 Oktober 1960 word daar besluit om die gemeente se naam te verander van Rustenburg-Oos, na die Nederduitse Gereformeerde Kerk Marikana. Deur die loop van 1962 het ds du Toit die gemeente verlaat en in 1965 neem ds WJ Lubbe die beroep na die gemeente Marikana aan. Daarna het ds MH Pieters, WCS Swanepoel en JMC Horn ook as leraars in die gemeente gedien. Die huidige leraar van die gemeente, ds John Vosloo, het sy intreepreek op 1 Augustus 1992 gelewer.
Oor die jare het die gemeente gegroei van ‘n beskeie sewe wyke, tot ‘n vooruitstrewende 234 wyke met die vyftigste bestaansjaar in 1994. Die tyd het ongelukkig nie stilgestaan nie en die veranderende demografie van die dorp en distrik, met die oorskakeling van landbou na mynbou as die hoofstroom-aktiwiteit het die gemeente se lidmate oor die afgelope 15 jaar van 13 000 tot slegs 470 laat krimp. As deel van die rasionaliseringsproses en om veiligheidsredes is daar in 2004 besluit om die kerkgebou te verkoop – ‘n stap wat in Junie 2009 uiteindelik tot die sloping van die kerk gelei het.
Weens die feit dat die gebou nog nie 60 jaar oud was nie, soos die wet bepaal, het die gebou nog nie gekwalifiseer om as nasionale monument verklaar te word nie.
Die Marikana-gemeente se eredienste het daarna in die skoolsaal van Laerskool Elandskraal op Mooinooi plaas.
Nadat die gemeente aanvanklik hul eredienste by Laerskool Elandskraal gehou het, het hulle ook vir ‘n tydperk ons eredienste by Gracepoint Konferensiesentrum gehou voordat hulle by hul huidige tuiste by ATKV Buffelspoort uitgekom het. Die huidige situasie is ‘n wen-wen situasie vir die gemeente en ATKV Buffelspoort omdat hulle nie geboue het om in stand te hou nie, en die ATKV nie Sondae ‘n leraar hoef te kry om vir die vakansiegangers eredienste aan te bied nie.