NG Gemeente Maclear

NG Gemeente Maclear

gestig

1916

Ring

Ring van Dordrecht

Adres

H/v Van Riebeeck- en Thompsonstraat, Maclear

Eerste predikant

Ds

Die NG Gemeente Maclear is ‘n gemeente in die Sinode van Oos-Kaapland.

Stigting

Maclear was eers ‘n buitewyk van die gemeente Umtata en toe van die NG gemeente Ugie (gestig op 14 Februarie 1903). Maclear het reeds in 1905 ‘n eie kerkie gekry danksy groot opoffering, want die mense in dié streek was destyds baie arm. In 1916 is Maclear dan ook tot ‘n selfstandige gemeente afgestig met ‘n ledetal van ongeveer 400. In 2012 het die belydende lidmate slegs 140 getel weens die voortdurende ontvolking van die blanke inwoners van die Noordoos-Kaap. Binne die grense van dié dogtergemeente van Ugie, wat self indertyd net 13 jaar oud was, het Tentkop, ‘n buitewyk met al die voorregte van ‘n selfstandige gemeente geval. Tentkop is genoem na die 1889 m bergpiek noordwes van Maclear aan die pad na Rhodes. Ook Mount Fletcher, sowat 72 km noord van Maclear en diep in wat destyds ‘n swart reservaat was, was ‘n buitewyk van die gemeente, waar die lidmate ook al die voorregte geniet het wat Tentkop toegesê is.

Eerste kergeboutjie van die Maclear gemeente

Eerste leraars

Die eerste leraar wat ‘n beroep teen ‘n salaris van £250 na Maclear aangeneem het, was prop. W.R. de Villiers. ‘n Koster en en orreliste is ook aangestel, eersgenoemde teen ‘n salaris van £18 per jaar en laasgenoemde teen £15 per jaar. Die woning van ene mnr. Warren is vir ‘n pastorie teen ‘n bedrag van £900 aangekoop.

Op 22 Maart 1919 besluit die kerkraad om aan ds. De Villiers siekteverlof toe te staan. Hy is in Junie 1919 oorlede, nadat hy slegs 22 maande lank as predikant kon arbei. Intussen het ds. M.T.R. Smit ‘n beroep na die NG gemeente Ugie aanvaar. Hy was ‘n man met ‘n warm hart vir arm kinders, en as konsulent het hy die kerkraad van Maclear aangespoor om ‘n koshuis te laat bou. Ds. J.P. Kriel is ‘n jaar later as die opvolger van ds. De Villiers op Maclear bevestig.

Die koshuis is voltooi en het in ‘n groot behoefte voorsien, maar dit sou ‘n oorsaak van geldelike kommernisse vir die gemeente word en later ontwikkel in ‘n bittere stryd tussen die Kaaplandse Provinsiale Administrasie en die kerkraad. Die gemeente het die stryd verloor en so het die koshuis, wat met soveel opoffering uit arm beurse daargestel is, teen ‘n betreklike geringe vergoeding in die hande van die Administrasie oorgegaan.

Vergroting van kerkgebou

Hoewel die mense ver oor ongebaande weë met ossewaens moes ry om by die kerk te kom, was daar ‘n groot persentasie lidmate wat die dienste getrou bygewoon het. Die kerkie op Maclear was dan ook kort ná die afstigting te klein en moes vergroot word. In 1896 het die Afrikaners en die Wesleyane saam die kerkie gebou wat tans die Metodistekerk is. Daar is na ‘n tyd kerk gehou in die klein kerkie naby die magistraatskantore, wat eers ‘n biblioteek was vanaf 1896. Die ou kerk is gebou in 1905 en daarna is die gedeelte aangebou wat na die rivier toe wys.

Die sendingwerk is blykbaar tydens die eerste jare van die gemeente Maclear se bestaan links laat lê, want in 1925 word vir die eerste keer in die notule melding gemaak van sendingwerk; en in 1930 word vir die eerste keer ‘n evangelis op Maclear aangestel. Kort voor lank het die gemeente egter ‘n kerkie en pastorie laat bou in die bruin woonbuurt, Nuwerus. Later het die kerkraad ook geld ingesamel om ‘n sendingkerkie in die swart woonbuurt te laat oprig.

Die gemeente se ou kerkie, weliswaar vergroot, het teen die begin van die jare vyftig uitgediend begin raak en toe is daar planne in die werk gestel om ‘n nuwe te laat oprig.

Predikante

  • Edwin Cheere Anderssen, 1896 – 1899

  • William Robertson de Villiers, 1917 – 1919
  • Jacobus Petrus Kriel, 1920 – 1924
  • Nicolaas Franciscus Petrus Burger, 1925 – 1928
  • Johan George Weber, 1929 – 1933
  • Willem Carel Van der Merwe de Swardt, 1933 – 1939
  • Mechiel Johannes Horn, 1940 – 1944

  • Daniël Jacobus Retief, 1945 – 1952
  • Hendrik Francois Conradie, 1952 – 1960
  • Gerjo van der Merwe, 1961 – 1964
  • Rudolph Christopher Herholdt, 1964 – 1969
  • Jan Abraham du Plessis, 1974 – 1978
  • Francois Botha, 1979 – 1981
  • Etienne Marthinus van Wyngaardt, 1982 – 1984
  • Christo Conradie 1985 – 1986

  • Jacobus Cornelis Engelbrecht, 1986 – 1990
  • Salomon Jansen Pretorius, 1991 – 2005
  • Willem (Willie) Abraham van Zyl, 2005 – 2009
  • Hendrik Wessel de Kock, 2010 – 2014
  • Jan Willem Janse van Rensburg, 2016 – hede