NG Gemeente Luipaardsvlei

Die NG kerk Luipaarsvlei. Ds. S.P. du Plessis het die hoeksteen op 6 Junie 1959 gelê. Dit vermeld nie ’n argitek nie; net K.E. Albrecht as bouadviseur en M.J. Steenkamp as bouaanemer.

Gestig

Maart 1946

Afgestig van

Roodepoort

Waarby ingelyf

Krugersdorp

Ring

Krugersdorp

Adres

H.v. Stasie- en Morcomstraat, Lewisham, Krugersdorp

Sluit in

Lewisham, Wentworth Park, middedorp

Eerste predikant

C.A. Neethling (1909-1919)


Die NG Gemeente Luipaardsvlei, waarby die ou moedergemeente Krugersdorp ingelyf is, is ’n gemeente in die Sinode Goudland (voorheen Sinode van Wes-Transvaal). Die kerkgebou en saal is in die woonbuurt Lewisham geleë.

Agtergrond en stigting

Reeds omstreeks 1900 is op Luipaardsvlei ’n kerksaaltjie gebou, veral op inisiatief van ’n klompie ywerige en kerkliewende lidmate. Die hoeksteen is gelê deur ds. Carel van der Merwe. In Maart 1946 is Luipaardsvlei van Roodepoort as ’n selfstandige gemeente afgestig en op 19 Desember is die eerste leraar, ds. H.P. van Straten, bevestig.

Dadelik moes ’n begin gemaak word met die bou van ’n woning vir die leraar en sy gesin, en voor einde 1947 kon hulle intrek neem in die sierlike pastorie, waar die dominee vrugtebome aangeplant, ’n grasperk uitgelê en ’n roostuin begin het.

Met afstigting was die ledetal iets oor die 600; vyf jaar later het dit al tot tussen 700 en 800 aangegroei en steeds vinnig uitgebrei. ’n Tak van die Transvaalse Vrouesendingvereniging en van die Mannesendingbond is gestig en albei het goeie werk gedoen, sowel as die Mede-Sendingarbeidsters en die sterk Kindersendingkrans, waarvan ook ’n wykstak gestig is. Die Sondagskool het geweldig uitgebrei en is goed georganiseer. Benewens die Dorpsondagskool was daar nog vyf wykstakke. Die Christelike Strewers en die CJV het omstreeks 1950 tot ’n Kerkjeugvereniging geamalgameer. Die Bond van Dienaresse het so in die stilte goed gewerk en ’n ruim bydrae aan die kerkraad vir die bouskuld gegee en geestelike werk in die gemeente gedoen.

Met die vinnige aanbou van huise in die nuwe dorpsgebied Witpoortjie, was dit nodig om daar ook bouerwe vir die kerk te koop en sodoende het die jong gemeente onder ’n swaar skuldelas gebuk gegaan. Die gemeente Witpoortjie is eindelik in 1957 afgestig.

Sending

Die lotgevalle van die duisende swart mense in die Luipaardsvlei-township het die sendingliewende pastoriepaar ter harte gegaan en met behulp van ’n aantal ywerige sendingvriende in die gemeente is die werk aangepak. Reeds in 1950 kon ’n netjiese en doelmatige kerkie ingewy word, waartoe die Randse Sendingraad ook ’n gewaardeerde bydrae gelewer het. Die sendingkerkie het ook diens as skool gedoen en ’n evangelis-onderwyser het die kleinspan onderrig, terwyl die leraar en van die ouderlinge Sondagmiddae daar diens gehou het.

Huisbesoek was destyds nie ’n maklike taak nie omdat feitlik alle huisvaders uitgewerk en eers ná vyfuur tuisgekom het.

Die moedergemeente Krugersdorp was 120 jaar oud toe dit in 2010 by Luipaardsvlei ingelyf is.

Luipaardsvlei se kerkgebou is geleë op die hoek van Stasie- en Morcomstraat, Lewisham, Krugersdorp. In 2019 was die leraar ds. Anton Mieny. In 2019 het die dooplidmate 92 getel en die belydende lidmate 322 getel, vergeleke met 163 en 545 ses jaar tevore.

Predikante

  • Hendrik Petrus van Straten, 1947–1958 (aanvaar sy emeritaat)
  • Sarel Petrus du Plessis, 1958 tot 1961.
  • G.A. Cruywagen, 1969–1974
  • Hendrik Johannes Muntingh Haugh, 1974–1978