NG Gemeente Luckhoff

Die kerkgebou, afgeneem in 2007. Ds. J.H. Louw het die nuwe toring (die oue was bo-op die kerk se dak, nes die Gereformeerde kerk Bethulie s’n) se hoeksteen op 1 Februarie 1958 afgelê.

Gestig

1892

Ring

Fauresmith

Adres

Barnardstraat, Luckhoff

Sluit in

Lukchoff en distrik

Eerste predikant

E.G. Malherbe (1895–1904)


Die NG Gemeente Luckhoff ressorteer onder die Ring van Fauresmith in die Suid-Vrystaat. Met sy stigting in 1892 en was dit die 33ste gemeente in die Vrystaatse Kerk.

Luckhoff is ’n dogter van Fauresmith, hoewel klein gedeeltes van die gemeentes Jacobsdal en Philippolis ook tot die nuwe gemeente toegevoeg is. Die dorpie is in 1892 aangelê. Die kerkraad het die plaas van Izak Rabie aangekoop en dit later aan die munisipaliteit verkoop. Die eerste erwe is in 1893 uitgegee. Destyds was wyle ds. H.J. Lückhoff die leraar van Fauresmith en die dorpie is toe na hom genoem “uit erkentlikheid vir dit wat hy vir die gemeente gedoen het by haar stigting, sowel as met betrekking tot die plek waar sy gestig is”, volgens Ons Kerk Album (1917).

Die noodkerk wat van die Anglo-Boereoorlog tot 1924 diens moes doen.

Die dorpie en gemeente het goed gegroei, maar is in die Tweede Vryheidsoorlog – met in begrip van die kerk en pastorie – totaal afgebrand en vernietig, en moes ná die oorlog weer opgebou word terwyl ’n skuld van £600 nog op die kerk gerus het. Kort ná die Tweede Vryheidsoorlog was die ledetal van die gemeente 550 en die sieletal 1 000, maar met die trek van die jong mense na die stede, waar destyds volop werk was, het die ledetal in 1952 reeds op net 410 gestaan en die sieletal op 610.

Jare lank moes die gemeente in ’n noodkerk aanbid. In 1917 berig ds. Van Wijk in Ons Kerk Album: “Er was reeds de som van £1 700 bijeengebracht, en men leefde in de hoop spoedig een aanvang te maken met het oprichten van een behoorlijk Godsgebouw, toen de Europeesche Oorlog uitbrak en een einde maakte aan alle verwachtingen daaromtrent.” Die nuwe kerk is eers in 1924 gebou en ’n nuwe, moderne pastorie in 1930. In 1908 was die jaarlikse dankoffers plus-minus £400 tot £500; in 1952 was dit £2 940.

Die eerste leraar was dr. E.G. Malherbe, wat die gemeente van 1895 tot 1904 nege jaar lank bearbei het tot hy ’n beroep aangeneem het na Villiersdorp. Die tweede leraar, ds. Z.J. van Wijk, was ’n jaar lank hulpprediker van Oudtshoorn voor hy op 21 Augustus 1904 hier in sy enigste gemeente bevestig is. Langer as drie dekades het hy in die lief en leed van die gemeente gedeel tot hy op 1 April 1937 diens as assistent-redakteur van Die Kerkbode aanvaar het. Nege jaar en 11 maande later het hy sy emeritaat aanvaar, maar sy rustyd was van korte duur, want op 3 April 1949 is hy oorlede.

Wynand Louw het die NG kerk op Luckhoff in vennootskap met Gerard Moerdijk ontwerp. Ds. Z.J. van Wyk het die hoeksteen op 21 April 1923 gelê.

Die oorsprong van die naam Luckhoff

Prof. P.J. Nienaber skryf in Suid-Afrikaanse pleknaamwoordeboek, deel 1 (1963) daar bestaan teenstrydige verklarings oor die herkoms van die naam Luckhoff. Charles Pettman in sy Place Names of the O.F.S. (1922) en Joubert in De oorsprong van tweehonderd S.A. plaatsnamen (1917) sê dat die plek vernoem is na ds. A.D. Lückhoff, predikant van Colesberg, later Kaapstad en toe Durbanville. Hy was jare lank aktuaris van die Kaapse Kerk.

Eerw. J. Kachelhoffer, van Observatory, het hierdie verklaring in Die Burger van 7 Januarie 1939 betwis na aanleiding van ’n artikel deur prof. P.J. Nienaber oor Luckhoff in dieselfde koerant. Kachelhoffer skryf: “Ek is van Fauresmith, daar gebore en groot geword. U skryf in Die Burger dat die dorp Luckhoff na ds. A.D. Lückhoff, Sr., genoem is. Dit is nie so nie. Koffiekuil was die plaas van mnr. Izak Rabie, en toe dit ’n gemeente word, is dit na ds. Luckhoff van Fauresmith genoem. Ek herinner my goed hoe hy meer as eens afgekondig het: ‘Ik zal D.V. a.s. week te Luckhoff (de plaats naar mij vernoemd) een dienst houden.’ Ds. (Z.J.) van Wijk, assistent-redakteur van Die Kerkbode, was 32 jaar predikant op Luckhoff. Hy sal my bewering bevestig. So ook ds. E.G. Malherbe, van Somerset-Wes.” (Ds. Malherbe het in 1937 nadat hy langer as 32 jaar predikant van Villiersdorp was, sy emeritaat aanvaar. Sy enigste ander gemeente was Luckhoff van 1895 tot begin 1904.)

Ds. Heinrich Jacob Luckhoff is gebore op 30 November 1842. Hy is georden as predikant van Fauresmith op 16 Mei 1868; predikant van Maclear in 1900. In 1909 het hy sy emeritaat aanvaar, en is oorlede op 22 April 1923.

Predikante

  • Ernst Gideon Malherbe, 1895–1904
  • Zacharias Jacobus van Wyk, 1904–1937 (waarna tot sy aftrede in 1947 assistent-redakteur van Die Kerkbode)
  • Daniël Johannes van der Merwe, 1937–1942
  • Nicolaas Albertus Smit Lombard, 1942–1946
  • Jan Hendrik Crous, 1947–1950
  • Andries Petrus du Preez, 1951–1954
  • Ockert Johannes Fourie, 2009 – hede