gestig
17 Augustus 1946
adres
–
eerste predikant
Die NG gemeente Livingstone was ‘n gemeente in die Sinode van Midde-Afrika.
Livingstone was die ou hoofstad van Noordwes-Rhodesië en later die hele Noord-Rhodesië. Met die koms van die treinspoor, skuif die swaartepunt van die land egter spoedig na die geografiese sentrum, nI. Lusaka. Sedert 1904 is die eerste diens deur besoekende Ieraars altyd op Livingstone gehou, maar wanneer dr. D. F. Malan in 1912 die land besoek, beveel hy reeds aan dat die middelpunt van ‘n moontlike nuwe gemeente Lusaka sat wees. So gebeur dit dan ook: die gemeente wat op 16 Junie gestig word, heet Lusaka. In 1935 word ook die landsregering na Lusaka verskuif, en Livingstone herwin nooit sy vroeëre belangrikheid nie.
Dat Lusaka egter bewus is van Livingstone se behoeftes, blyk deur die jare uit die kerkraadsnotules. So bv. word besluit op 7 Mei 1921, die dag toe Lusaka se kerk ingewy is: “dat indien er grond te Livingstone verkrygbaar is er dan aldaar, op eigen kosten, een eenvoudige kerktje op te richten, en indien nodig, zal Lusaka proberen om huip te verlenen.”
Die soektog na grond begin dadelik, maar eers in 1925 berig ds. H. R. Barrish van Bulawayo, die konsulent, dat die regering ‘n “stand” te Livingstone gegee het vir ‘n kerkplek.
Na veel gesukkel word eindelik met die bouwerk begin en die hoeksteen op 20 Oktober 1926 gelê. Daar was destyds maar sowat 30 lidmate, nogtans word die kerkie skuldvry ingewy! Teen hierdie tyd is Kalomo ook al ‘n vername dienspunt in die suidelike deel van die gemeente.
1933 is depressie maar daar is nou soveel mense in die gebied van Livingstone, dat die Kerkraad van Lusaka op 8 Julie besluit om die spoorwegsending te vra vir ‘n werker vir Livingstone. In 1934 word die Algemene Armsorg- en Algemene Sendingkommissie albei om hulp genader. Op 8 Junie 1935 toe ds. P.J. Pienaar, Armsorgsekretaris van die Vrystaat, die kerkraadsvergadering bywoon, word besluit om ‘n werker vir Livingstone aan te stel. Die voorwaarde is dat die plaaslike Lidmate £100 per jaar self vind. Die grens tussen die twee werkkringe loop by Kalomo. Op 14 Maart 1936 berig ds. J.J. Driescher aan die Kerkraad dat prop G. W. Roux aangestel is.
Met sy koms word Livingstone ‘n half-selfstandige wyk van Lusaka: oor huishoudelike sake, selfs oor finansies, beskik Livingstone self; aan Lusaka moet hulle slegs hulle deel van plaaslike sendingbydraes, sinodale aanslag en heffinge betaal. Dit lyk nie of die reëling te goed werk nie, want op 6 Februarie 1937 besluit die Kerkraad om geen uitbetalings aan Livingstone te doen nie, aangesien Livingstone blykbaar hulle verpligtinge nie kon nakom nie. Daar word ook besluit om, wanneer prop. Roux se dienstyd in Maart verstryk, nie weer ‘n aanstelling te maak nie. Op 13 Maart word berig dat daar wel £156 van Livingstone ontvang is, maar die Kerkraad voel dat Livingstone weer ‘n gewone wyk van Lusaka moet word.
Op 20 Maart 1937 hou ‘n deputasie van Lusaka ‘n gemeentevergadering te Livingstone, en lg. betuig hulle instemming om ‘n gewone wyk te word, mits die leraar viermaal per jaar twee weke in Livingstone sal deurbring. Die Kerkraad keur hierdie reëlings op 19 Junie goed, en besluit ook om, ter wille van die eenheid van die gemeente, eenkeer per jaar op Livingstone te vergader. Sou dit nie moontlik wees nie, gaan daar ten minste ‘n kommissie van Lusaka na Livingstone.
Die kerkraad van Lusaka vergader net eenkeer te Livingstone nI. op 4 September 1937. Daardie vergadering het ‘n beter gees tussen die twee wyke tot gevolg. Ook word besluit om vir Livingstone drie kerkraadslede te kies, een elk vir Livingstone, Kalomo en die Bos – Ig. is die bosse in die buurt van Mulobezi en Kataba waar hout gesaag is en wat vir baie jare alleen met die houttreintjie bereikbaar was.
In die volgende paar jaar word Livingstone se sake kort-kort deur Lusaka se Kerkraad bespreek. So by. kry Livingstone op 19 Maart 1938 toestemming om die kerk ook te gebruik “vir hulle C.J.V. en Kultuurbyeenkomste, mits die plaaslike kerkraadslede sal toesien dat niks onbehoorliks soos bv. rook e.a. dinge daar plaasvind nie.” In 1938 word ‘n sosiale werkster mej Stander deur die Oranje Vroue Sendingbond en die Armsorgkommissie van die Vrystaat na Lusaka gestuur. In ‘n mate moet sy ook die bearbeiding van die buitewyke behartig. Die Kerkraad besef die behoefte, en besluit daarom op 24 Junie 1939 om haar aan te stel mits die buitewyke Broken Hill, Livingstone Choma en die Bos tesame £40 per jaar bydra. Mej Stander doen goeie werk veral in die verafgeleë wyke, maar daar is altyd gesukkel om haar salaris bymekaar te kry, en in Junie 1940 vertrek sy.
Die kerkgeboutjie lewer deur die jare veel probleme: in 1929 reeds vra Livingstone dat iets gedoen word om die barste in die mure teen te werk. Die Kerkraad besluit “om een sloot te grawe en bome ze wortels te keer onder fondament en yzer bote deur Kerk ver barste.” Die posisie bly egter onbevredigend en op 21 November 1942 besluit die Kerkraad “dat die diaken van Livingstone ‘n persoon kry om die gebou te laat afbreek onder sy toesig. . . na die reënseisoen verby is. ” ‘n Boufonds word begin, en sodra dié sterk genoeg is, sou met die heropbou van die kerk begin word. Die sloping vind egter nooit plaas nie, en die ou kerkie staan vandag nog. (Dit is in 1960 aan die Sewende Dag Adventiste verkoop.)
In 1942 word weer oor die moontlikheid van ‘n werkster gepraat, maar die Kerkraad besluit om op 24 Julie 1943 “om ‘n oefenaar vir Livingstone se omgewing aan te stel mits sy salaris elders kan gevind word.” Dit is egter weer ‘n V.S.B.-werkster wat kom, want op 19 Februarie 1944 word genotuleer “dat mej. van Tonder die vorige week in die wyk Livingstone aangekom en werksaamhede begin het.” Sy doen vir twee jaar goeie werk.
Op 18 Augustus 1945 stuur die Ringskommissie ‘n aanbeveling na die Kerkraad van Lusaka dat Livingstone tot ‘n aparte gemeente afgestig word. Die Kerkraad stem toe, en beveel aan dat ook Choma en die Saagmeulebos by die nuwe gemeente ingesluit word. In die volgende maande is daar heelwat onderhandeling, en die gemeente Bulawayo word ook daarby betrek: die Ringskommissie wil dat Bulawayo ‘n medeleraar beroep, en hy moet dan viermaal per jaar Livingstone besoek. Die Kerkraad is hiermee nie tevrede nie, en wil liewer dat Livingstone sy eie leraar sal hê. Uiteindelik word besluit dat Livingstone afgestig word uit ‘n deel van Lusaka sowel as ‘n deel van Bulawayo.
Op 17 Augustus 1946 word die gemeente Livingstone gestig. Van Suid na Noord strek die gemeente van Halfway House in Suid-Rhodesië tot by Muzoka-stasie, tussen Choma en Pemba, in Noord-Rhodesië, aan die oostekant loop hy in die wildernis van die Zambesi-vallei dood, en in die Weste sluit hy Barotseland in. Die enigste eiendom wat daar is, is die treurige ou kerkie, £100 bruidskat van elk van die moedergemeentes, plus die trustgelde in Lusaka se bankrekening.
Die nuwe gemeente beroep dadelik, en vroeg in 1947 word prop C.C. Colijn as eerste leraar georden. Aanvanklik woon hy in ‘n losieshuis, later in ‘n woonstel. ‘n Kommissie word aangestel om na die bou van ‘n kerk en pastorie ondersoek in te stel, maar in 1948 is ds. Colijn weg.
‘n Vakature van drie jaar volg en die Kerkraad is raadop. Eindelik slaag hulle daarin om in die laaste helfte van 1951 die dienste van ds. J.G. Strydom (Oom Valie) te bekom. Die gemeente onthou nog met groot dankbaarheid sy verblyf. In die vakature sit die Kerkraad nie stil nie, maar werk hard om ‘n pastorie gebou te kry.
Terwyl dié nog in aanbou is, word ds. P.G. Warnich op 1 Desember 1951 as leraar bevestig en bly tot Augustus 1956. In sy tyd word ‘n ruim, doeltreffende saal op Choma gebou.
Hierdie keer duur die vakature nie lank nie, en in Januarie 1957 word ds en mev. M.M. Nieuwoudt in die gemeente ontvang. Daardie jaar in Julie besluit die Kerkraad om ‘n nuwe kerk te bou. Die pastorie is intussen verkoop en die leraar na ‘n huurhuis. Onderhandeling om ʾn terrein duur lank, en eers in Oktober 1959 word ‘n pragtige perseel langs die Grootpad na die Noorde toegestaan. Reeds op 5 Desember word die tender vir die bou van die kerk en pastorie saam aan die firma Gebrs. Nieuwoudt van Ndola toegestaan. Die hoeksteen word op 24 April 1960 gelê, die pastorie op 6 Junie betrek en die Kerk op 10 en 11 September 1960 ingewy.
Intussen het die gemeente so gegroei dat dit teen die middel van 1958 nodig word om ‘n hulpleraar vir die Suid-Rhodesiese deel van die gemeente met Wankie as middelpunt, te kry. Ds. J.H. van Wyk word in hierdie pos aangestel, maar teen die einde van 1958 is die posisie reeds so gunstig dat Wankie tot ‘n selfstandige gemeente afstig.
Ds. Nieuwoudt bly tot aan die begin van 1961. ‘n Paar maande later word ds. J.F. Kocks as leraar bevestig. Soos vir die ander gemeentes in Noord-Rhodesië, was vir Livingstone die vyftigerjare die bloeitydperk. Daarteenoor staan die sestigs in die teken van verval.
In 1961 het Livingstone ongeveer 440 lidmate. Met die politieke woelinge van die vroeë sestigs, begin die mense wegtrek. In 1963 lui die doodsklok oor die Federasie en dit, saam met onafhanklikheid vir Noord-Rhodesië voor die deur, laat nog meer mense trek. Livingstone begin die knyp voel, en vra Lusaka in Mei 1964 om hulp – Lusaka kan nie. ‘n Gepoogde kombinasie met Mazabuka slaag ook nie. Op 24 Oktober 1964 word die Republiek van Zambië gebore. In Junie 1965 is die posisie van die Kerk so kritiek, dat verteenwoordigers van al die Kerkrade in Lusaka vergader om oor die toekoms te beraadslaag. Veral Livingstone het dit moeilik: teen die einde van 1965 is daar 300 van die 440 lidmate wat daar in 1961 was, weg. In hierdie jare was daar ook groot beroeringe in die gemeente, sodat ‘n verdere 44 lidmate uit die Kerk bedank het. In Januarie 1966 sien Livingstone nie langer kans om voort te gaan nie: op die 15de besluit die Kerkraad dat die gemeente ontbind. en op 24ste vertrek ds. Kocks.
Lusaka wil Livingstone nie inlyf nie, maar bied aan om te kombineer. Dit word aanvaar, en sedert Maart 1966 bedien die leraar van Lusaka ook Livingstone. Livingstone sien hom dan een naweek per maand, en met huisbesoek. Aanvanklik ry hy elke maand met die kar, maar later koop Livingstone ‘n derdehandse 1961-Vauxhall Victor (“Die Thunderbird”, want sy uitlaatpyp was stukkend toe hy aangeskaf is), en die leraar vlieg tussen Lusaka en Livingstone. Daar word hard probeer om ‘n hulpleraar te bekom, maar die een wat gevind word, ds. J.H. Lourens, word deur die regering ‘n werkspermit geweier.
Met die vertrek van ds. Kocks, skuld die gemeente nog £6,500 op die kerk en pastorie. Dit het byna onmoontlik gelyk dat die sowat 100 oorgeblewe lidmate dit kan bybring. Op 13 en 14 Augustus 1966 vier die gemeente egter sy 20ste verjaardag met prof. H.D.A. du Toit as spreker. Die viering is vir almal tot groot inspirasie, en daarna word die kerkskuld daadwerklik aangepak; basaars is gehou en dankoffers ingesamel. Selfs die kerkie op Kalomo is opgeoffer: die plekkie was een tyd ‘n slaghuis en is deur die destydse eienaar, mnr. F.J. van Wyk, as kerk beskikbaar gestel. Toe mnr. van Wyk die grond verkoop, hou hy vir die kerk ‘n serwituut op die geboutjie uit. In 1966 bied die huidige eienaars die Kerkraad £150 aan as die Kerk van sy regte daar afstand doen. Ter wille van afbetaling van die skuld, aanvaar die kerkraad dit. So is daar geswoeg en gespook. In 1968 kom die einde van die skuld in sig. Prof. du Toit word weer genooi, Saterdag, 7 September, is daar kerkbasaar, en Sondag by die nagmaal word die gemeente meegedeel dat die skuld klaar betaal is.
In 1968 en 1969 is verskeie predikante uit Rhodesië genooi om dienste te kom hou: vanweë valutabeheer, is dit gestaak. In 1969 is die finansiële posisie so goed dat die kerk te Livingstone opgeknap, die Thunderbird verkoop en ‘n nuwe Peugeot 204 (“Bloubaard”) aangeskaf word. Die opknap van Choma se saal is vir 1970 op die program. In Maart 1970 het Livingstone nog 66 lidmate, maar hulle gaan voort.
Bron: Ned. Geref. Kerk, Midde-Afrika 70: 1895 – 1975
Predikante
- Charl Cilliers Colyn, 1947–1948
- Pieter Gabriël Warnich, 1 Desember 1951–1956
- Matthys Michielse Nieuwoudt, 1957–1961
- Johannes Hendrik van Wyk, 1958 (hulpprediker)
- Jacobus Frans Kocks, 1961–1966