Gestig
6 Desember 1882
Ring
Worcester
Adres
Voortrekkerstraat, Laingsburg
Sluit in
Laingsburg en distrik
Eerste predikant
J.C. de Vries (1884–1894)
Die NG Gemeente Laingsburg is ’n gemeente in die Ring van Beaufort met sy middelpunt op die gelyknamige Karoodorp aan die N1. In die dorp se honderdste bestaansjaar, op 25 Januarie 1881, het ’n vloed 104 lewens geëis, onder wie die NG predikant, ds. Malan Jacobs, en 185 huise, die ouetehuis en 23 sakegeboue verwoes. Die NG kerk was grotendeels ongeskonde, maar die kerksaal, die Lutherse kerk, die landdroskantoor en die poskantoor is ernstig beskadig.
Dorpstigting
Laingsburg het ontstaan op die plaas Zoute Vlakte, wat Stephanus Carel Greeff in 1862 gekoop het. Volgens oorlewering het hy verblyf en etes aan reisigers op pad na die noorde verskaf. Die ontdekking van diamante in Griekwaland-Wes en goud in Oos-Transvaal het die aanlê van ’n dorp as halfwegstasie tussen Worcester en Beaufort-Wes genoodsaak. Ook het die spoorlyn die Buffelsrivier in 1879 bereik en is die Buffalo River-stasie opgerig.
Greeff het die plaas Vischkuyl (of Viskuil) aan die Buffelsrivier gekoop en proviand aan die spoorwegwerkers en reisigers verkoop. So het ’n dorpie met die naam Nassau by die stasie ontwikkel en is die eerste erwe op 1 April 1880 uitgesit. ’n Bepaling dat ’n trekpad van 800 voet breed deur dié nedersetting moes loop, het byna die planne vir ’n volwaardige dorp in die wiele gery weens die smal gedeelte beboubare grond tussen die heuwels weerskante van die dorp. Die Kommissaris van Kroongrond tydens die Sprigg- en Rhodes-ministerie laat in die 19de eeu (Ons Kerk Album noem hom die Kommissaris van Publieke Werke), John Laing, het ingegryp en is die serwituut tot 150 voet gewysig.
Uit dankbaarheid het die inwoners van die gehuggie Nassau besluit om die plek tot Laing’s Town te herdoop. Later is dié naam verafrikaans na Laingsburg, veral omdat neerhalend na dié dorp as Linkstoon verwys is.
Gemeentestigting
Die NG Gemeente Laingsburg is op 6 Desember 1882 gestig. Voorheen was dit deel svn die gemeentes Worcester, Sutherland, Prins Albert en Montagu. Die stigting was veral te danke aan die ywerige S.C. Greeff, wie se weduwee ten tyde van die publikasie van Ons Kerk Album (1917) nog “vol geloof en goede werken” op die dorp gewoon het wat haar gestig het. Greeff het ’n kerkgebou op eie rekening laat oprig en by die inwyding op 13 Julie 1881, waar ds. W.A. Krige oor Eks. 3:5b gepreek het, het Greeff verklaar dat dit sy voorneme was om dié gebou op die kerkraad te laat transporteer, sodra hulle aangestel word. Dié voorneme is uitgevoer met die stigting van die gemeente aan die einde van die jaar daarna.
Die eerste predikant in die persoon van ds. J.C. de Vries is in 1884 hier bevestig, wat “niet zonder zegen” 10 jaar lank die gemeente se fondamente gelê het. Hy is in die jaar van sy vertrek deur ds. W. De Vos de Wet opgevolg, wat veel vir die gemeenskap op kerklike sowel as onderwysgebied beteken het. Ná sy vertrek in 1905 is hy opgevolg deur ds. H.J. Pienaar, wie se opvolger ds. D.P. Cillié was.
Ds. Adriaan Moorrees het op 4 Junie 1904 die nuwe kerk se hoeksteen gelê. Hy was destyds predikant van die NG Germeente Die Paarl, sowat vier jaar voor hy professor aan die Kweekskool geword het.Eerw. Andries Dreyer het in Ons Kerk Album geskryf dat hierdie kerk “van binnen zeer doelmatig is, en van buiten het schoon dorpje tot sieraad verstrekt”. Hy skryf iets eienaardigs van die kerk is dat ’n gedeelte daarvan afgesluit kan word, “op Amerikaanse wijze”.
Destyds (omstreeks 1916) is die ou kerk nog as skoolgebou gebruik, maar anders as die oue wat ’n geskenk was, het die nuwe die gemeente £9 000 gekos, waarvan ds. De Wet ’n groot deel ingesamel het. Destyds het die bloeiende gemeente haar eie verteenwoordiger in die sendingveld gehad, terwyl die plaaslike sendingwerk toe nog deur die Berlynse Sendinggenootskap behartig is.
Ds. Cillié se opvolger, ds. J.A. van der Merwe, is op 13 Februarie 1914 bevestig.
Predikante
- Jan Christiaan de Vries, 21 Jun. 1884 – 3 Jun. 1894
- Wouter De Vos de Wet, 19 Jan. 1895 – 1903
- Hendrik Jacobus Pienaar, 5 Jun. 1903 – 1907
- David Petrus Cillié, 20 Sep. 1907 – 1913
- Jacobus Alewyn van der Merwe, 13 Feb. 1914 – 1 Jan. 1930
- Johannes Rudolph Alheit, 15 Mrt. 1930 – 1943
- Willem Adolph Alheit (C.W.sn.), 2 Okt. 1943 –1947
- Johannes Jochemus Eucharistius Koornhof, 22 Nov. 1947 – 1952
- Johannes Albertus Hurter, 11 Okt. 1952 – 1958
- Dirk Jacobus Warnich, 1959 – 1965
- Pieter Johannes Fourie, 1965 – 1972
- Nicolaas Salomo Steenkamp, 1972 – 1978
- Daniel Malan Jacobs, 1979 – 1980
- Jan Michael Ackerman, 1981 – 1985
- Johannes Hendrikus Siebert, 1985 – 1991
- Johannes Hendrik van Loggerenberg, 1992 – 2012
- Christiaan Mauritz Cronje, 2012 – 2016
- Frederick Johannes Greeff, 2016 – 2018 (brugleraar)
- Hermias Hendrik Sutherland Nortier, 2017 – 2021
- H.F. Niehaus, 17 Julie 2022 – hede