NG Gemeente Lady Grey

Die kerkgebou is ingewy op Saterdag 12 Julie 1913 en bied sitplek aan 800 mense. Die argitek was Charles Henry Smith en die bouaannemer R.C. Orr.

Gestig

Einde 1861

Ring

Burgersdorp

Adres

Joubertstraat, Lady Grey

Sluit in

Lady Grey en omgewing

Eerste predikant

David Ross (1863–1908)


Die NG Gemeente Lady Grey is die 17de oudste gemeente in die Sinode van Oos-Kaapland van die Nederduitse Gereformeerde Kerk en die 81ste oudste in die hele Kerk.

Agtergrond

Op 2 Februarie 1857 het lidmate van die wyk Katrivier van die NG Gemeente Aliwal-Noord ’n openbare vergadering op die plaas Vaalbank gehou met die doel om die afstigting van ’n afsonderlike gemeente te bespreek. ’n Kommissie is toe benoem om so ’n versoek voor die kerkraad van Aliwal-Noord te lê en om ’n geskikte plek te kry wat as sentrum van so ’n gemeente sou kon dien, want soos in so baie ander gevalle op die platteland, het Lady Grey as ’n kerkdorp ontstaan. Op 30 April 1857 is die plaas Waaihoek van vier broers Botha vir 12 000 riksdaalders gekoop om as kerkplaas te dien en is daar besluit om die goewerneur, indertyd sir George Grey, te vra om toestemming om die plek Lady Grey te noem ter ere van sy vrou.

Eerste kerk en afstigting

Op 13 Maart 1858 is ’n vergadering op die plaas Paardenvlies gehou waarop besluit is om ’n kerk van 20 x 11 x 6 m groot met ’n konsistorie (later vergroot) te bou. Die hoeksteen van dié eerste kerkgebou is op 17 Junie 1858 deur ds. Louw (waarskynlik A.A. Louw, destyds leraar van die NG Gemeente Fauresmith in die Vrystaat) gelê. Dié kerk is op 25 Februarie 1860 ingewy en dr. Hofmeyr (die bron sê nie watter dr. Hofmeyr nie, maar dit was waarskynlik dr. Servaas Hofmeyr van Colesberg) het die deur oopgesluit. Onder die sing van Psalm 100:3 het die gemeente die kerk binnegegaan. Ds. Martin van die NG Gemeente Aliwal-Noord het die wydingsrede gehou.

Op hierdie tydstip was Lady Grey steeds ’n wyk van die moedergemeente en moes tot die onderhoud van die leraar van daardie gemeente bygedra word. Die ooreenkoms was dat die wyk £100, 30 hamels en bier mud meel aan die leraar moes gee, op voorwaarde dat hy twaalf maal per jaar op Lady Grey sou preek. Omdat die eerste notuleboek van die gemeente verlore geraak het, kan die datum waarop die gemeente gestig is, net by benadering bepaal word. Daar is egter sekere bewyse wat daarop dui dat dit teen die einde van 1861 moes gewees het. Die getal lidmate was toe slegs 300, nietemin sowat 60 meer as anderhalf eeu later.

Eerste predikant

Met die beroep van ’n predikant het dit nie so voorspoedig gegaan nie, en meer as ’n jaar lank moes die jong gemeente vakant bly. Die eerste beroep is op 27 Januarie 1862 op ds. Van Heyningen van Lydenburg uitgebring. By die vierde beroep op 1 April 1863 het die keuse geval op ds. David Ross, wat in Desember 1862 na Suid-Afrika gekom het as een van die laaste van die 25 Skotse predikante wat van 1818 tot 1836 en weer van 1862 tot 1867 die tekort aan plaaslike predikante kom verlig het, die regering se verengelsingsbeleid moes kom uitvoer het en, in die geval van die latere predikante, die “liberale” teologie van predikante wat in Holland opgelei is, moes teenstaan. Ds. Ross het die beroep aangeneem, liewer as die een wat hy ook na Sutherland gekry het, en is op 30 Augustus as die gemeente se eerste predikant bevestig.

Lady Grey het destyds nog in sy pionierstyd gestaan en hy is verplig om dorp en gemeente van onder af op te bou. Aan die oostelike en suidoostelike kant het ds. Ross se gemeente in die beginjare geen afgebakende grense gehad nie sodat sy arbeidsveld in dié rigtings oor die Drakensberg tot in Temboeland en Griekwaland-Oos gestrek het. Dié uitgestrekte gebied het hy gereeld te perd besoek en op sentrale plekke het hy buiteposte gestig, waarvan verskeie later tot afsonderlike gemeentes ontwikkel het: Barkly-Oos (1873), Cedarville (1888), Elliot (1890), Rossville (1893), so genoem na die leraar van Lady Grey, en Ugie (1903). As leraar van Lady Grey en konsulent van die buurgemeentes het dr. Ross ’n leidende rol gespeel in die totstandkoming van dié gemeentes.

Ook het hy van die begin af alles in sy vermoë gedoen om die onderwys in sy gemeente te bevorder. Deur die stigting van buiteskole in die distrik en daarna die oprigting van ’n kosskool vir seuns (later die staatskool) en ’n skool vir armes op die dorp, het die onderwys groot vooruitgang getoon. In die baanbrekersdae het sy regskennis kom goed te pas gekom. In die uitleg van die dorp, die verkoop en die transporteer van erwe het hy die kerk en die gemeenskap gedien. As kassier van die gemeentekas het hy gesorg dat die kerk se geldsake op ’n gesonde voet bly. Nadat sy sig, wat nooit sterk was nie, so verswak het dat hy byna blind geword het, het hy in 1908 na bykans 45 jaar op Lady Grey die tuig neergelê. Hy het op die dorp bly woon en dan ook daar gesterf.

Latere predikante

Die tweede predikant was ds. J.P. Wolhuter wat op 31 Julie 1908 hier bevestig is en sy emeritaat op 8 Januarie 1934 aanvaar het. So het die gemeente dan in die eerste ses dekades van sy bestaan net twee leraars gehad wat die grondslag moes lê. Gedurende ds. Wolhuter se bediening is die huidige sierlike kerkgebou in 1913 opgerig om die eerste kerkie te vervang wat in 1911 gesloop is. Elf jaar ná die voltooiing van die kerk, was die uitstaande skuld nog £8 000. Ten einde dié skuld te delg, het Gabriël en Johanna Nel verlof by die kerkraad gekry om ’n klein geboutjie op te rig wat as koffiehuis sou dien. Die Nels het die koffiehuis op 24 Januarie 1925 aan die kerk geskenk. Vroue van die gemeente het verversings in die koffiehuis verkoop en kort voor lank is die skuld afbetaal. Dié geboutjie is later in ’n museum omskep en staan bekend as die Lady Grey-museum.

Ná ds. Wolhuter se vertrek het agtereenvolgens di. J.H. de Lange, P.W. Jordaan, J.J.J. van der Merwe en andere Lady Grey bedien.

Dié museum was eers ‘n koffiekroeg wat gehelp het om die kerkskuld te delg.

Sending

Die sendingwerk van die gemeente is haas net so oud soos die gemeente self, maar eers in 1918 het die eerste amptelike sendingwerk van die gemeente begin.

Predikante

  • David Ross, 1863–1908 (emeriteer; oorlede op 3 September 1915)
  • Jozef Philippus Wolhuter, 1 Augustus 1908–1933 (emeriteer)
  • Jan Hendrik Lange, 4 Augustus 1934–1940
  • Pieter Willem Jordaan, 17 Augustus 1940–1945
  • Johannes Jacobus Kacheloffer van der Merwe, 21 Junie 1945–1951
  • Guillaume Francois Gerber, 1951–1960
  • Jozua Joubert Scheepers, 1960–1964
  • Frans Engelbrecht van der Merwe, 25 Januarie 1969–1972
  • Rudolf Martinus Johannes Britz, 3 Maart 1973–1976
  • Johannes Stephanus Bouwer, 1977–1980
  • Johannes Petrus Düring Cornelius, 28 Julie 1984–1995
  • Christiaan Smit (Christo) du Plessis, 2009 –