NG Gemeente Krugersdorp-Noord

NG Gemeente Krugersdorp-Noord

gestig

19 Januarie 1944

Eerste leraar

Ds. C.C. van Dyk

Die NG Gemeente Krugersdorp is ‘n gemeente op die dorp met dieselfde naam aan Gauteng se Wes-Rand. Dit vorm deel van die Ring van Krugersdorp in die Goudland Sinode.

Die gemeente is op 19 Januarie 1944 van die moedergemeente, Krugersdorp, afgestig en het teen die einde van die dekade aangegroei tot 900 lidmate. Die eerste predikant, ds. C.C. van Dyk, is op 29 November 1941 in die moedergemeente bevestig. Hy het die beroep na die nuwe dogtergemeente aanvaar en is op 18 Maart 1944 deur ds. H.C. FLemming, later moderator van die Natalse Kerk, in Krugersdorp-Noord bevestig.

Aangesien die gemeente in ’n skoolsaal moes byeenkom, wat dikwels ongerieflik was, is dadelik ’n plan vir ’n doelmatige kerkgebou opgestel en is op 20 Mei 1944 om ’n boupermit aansoek gedoen. Omdat dit oorlog was, moes twee jaar lank gewag word. Die verlangde permit is eers op 7 Maart 1946 verkry. Toe eers kon met die bouwerk begin word.

Intussen is geen steen onaangeroerd gelaat om geld in te samel nie aangesien die nuwe gemeente oor geen fondse beskik het nie. Op 17 Augustus 1947 is die sierlike kerkgebou ingewy waarvan ds. Van Wyk die hoeksteen op 31 Augustus 1946 gelê het. Die argitek was Hendrik Vermooten van Pretoria en die bouaannemer F.P. van Heerden van Germiston. Dr. William Nicol. moderator van die Ned. Herv. of Geref. Kerk en later administrateur van Transvaal, het die inwydingsrede gelewer.

Ds. Van Dyk het die gemeente bedien tot hy sy emeritaat in 1969 aanvaar het.