
gestig
1925
waarby ingelyf is
NG Gemeente Keetmanshoop-Noord
afgestig van
NG Gemeente Mariental
ring
Suidelike Ring
adres
H/v Fenchelstraat en Sesdelaan, Keetmanshoop
eerste predikant
Ds. H.J. Potgieter
Die NG Gemeente Keetmanshoop is ‘n gemeente in die Sinode van Namibië.
Agtergrond
Voor Keetmanshoop sy huidige naam ontvang het, het dit Swartmodder (in die Namataal Nu Gôias) geheet en in die vroeë geskiedenis was die plek bekend weens die berugte moorde wat hier gepleeg is. Die huidige naam Keetmanshoop het die naam Swartmodder in 1866 vervang. Die verandering is gemaak deur eerw. Schröder wat in daardie jaar na Keetmanshoop toe gekom het om ‘n stasie van die Rynse Sendinggenootskap hier te stig. Hy het die plek genoem na die voorsitter van die Rynse Sendinggenootskap in Elberfeld, wat duisend taler (£150) gegee het om die sendingstasie op Swartmodder te begin. So is die hoop wat eerw. Keetman van Elberfeld vir ‘n sendigstasie op Swartmodder gekoester het, in dié nuwe naam uitgedruk: Keetmanshoop.
Gemeentesake
Die eerste leraar van die NG gemeente Keetmanshoop was ds. H.J. Potgieter wat van 1925 tot 1930 hier gearbei het. Ná hom volg di. S.P. Fouché wat arbei van 1931 tot 1937, S.H. van der Spuy (1938-’44), J.R. Holzapfel (1944-’47), G.N.P. Cloete (1948-’49) en ds. D. Brink, wat in 1950 bevestig is en hier bly tot 1954.
Kerkgebou
Die NG Gemeente Keetmasnhoop se eerste kerkgeboutjieDie NG Kerk het Keetmanshoop se eerste Gereformeerde kerkgebou, waarin die gemeente van 1951 tot 2001 byeengekom het, in 1920 aangekoop as die eerste kerkgebou van die NG Kerk in Suidwes-Afrika. Dit was in wese ’n saal wat al omstreeks 1896 gebruik is as ’n werkplek vir die wamakersbedryf van ene Krabbenhoft. Later het dit behoort aan Karel Johann Kakob Ehret en Franz August Steguweit en is die firma skilders en kunshandelaars Ehret, Frey en Kie daarin gehuisves.
In 1920 het die wykskerkraad van Keetmanshoop die gebou gekoop vir £3 000. Die NG gemeente Keetmanshoop sou eers in 1924 van die NG gemeente Mariental (gestig in 1898, toe nog bekend as Gibeon) afstig. Voor die wyksgemeente die kerk in gebruik kon neem, moes eers seker veranderings aangebring waarvoor onder andere Val Wurth en Metje & Ziegler getender het. Wie eindelik die werk gedoen het, het vergete geraak. Banke vir die kerkgebou is van Gebroeders Kappelhoff op Lüderitz aangekoop.
Ná die stigting van die NG gemeente Keetmanshoop het die kerkraad op 8 Junie 1925 besluit om die saalkerk met 30 voet te vergroot. Hiervoor is wyd gekollekteer, selfs tot in Natal toe die predikant, ds. H.J. Potgieter, daar met vakansie was. Selfs die NG gemeente Vryheid in die noorde van Natal het bygedra. Die herboude kerk is op 20 en 21 Februarie 1926 in gebruik geneem. Later is ’n galery aangebring. Nadat die nuwe kerk in 1945 opgerig is as die eerste Afrikaanse toringkerk in Suidwes, het die saalkerk as kerksaal gedien, wat die kerkraad ook aan die Gereformeerde kerk beskikbaar gestel het vir hul eredienste. Op 10 Junie 1950 het die NG kerkraad besluit dat die gebou verkoop kon word, verkieslik aan die plaaslike Gereformeerde kerk.
Later jare
Keetmanshoop-Noord het in 1958 van die moedergemeente afgestig, maar is omstreeks 2000 by die moedergemeente ingelyf. (Geskryf deur Morne van Rooyen).
Dogtergemeentes
- 1928 Warmbad
- 1938 Bethanie
- 1956 Koes
- 1958 Keetmanshoop-Noord
Predikante
- Hermanus Jacobus Potgieter, 1925–1930
- Stephanus Phlippus Fouché, 1931–1937
- Stephanus Johannes Hofmeyr van der Spuy, 1938–1944
- Johannes Rudolf Holzapfel, 1944–1947
- Gert Nicolaas Petrus Cloete, 1948–1949
- Daniël Brink, 1950–1954
- Jan Louis Oosthuizen Bruwer, 1952–1957
- Coenraad Frederik Bekker, 1958–1962
- Johannes Lukas le Roux, 1963 – 1965
- Hermanus Venter, 1965–1970
- Jacob van Wyk du Plessis, 1968–1972
- Petrus Jacobus Johannes Franzsen, 1972–1976
- Pieter Barnard Botha, 1977–1981
- Gerhardus Stephanus Enslin, 1978–1981
- Gert Ignatius van Rooyen, 1981 -1984
- Samuel Johannes Louw, 1998 – 1997
- Jacobus Christoffel Schutte, 1998 – 2000
- Pieter Christiaan Andries Pretorius, 1982 – 1995
- Daniel Johannes Grové, 2000 – 2006
- Andries Petrus Coetzee, 2009 – 2019