NG Gemeente Johannesburg

Die gemeente se voorlaaste kerkgebou, afgeneem in 1987, en later gesloop.


Gestig

14 Augustus 1887

Ring

Johannesburg

Adres

Irenekerk, Beitstraat 1, Doornfontein

Sluit in

Braamfontein, Middestad, Hillbrow, Doornfontein

Waarby ingelyf

NG Gemeente Johannesburg-Oos

10 Mei 1995

NG Gemeente Aucklandpark

Eerste predikant

J.N. Martins (1887–1920)


Die NG Gemeente Johannesburg was op 14 Augustus 1887 die eerste gemeente van die NG Kerk wat in die Goudstad gestig is. Regstreeks en onregstreeks het uit dié gemeente in die daaropvolgende eeu al die gemeentes op die Witwatersrand ontstaan, maar teen die tweede dekade van die 21ste eeu het van die Johannesburgse moedergemeente minder as 100 lidmate oorgebly.

Aanloop tot gemeentestigting

Voor die Johannesburgse moedergemeente in 1887 gestig is, skaars 18 maande nadat goud ontdek is op Langlaagte, was die landelike gebied deel van die NG Gemeente Heidelberg. Landbouers uit die Kaap, wat daarvaan af weggetrek het om onder die Britse bewind uit te kom, het al in die dekade na 1840 op die Hoëveld begin aankom. Maar dit was die kerkraad van die NG gemeente Dutoitspan wat onder leiding van ds. Abraham Kriel die eerste stap gedoen het tot gereelde bearbeiding van die goudveld deur hulle hulpprediker, prop. J.N. Martins, af te staan om die evangelie aan die lidmate op die Rand te verkondig.

Die goudstormloop het mense uit alle wêrelddele na die Rand gebring. Sover vasgestel kon word, het ds. S.J. du Toit, destydse superintendent-generaal van onderwys in die Zuid-Afrikaansche Republiek, die eerste NG diens in Johannesburg gehou. Dit was ’n opelugdiens op ’n Sondag teen die middel van 1886 in die skaduwee van ’n wilgerboom naby die terrein waarop NG gemeente Langlaagte se latere kerkgebou en die Abraham Kriel-kinderhuis gebou is. Sy teks het uit Genesis 2:12 gekom: “En die goud van die land is goed.”

Onder die intrekkers op die Rand was ook NG lidmate, wat hulle veral in groot getalle aan die westekant van die teenswoordige middestad gevestig het in wat destyds as die “Dip” bekend gestaan het. Dit was die minder gegoede buurte van Langlaagte, Fordsburg en Vrededorp, wat lank die enigste deel van die ontluikende stad was waar Afrikaners plek-plek in die meerderheid was. Die meer gegoede noordelike (Parktown, Houghton ens.) en noordoostelike voorstede (Observatory, Orange Grove ens.) was nog altyd amper uitsluitlik Engels, terwyl Afrikaners, namate hulle ekonomiese posisie verbeter het, hulle later jare ook in groot getalle in die noordwestelike dele (Melville, Westdene, Auckland Park, Northcliff, Linden, Randburg en mstreke) gaan vestig het. In ’n mindere mate as in die “Dip” het Afrikaners ook gaan woon in die omgewing van Jeppestown, onmiddellik oos van die middestad. In ’n stadium was daar byvoorbeeld binne ’n smal strook wat 8 km wes van die middestad gestrek het, 14 NG gemeentes, maar oor dieselfde afstand na die ooste net vyf.

Ontstaan

Dit was die kerkraad van die Dutoitspan onder leiding van ds. Abraham Kriel wat die eerste stap gedoen het tot die gereëlde bearbeiding van die goudvelde deur hul hulpprediker, prop. J.N. Martins, af te staan “om die dierbare Evangelie ook aan ons broers op die goudvelde te gaan verkondig”. Prop. Martins het op 17 Mei 1887 op Johannesburg aangekom en moes aan die begin sy dienste in ’n “rietstal” hou, maar reeds drie maande na sy aankoms kon die eerste kerkgebou, van hout en sink opgerig, in gebruik geneem word. Hierdie gebeurtenis het byna saamgeval met die stigting van die gemeente op 14 Augustus 1887. Prop. Martins, wat nog al die tyd voortgegaan het om die gemeente in ’n tydelike hoedanigheid te bedien, is op 21 November 1887 tot herder en leraar van die gemeente Johannesburg beroep en eers in Mei 1888 as sodanig bevestig.

In 1952 berig Ons gemeentelike feesalbum: “Die gemeente het eintlik nooit geleentheid gehad om rustig te bestaan en opgebou te word nie. Meer as enige ander gemeente moes hy voortdurend in die brandpunt van elke stryd staan wat volk en Kerk die afgelope driekwarteeu moes stry en was hy gedurig blootgestel aan die gevare wat die onstandvastigheid van ’n sneltoenemende kosmopolitiese gemeenskap meegebring het. Bewys hiervan is dat die kerkgebou wat in 1887 opgerig is, drie jaar later deur ’n groter een op Von Brandisplein vervang moes word.”

Die eerste kergeboutjie met die pastorie regs.

Von Brandisplein (hoek van Von Brandis- en Pritchardstraat) het aanvanklik, ná die bou van die eerste NG kerkie, Kerkplein geheet. Later (omstreeks 1897) sou die regering die tweede kerkgebou uitkoop en toe is die oop ruimte langs die kerk Goewermentsplein genoem. Later is dit herdoop tot Von Brandisplein, ter ere van Carl von Brandis, Johannesburg se eerste landdros. Boere en prospekteerders het op die orige gedeelte van die plein gekampeer en later was dit ook die tuiste van die stad se eerste sinagoge. Oorkant die NG kerkie was ’n ry winkels, waaronder ’n fietswinkel van die gebroeders Hunt, wat later Williams Hunt & Kie sou word. Die mynkamp se eerste skool is ook langs die kerk gebou.

Die kerkgebou wat op Goeie Vrydag, 4 April 1890 op Van Brandisplein ingewy is.

Tydens sy leeftyd is die kerkie vir verskeie doele gebruik, onder meer as ’n bakkery, lesingsaal, stemlokaal tydens verkiesings en die kantoor van die “Rand Aid Association”. Johannesburgers het in opstand gekom toe die regering sy voorneme bekend maak om die geboue op die perseel te sloop en so plek te maak vir ’n hofgebou, maar die besware het op dowe ore geval en die slopery het in 1909 begin. Vandag staan die Suid-Gautengse Hooggeregshof op die plein waar die NG kerk in Johannesburg sy eerste tuiste gehad het.

Die Noodkerk wat in 1897 in Braamfontein opgerig is.

Die tweede kerkie was middelpunt van die gemeente tot die afstigting van die gemeentes Johannesburg-Oos en Jeppestown op 8 Julie 1897, toe ’n noodkerk (weer van hout en sink) in Jorissenstraat, Braamfontein, opgerig is. Vanweë die Anglo-Boereoorlog is die oprigting van ’n meer permanente gebou (die vierde kerk) vertraag en kon die volgende (voorlaaste) kerkgebou eers op 13 April 1904 ingewy word. Ons gemeentelike feesalbum skryf in 1952: “Hierdie gebou sal vanweë bouvalligheid binnekort gesloop moet word sodat die gemeente in die kort tyd van sy geskiedenis hopelik teen 1953 vir die vyfde maal ’n kerk sal inwy. So is Johannesburg!” Met die sloping van die vierde kerkgebou in die jare vyftig het die sierlike gebou van die NG Gemeente Jeppestown in Fairview die oudste NG kerkgebou in die stad geword.

Ds. Martins het die gemeente tot in 1920 bly bedien, toe hy sy emeritaat aanvaar het. Reeds teen 1952 het daar 25 gemeentes bestaan in die gebied wat vroeër die moedergemeente uitgemaak het. Teen 1973, op die hoogtepunt van die NG Kerk se bestaan in die Goudstad, het die oorspronklike gebied van die moedergemeente uit vyf ringe (Johannesburg, Langlaagte, Turffontein, Linden en Melville) bestaan en was daar 47 gemeentes. Teen 2018 het dié getal tot 21 gemeentes gekrimp met die inlywing of samesmelting van Langlaagte (1892), Fordsburg (1896), Johannesburg-Oos (1897), Jeppestown (1897), Turffontein (vroeër La Rochelle, 1906), Cottesloe (vroeër Vrededorp, 1927), Brixton (1939), Rosettenville (1938), Malvern (1940), Johannesburg-Noord (1942), Bezuidenhoutsvallei (1944), Johannesburg-Wes (1944), Parkhurst (ingelyf by Parksig, nou Parkkruin Familiekerk, 1944), Crosby-Wes (vroeër Hurst Hill, 1949), Suid-Rand (1950), Johannesburg-Suid (1950), Belgravia (1952), Mayfair (1953), Aucklandpark (1958), Noordoos-Rand (1959), Sterrewag (1964), Andrew Murray (1966) en Claremont (1958), die ontstaan uit samesmeltings van Deo Gloria, Parkkruin, Vergesig, Kensington en Johannesburg-Noord/Andrew Murray Congregation, asook die ontstaan van die enigste nuwe gemeente, Weltevreden.

“Die mynkamp van 1886 het die grootste stad in Suid-Afrika geword, waar wriemelende menigtes elke dag mekaar verdring tussen hoë geboue en op oorvolle strate wat maar nie al die verkeer wil vat nie; maar hoog tussen die kransagtige blokke woonstelle en kantore steek die kerkgebou van Johannesburg nog uit, asof hy wil sê: Die mens – soos gras is hy, maar die Woord van God bly tot in ewigheid!”

Die kerkgebou van 1904 omstreeks 1947, sowat agt jaar voor dit gesloop is om vir die laaste kerkgebou plek te maak

Invoer van die Afrikaanse Bybel

Hoewel Afrikaans reeds in 1919 deur al vier Sinodes van die Gefedereerde Ned. Geref. Kerke as amptelike kerktaal erken is, en die Transvaalse Sinode in Mei van dieselfde jaar die voorbeeld van die Vrystaatse Sinode gevolg het en die vertaling van die Bybel in Afrikaans goedgekeur het, sou dit nog oor die 14 jaar duur voordat die Bybelvertaling in Afrikaans voltooi en uitgegee sou word. In 1933 was die Afrikaanse Bybel eindelik gereed en op 29 Mei van daardie jaar het die eerste besending van 10 000 eksemplare met die Carnarvon Castle in Kaapstad aangekom. Oral in Suid-Afrika is byeenkomste gereël om die Bybel in Afrikaans te begroet. So byvoorbeeld het daar op uitnodiging van die Transvaalse Onderwysvereniging in Rusoord, Johannesburg, “‘n groot aantal lede van hierdie liggaam, predikante en belangstellendes bymekaar gekom om die Afrikaanse Bybel te verwelkom”. Op Sondag 27 Augustus van daardie jaar het die Hollandse Kerke in Suid-Afrika toe by wyse van “Bybelfeeste” die Afrikaanse Bybel amptelik in ontvangs geneem. Op hierdie dag is ook ‘n groot sentrale Bybelfees in Johannesburg gehou en al was die gemeente Johannesburg toe nog vakant (ná die dood van ds. Cillié en die koms van ds. Coetzee, het die kerkraad tog twee verteenwoordigers uit sy midde benoem om met die feeskommissie in voeling te tree en so saam te werk vir daardie groot en heuglike Bybelfees. Voortaan sou die Woord dan ook van die Braamfonteinse kansel gereeld in lidmate se moedertaal gelees en verkondig word.

Die gemeente se maandblad

’n Teken van gesonde groei tydens die dienstyd van ds. Coetzee, was die oprigting van ‘n eie gemeentelike maandblad deur dié leraar. Ds. Martins het wel 30 jaar vroeër die sogenaamde Witwatersrand Kerk- en Skoolblad in die lewe geroep. Dit was egter nie ‘n gemeentelike blad nie, maar feitlik ‘n soort Ringsblad en dit het ook maar ‘n baie kortstondige bestaan gehad (1905–1906). In Januarie 1923 het die predikant van Johannesburg-0os (ds. William Nicol) met ‘n gedrukte maandbrief (“Irenenuus”) begin, wat gou baie gewild in sy gemeente geword het. Dit was waarskynlik met hierdie voorbeeld in gedagte, dat ds. Cillié in 1931 aan die hand gedoen het “dat ‘n blaadjie gedruk en elke maand uitgegee word in ons gemeente en dat hy die skrywer daarvan sou wees”. (Kerkraadsnotule, Maart 1931.) Om die een of ander rede, waarskynlik weens die daaropvolgende ernstige siekte van die plaaslike leraar, is nooit uitvoering hieraan gegee nie. Maar pas het ds. Coetzee in Johannesburg aangekom, of hy begin aan die saak te roer.

Nog in Desember van daardie jaar (1934) stem die kerkraad in beginsel ten gunste van die uitgee van so ‘n maandblad. En toe het ds. Coetzee, met ‘n deursettingsvermoë so eie aan hom, die saak aangepak en omstreeks Maart 1935 met die eerste nommer van Die Fakkel verskyn onder redakteurskap van die plaaslike predikant en bygestaan deur ‘n paar onderwysers(esse) van die Hoërskool Helpmekaar. Volgens die kerkraadsnotule uit hierdie tyd is dit gedruk, eers deur ene J.C. Fick en later deur Die Vaderland. Hierdie blaadjie het sowat twee en ‘n half jaar bestaan. Die laaste nommer het in Augustus 1937 verskyn. Met die oog op die besluit van die Sinode kort tevore om ‘n eie maandblad vir die Transvaalse Kerk in die lewe te roep, het die kerkraad besluit om die publikasie van Die Fakkel te staak en op sowat 750 eksemplare van die maandblad in te teken. Hierdie kerkblad het vanaf Desember van daardie jaar gereeld onder die naam van Die Voorligter (later Lig) verskyn. (Kerkraadsnotule, Junie 1937.)

Die vyftigjarige gedenkfees

Vier jaar ná die invoering van die Afrikaanse Bybel het die gemeente Johannesburg self ‘n belangrike mylpaal bereik. Reeds in September van die vorige jaar is die viering van die 50-jarige bestaan van die gemeente deur ouderling J. Joubert ter sprake gebring, waarop die kerkraad dit in beginsel goedgekeur het en die volgende tot lede van die reëlingskommissie benoem: Ds. Coetzee (voorsitter) en broeders J. Joubert, W.P. Jacobs, C.D. Wentzel, J.A. Muller, P.J. van Gass, J.H. Nel en T.A. Hugo. Later is eerw. T.C. Esterhuizen ook bygevoeg. Hierdie kommissie het aan die werk gegaan en aan die begin van Augustus 1937 kon hy by monde van sy bekwame en geesdriftige voorsitter aan die kerkraad rapporteer: “Dat die 50-jarige feesviering van die gemeente op 28 en 29 Augustus sal plaasvind; die hoofdiens sal deur die plaaslike leraar gelei word en eersdaags sal in Die Kerkbode ‘n uitnodiging verskyn aan alle oudlede van die gemeente om die feesviering by te woon. ‘n Kleiner kommissie bestaande uit die voorsitter, eerw. Esterhuizen en mnr. Van Heerden van Die Vaderland is aangestel om kort stukkies op te stel omtrent die gemeente wat in pamfletvorm sal verskyn, met ‘n portret van die diensdoende kerkraadslede en aan die gemeentelede uitgereik sal word. Kort stukkies sal ook in Die Vaderland verskyn om propaganda te maak.”

Hierdie gedenkfees is dan ook op gepaste en luisterryke wyse gedurende die laaste week van Augustus gevier. Die verrigtings wat reeds op Woensdagaand 25 Augustus 1937 in die Braamfonteinse kerkgebou met ‘n inleidingsdiens deur die plaaslike leraar begin is, het hul hoogtepunt eers die naweek bereik, toe behalwe ds. Coetzee, ‘n hele paar besoekende leraars opgetree het. Die pamflet waarna hierbo verwys is, het terselfdertyd die lig gesien onder die titel: Vyftigjarige Fees van die Braamfonteinse Gemeente. In die kort bestek van 15 bladsye word ‘n baie beknopte maar tog interessante oorsig van die geskiedenis van die gemeente gegee. (In Die Vaderland van 24 Augustus 1937 is dit ook weergegee by wyse van ‘n paar artikels.) Met sy Vyftigjarige jubelfees het die gemeente sowat 2 500 siele getel, waarvan sowat 1 580 lidmate was. In die vyf Sondagskole het ‘n veertigtal leerkragte aan 500 kinders onderrig gegee. Die kerkraad het toe uit sowat 33 broeders bestaan.

Ds. A.P. Smit skryf in Ons kerk in die Goudstad: “Merkwaardig was die groei van hierdie gemeente sedert sy stigting ‘n half eeu gelede! Maar verbasend ook die uitbreiding van ons Kerk aan die Rand in hierdie vyftig jaar. In 1887 was Johannesburg, met sy paar honderd lidmate, nog die enigste gemeente van ons Kerk aan die Rand. Vyftig jaar later tel die gemeentes van die Ned. Herv. of Geref. Kerk aan die Rand, van Springs tot Randfontein, nie minder as twee-en-twintig nie en beloop die lidmatetal reeds 62 000! Gedurende die daaropvolgende dekade (1937–1947) sou ons Kerk aan die Rand eers met rasse skrede vooruitgaan.”

Die gemeente aanbid in die Irenekerk, eens die tuiste van die NG gemeente Johannesburg-Oos, wat vir die nominale bedrag van R1 aan die Universiteit van Johannesburg verkoop is, hoewel die orrel in die gemeente se besit gebly het.

Twee huwelike en ’n skeiding

Veral ná die skrapping van apartsheidswetgewing ná 1990 het wit mense vinnig uit die middestad en omliggende woonbuurte verhuis (party van die buurte was trouens al lank “grys gebiede”). Dit het meegebring dat die gemeente se lidmaattal tot slegs 110 in 1994 gedaal het. Johannesburg en Aucklandpark se kerkrade het toe samesprekings gevoer om ‘n enkele gemeente te vestig, maar met twee bedieningspunte, naamlik Aucklandpark se kerkgebou by Richmondlaan 71 en dié van die moedergemeente by De Kortestraat 117, Braamfontein. Op Donderdag 1 Junie 1995 smelt die geemeentes saam. Reeds in Augustus 1995 was daar sprake dat Johannesburg-Oos (wie se kerkgebou in Doornfontein as die Irenekerk bekend staan) ook deel van die verenigde gemeente sou word om so een, multikulturele NG gemeente in die middestadgebied tot stand te bring. Dié gemeente, wat op Sondag 1 Junie 1997 ontstaan het, het steeds NG gemeente Johannesburg geheet en toe gestrek van Aucklandpark tot by Braamfontein, Berea en Hillbrow. Die gemeente se sentrum was die kerkkompleks van Aucklandpark, maar dienste is ook gehou in Braamfontein en die Irenekerk.

Die gemeente het ’n volle vier leraars gehad: ds. Johan Krige (studenteleraar in Aucklandpark sedert 8 Januarie 1982, later hoof- uitvoerende beampte van MES) ds. Christoph Müller (woongebiede) en di. Attie Botha en Piet Smith (middestadbediening). Die drieledige gemeente het nou gestrek van Ellispark in die ooste (waar weinig min tradisionele NG lidmate oorgebly het) tot anderkant die Randse Afrikaanse Universiteit (nou die Universiteit van Johannesburg) in die weste en veral Botha en Smith het baie gedoen vir nie-lidmate in die middestad.

Toe Melville voelers uitsteek na Aucklandpark se inwoners met die oog op samewerking (Melville se lidmaattal het in 1994 al tot slegs 340 gedaal), was hulle blykbaar nie bereid om met die Braamfontein/Irenekerk-gedeelte saam te werk nie. Die samestellende dele van die Johannesburg-gemeente skei omstreeks 2001 toe Aucklandpark die kerkgeboue in Kingsway aan ‘n ontwikkelaar verkoop vir die oprigting van ‘n vulstasie en daardie deel van die gemeente, saam met die studente, met Mellville se NG gemeente saamsmelt om die Mellville Kruisgemeente te vorm wat aanbid in Mellville se kerk by Vierde Laan 51.

Geskiedskrywing

Met die jare het heelwat boeke en ander publikasies verskyn om mylpale in die gemeente se geskiedenis te gedenk. Die eerste hiervan was reeds met die 20-jarige bestaan in 1907 met die verskyning van “Ned. Herv. of Geref. Gemeente Johannesburg, Twintig Jarigfeest, 14 Aug. 1887 – 14 Aug. 1907. Eene beknopte geschiedenis van deze Gemeente onder Gods trouwe leiding gedurende den tijd van 20 jaren.’ Dié blaadjie het net 12 bladsye (van twee kolomme elk) beslaan en word in die kerklike argief in Pretoria bewaar. Dit was veral ter viering van die feit dat die gemeente weer sy voete gevind het na die Anglo-Boereoorlog. Dertig jaar later verskyn nog ‘n bondige opsomming met die titel: “Brosjure ter herdenking van die 50-jarige bestaan van die Ned. Herv. of Geref. Gemeente Braamfontein”. Dit beslaan 15 bladsye, eweneens met twee kolomme elk. Veel omvangryker is die 508 bladsye lange “Ons kerk in die Goudstad (1887–1947)” van ds. A.P. Smit wat die kerkrade van Johannesburg, Fordsburg, Johannesburg-Oos en Jeppestown in 1948 die lig laat sien ter viering van die 60-jarige bestaan van die kerkverband in Johannesburg. Laastens gee die feeskomitee onder leiding van ds. Bezuidenhout in 1962 ‘n feesbrosjure van 31 bladsye uit om die 75-jarige bestaan van die gemeente te gedenk. (Geskryf deur Morne van Rooyen)

Predikante