NG Gemeente Jansenville

Jansenville se tweede NG kerkgebou is deur die Duitse boorling argitek Carl Otto Hager ontwerp, maar die finale voorkoms is waarskynlik grotendeels die werk van die argitek Arthur Reid, nes die geval met Pearston se NG kerk, ook op die Oos-Kaapse platteland. Die kerk is is op 20 Junie 1885 ingewy.

Gestig

1855

Ring

Graaff-Reinet

Adres

Hoofstraat, Jansenville

Sluit in

Jansenville en distrik

Eerste predikant

C.T. Muller (1873–1878)


Die NG Gemeente Jansenville was die eerste van altesaam sewe gemeentes van die Nederduitse Gereformeerde Kerk wat in 1855 gestig is. Dit is die 61ste oudste bestaande gemeente in die hele Kerk en die 13de oudste gemeente in die Sinode van Oos-Kaapland.

Die NG Gemeentes Murraysburg en Aberdeen, ook albei in die Ring van Graaff-Reinet, is ook in die jaar 1855 gestig. Die ander vier gemeentes is almal in die huidige Sinode van Wes-Kaapland, naamlik Ceres, Sutherland, Heidelberg, Wes-Kaap, en Simonstad, wat later as Vishoek sou bekend staan.

Agtergrond

Die dorp Jansenville het sy ontstaan te danke aan die beywering van ds. Alexander Smith, van 1823 tot 1863 (’n jaar voor sy dood) 40 jaar lank die tweede leraar van die moedergemeente Uitenhage (gestig in 1817), wat toegesien het dat die Ring van Albanie op 4 Februarie 1855 ’n afsonderlike gemeente hier afgestig het, nadat die behoefte reeds in 1848 aangevoel is. Die nuwe gemeente is ’n dogtergemeente van Uitenhage, maar sowel Graaff-Reinet as Somerset-Oos het dele aan Jansenville afgestaan.

Die koloniale sekretaris het die stigting van ’n nuwe dorp op 7 Desember 1857 goedgekeur. Die erwe is reeds op 10 Februarie opgeveil. Die dorp is aangelê op die plaas Vergenoegd van P.J. Fourie, wat hy vir dié doel beskikbaar gestel het. Dié plaas lê aan die oewers van die Sondagsrivier. Hy was ook lid van die eerste kerkraad en het gesorg vir ’n sogenaamde kerkhuis waarin dienste aanvanklik gehou is.

Die dorp is Jansenville genoem ter ere van genl. J.W. Janssens, goewerneur van die Kaapkolonie tydens die Bataafse bewind van (1803–1806) en ook die laaste Hollandse goewerneur aan die Kaap. Dit is nie bekend waarom juis dié naam gekies is en waarom die tweede en derde “s” in sy van weggelaat is nie. Hy het met die dorp en gemeente niks te doen gehad nie omdat albei eers ’n halfeeu ná sy uitdienstreding tot stand gekom het.

Ds. Smith was nie net die vader van die gemeente Jansenville nie, maar het ook tydens die lang vakature van sowat 19 jaar sedert die afstigting toe die gemeente herderloos was, nog tot 1862 as konsulent opgetree.

Leraars

Eers op 20 April 1873 is die eerste leraar in die gemeente bevestig in die persoon van ds. Carl Theodorus Muller, wat in die voorafgaande 12 jaar leraar was van die NG Gemeente Pearston, ook daardie gemeente se eerste leraar. Hy is voorlopig vir ’n tydperk van vyf jaar beroep en dis merkwaardig dat hy aan die einde van dié tyd in die ouderdom van 43 jaar oorlede is. Sy opvolger, ds. J.G. Kriel, ouer broer van ds. Abraham Kriel, is ná twee jaar in dieselfde ouderdom heengegaan. Van ds. Kriel skryf eerw. Andries Dreyer, wat in 1930 verantwoordelik sou wees vir ’n gedenkboek ter viering van die gemeente Jansenville se 75-jarige bestaan, in Ons Kerk Album van 1917: Hy was ’n baie ywerige dienskneg van God – deeglik in wat hy gedoen het, getrou in sy ampsbediening, ernstig in sy prediking, kragtig in die gebed, “terwijl rustigheid en kalmte de blijkende kenmerken van den vrede zijner ziel waren”.

Die derde leraar, ds. J.A. Joubert, is op 30 Desember 1882 bevestig en is ná 12 jaar op 27 Augustus 1894 tot hoër diens opgeroep nadat hy ’n koue opgedoen het in die uitvoering van sy pligte. So is die eerste drie leraars almal op jeugdige ouderdom in die gemeente oorlede.

Die vierde leraar, van 1895 tot 1898, was ds. (later prof.) N.J. Brümmer. Hy het, nadat hy in 1894 gelegitimeer is, na Edinburgh in Skotland gegaan en deurloop die kursus vir D.Phil. Daarna is hy na Leipzig, Duitsland, waar hy al sy aandag aan eksperimentele sielkunde onder prof. Wundt gewy het. Hierna word hy as predikant na Suid-Afrika beroep en omdat daarop aangedring is dat hy dadelik moes kom, het hy die doktorsgraad laat vaar en gaan arbei in die uitgestrekte gemeente Jansenville, destyds bekend om sy groot getal armblankes. Hy werk drie jaar lank ywerig aan die opheffing van die armes en stig ook skole. Op Jansenville trou hy met mej. Stegmann, wat vir hom ’n groot steun in sy maatskaplike opheffingswerk was. Hy vertrek in 1899 na die NG Gemeente Drieankerbaai, en aanvaar in 1911 sy demissie sodat hy ’n professoraat aan die Kweekskool op Stellenbosch kon aanvaar. Prof. Brümmer is op 13 Mei 1947 oorlede.

Ds. J.P. Burger was leraar van 1899 tot 1905 tydens die moeilike jare van die Tweede Vryheidsoorlog en word op 10 Maart 1906 opgevolg deur ds. I.P. van Heerden, wat soos die eerste drie leraars, in die amp oorlede is toe hy sterf op 20 Februarie 1924.

Van Junie 2009 het dr. Tienie Strydom, ’n voormalige dosent aan die Teologiese Fakulteit van die Universiteit van die Vrystaat (1983–2003) wat weens ernstige gesondheidsprobleme noodgedwonge met vroeë pensioen moes gaan, in ’n voltydse kontrakpos in die gemeente gewerk nadat sy gesondheid genoegsaam verbeter het. In Desember 2011 het hy egter na Johannesburg verhuis.

Ds. A.P. Morgenthal

Ds. AP Morgenthal is op 27 Desember 1911 op Middelburg, Kaap gebore en het van 1937 tot 1969 vyf gemeentes bedien voor hy die eerste keer afgetree het. Sy bediening in die NG Kerk het begin toe hy as proponent in die NG Gemeente Grahamstad gewerk het. Op 5 November 1938 is hy as hulpprediker in die NG Gemeente Port Elizabeth-Sentraal bevestig met opdrag die bediening in Newton Park. Op 9 September 1939 is hy in die NG Gemeente Pearston bevestig waar hy bykans vier jaar lank die Woord bedien het. Hy het dié gemeente as sy eerste liefde beskou vanweë sy afkoms uit die Karoo.

Van 1943 was hy leraar van Tiervlei, die gemeente wat in latere jare sou bekendstaan as Parowvallei. In 1945 het ds. Morgenthal ’n beroep ontvang na die NG Gemeente Windhoek as opvolger van ds. K.W. le Roux. Op 9 Desember 1948 is hy in die NG Gemeente Pietermaritzburg bevestig en in 1959 aanvaar hy ’n beroep na die moedergemeente op Mosselbaai en bly daar tot 1969 toe hy die eerste keer sy emeritaat aanvaar en hom op ’n kleinhoewe in Port Elizabeth gaan vestig het. Hy het in dié tyd aktief in die Kerk gebly e ook tydelik op Jansenville uitgehelp. Toe hy hom in 1971 weer beroepbaar stel, het die gemeente Jansenville die toe sowat 60-jarige ds. Morgenthal beroep. Hy arbei sowat ses jaar hier tot sy uiteindelike aftrede op 25 November 1977. Ná sy aftrede het hy en sy vrou, Anna, weer in Port Elizabeth gaan woon.

Geboue

Daar kan nie vandag meer vasgestel word wanneer die eerste kerkgebou opgerig is nie. In die kerkraadsnotule van 16 Februarie 1862 staan wel dat die voorsitter ’n rekening voorgelees het van die heer Crouch vir die bedrag van £32 5 s. deur die gemelde heer ingelewer vir die herstel van die kerkgebou. Die huidige kerkgebou, net soos dié op die nabygeleë Willowmore ontwerp deur die uit Duitsland afkomstige argitek Carl Otto Hager, is in Junie 1885 in die tyd van ds. Joubert ingewy. Anders egter as die NG Gemeente Willowmore wat sy Hager-kerk in die jare sestig laat sloop en met ’n moderne gebou vervang het, het die gemeente Jansenville sy kerk, wat tot ’n nasionale gedenkwaardigheid verklaar is, is bewaar.

Die kerk het ’n buitengewone kloktoring wat los van die gebou staan en vandag nog gelui word. Binne-in die kerk word die Fourie-Familiebybel in ’n glaskas bewaar. Dis deur Sid Fourie geskenk en bevat die handgeskrewe familiegeskiedenis van die Fouries in Suid-Afrika. Dis na bewering een van die oudste Hollandse Bybels in die land. Sid Fourie, ’n seun van die dorp wat net st. 8 gehad het maar as buitengewoon intelligent beskryf is, het die Jansenville Chronicle in 1918 gekoop en was 45 jaar lank die redakteur. Dié koerant, later deel van die uitgewersgroep Graaff-Reinet Advertiser, wat 13 gemeenskapskoerante in die Karoo uitgegee het, moes in 2000 sluit toe die groep en daarmee saam al 13 koerante vou. Die Graaff-Reinet Advertiser het egter voorbestaan toe dit uitgekoop is deur Group Editors van George.

Fourie het 25 jaar in die dorpsraad gedien, waarvan hy 15 jaar burgemeester was. Tydens sy dienstyd het Jansenville elektrisiteit, ’n vliegveld en duisende bome gekry. Hy het talle boeke geskryf, die wêreldwyd gereis, enkele jong mense van Jansenville se universiteitstudie betaal, sowat 35 gehelp om in die buiteland te gaan reis en sy huis aan die dorp nagelaat. Dit huisves vandag die Jansenville-dorpsmuseum.

Die eerste pastorie is in 1875 voltooi en later is ’n ander aangekoop. Die eerste kerkgebou en die ou pastorie het teen 1952 as Goeie Hoop-losieshuise gedien, die kerk vir seuns en die pastorie vir meisies.

Afstigtings

Die NG Gemeente Waterford is in 1919 van die moedergemeente Jansenville afgestig en die NG Gemeente Klipplaat in 1944, hoewel die leraar van die moedergemeente, ds. J.A. Van Zyl le Roux, ’n waarskuwende woord oor laasgenoemde afstigting laat hoor het. Albei dié dogtergemeentes het teen 2013 tot van die twee kleinste gemeente in die Sinode van Oos-Kaapland gekrimp, Waterford met 47 belydende lidmate en Klipplaat met 40. Derde kleinste was NG Gemeente Nieu-Bethesda, ook in die Ring van Graaff-Reinet, met 58 belydende lidmate. Jansenville se twee dogtergemeentes was toe al jare reeds vakant.

Lidmaattal

Die gemeente Jansenville het nie die ontvolking van die droë binneland vrygespring nie. In 1915, kort voor die afstigting van Waterford, was hier 1 730 belydende lidmate, meer as op Uitenhage, Worcester of George, almal dorpe wat in later jare talle groot gemeentes sou hê, naamlik onderskiedelik vier (vroeër vyf), sewe en vyf. In 1948, ná die afstigting van ook Klipplaat, was hier nog 630 belydende lidmate. In Jansenville en haar twee dogtergemeentes was daar destyds nog 1 562 lidmate. In 1972 het die moedergemeente se lidmaattal teruggesak tot 450, Waterford tot 190 en Klipplaat toegeneem tot 455, vir ’n totaal van 1 095. In 1989 het Jansenville 405 belydende lidmate gehad, Waterford 129 en Klipplaat slegs 200, altesaam dus 734. Teen 2012 het die moedergemeente darem nog 260 belydende lidmate gehad, maar die dogtergemeentes saam slegs 87, wat die totaal te staan gebring het op 347, vyf keer minder as sowat ’n eeu vantevore.

Geskiedskrywing

Eerw. Andries Dreyer het in 1930, met die viering van die gemeente se eerste driekwarteeu, Gedenkboek van Jansenville, geskiedkundige oorsig van die 75-jarige bestaan van die plaaslike Ned. Geref. Kerk die lig laat sien. Dit het 80 bladsye beslaan, is geïllustreer en op Stellenbosch gedruk. Met die honderdjarige bestaan van die gemeente in 1955 het daar nie weer ’n gedenkboek verskyn nie. Sid Fourie het wel die dorp se geskiedenis baie jare later behandel in sy Turning Back the Pages – Jansenville – The Story of a Noorsveld Town and District. Die Noorsveld waarna in die titel verwys word, is geleë ten noorde van Soutpansnek in die Witteberge tussen Jansenville en Pearston en staan ook bekend as Jansenville Noorsveld. Die Noorsveld het sy naam te danke aan die noorse (Euphorbia enopla) wat gedurende strawwe droogtes stukkend gekap en as voer vir vee gebruik word nadat die dorings afgebrand is. (Geskryf deur Morne van Rooyen)

Predikante

  • Carl Theodorus Muller, 20 April 1873 – 23 Julie 1878 (oorlede in die amp)
  • Jan Gysbert Kriel, 1879 – 3 Oktober 1881 (oorlede in die amp)
  • Johannes Abraham Joubert, 1882 – 27 Augustus 1894 (oorlede in die amp)
  • Dr. Nicolaas Johannes Brümmer, 1895–1898
  • Jacob Petrus Jacobus Petrus Burger, 1899–1905
  • Izak Petrus van Heerden, 1906 – 20 Februarie 1924 (oorlede in die amp)
  • Johannes Gerhardus Olivier, 21 Mrt. 1925 – 1928
  • Jacobus Albertus Van Zyl le Roux, 1929–1946 (emeriteer)
  • Willem Johannes de Wet, 1947–1961
  • Dr. Johannes Hendrik Nicolaas Prinsloo, 1967 – Maart 1970
  • Andreas Petrus Morgenthal, 10 September 1971 – 25 November 1977 (emeriteer)
  • Ockert Johannes Fourie, 27 Januarie 1978 – Mei 1981
  • André Ferdinand Gouws, 22 April 1983 – Oktober 1988
  • Daniël Gerber, 1988–2003
  • Hendri Johannes Roberts, 2004–2008
  • Dr. Marthinus Christiaan (Tienie) Strydom, 2009–?
  • Barend Johannes Piek, 13 April 2014 – 2017