NG Gemeente Humansdorp

Humansdorp se NG moederkerk is opgerig in die Neo-Bisantynse styl wat so gewild in die jare 40, 50 en 60 was. Die argitek was Hendrik Vermooten.

GESTIG

1849

Ring

Humansdorp

Adres

H.v. Hoof- en Kerkstraat, Humansdorp

Sluit in

Humansdorp (deels) en omgewing

Eerste predikant

W.F. Heugh (1851–1881)



Die NG Gemeente Humansdorp is in 1849 gestig as die 42ste gemeente van die Nederduitse Gereformeerde Kerk en die negende gemeente in wat later die NG Kerk in Oos-Kaapland sou word.

Die gemeente is afgestig van die moedergemeente Uitenhage en het tot in 1859 die naam gedra van die parochie van Alexander, so genoem na die leraar van die moedergemeente ten tyde van die afstigting, ds. Alexander Smith. Uitenhage het destyds geressorteer onder die Ring van Albanie en met die Ringsitting van 1848 in die kerkgebou op Riebeek-Oos, indertyd die middelpunt van die gemeente Albanie, het ds. Smith in sy gemeenteverslag melding gemaak van die begeerte en voorneme van die inwoners aan die oorkant van die Gamtoosrivier om ’n afsonderlike gemeente te vorm.

Hy kon ook meedeel dat die vraagstuk in verband met ’n geskikte stuk grond waarop ’n kerkgebou en pastorie opgerig kon word, opgelos is deurdat die heer M.J. Human ’n stuk grond van sowat 600 morg gratis vir dié doel afgestaan het. Daarop is ’n voorstel van ds. Smith dat genoemde gedeelte oorkant die Gamtoosrivier voortaan ’n afsonderlike gemeente sou uitmaak, met algemene stemme aangeneem. Die kerkraadslede wat deur die Ring benoem is, is op 14 Februarie op Kerkplaas, ongeveer 7 km ten weste van die huidige Humansdorp, aan die gemeente voorgestel en op Maandag 19 Februarie kon die eerste kerkraadsvergadering gehou word.

NG Gemeente Humansdorp se eerste kerkgebou

Humansdorp het sy kruisvormige kerkie op 31 Augustus 1851 ingewy. Dié plegtigheid is waargeneem deur prop. W.F. Heugh, seun van Uitenhage, wat so pas na voltooide studie uit Nederland in Suid-Afrika teruggekeer het. Ds. Heugh het in Engels sowel as in Nederlands gepreek en so ’n groot indruk op die gemeente gemaak dat ’n gemeentevergadering die volgende dag eenparig besluit het om die kerkraad te vra om op hom ’n beroep uit te bring. So is ds. William Heugh op 1 September 1851 tot herder en leraar van Alexander beroep.

Ná ds. Heugh het in die vroeë tyd in die Humansdorpse gemeente gearbei: di. Petrus Albertus Groenewald, B.B. Keet, J.D. Horak, C.H. Stulting, J.D. Stulting en ds. Odendaal. Die eerste twee dogtergemeentes was Kareedouw en Gamtoosvallei. Later sou ook onder meer Humansdorp-Oos in 1976 van die toe 128 jaar oue moedergemeente afstig. (Geskryf deur Morne van Rooyen)

Predikante

  • William Flemming Heugh, 1851 – 1881
  • Petrus Albertus Groenewald, 1882 – 1893
  • Barend Bartholomeus Keet, 1894 – 1903
  • Jakob Daniël De Villiers Horak, 1904 –1913
  • Christiaan Hendrik Stulting, 1913 – 1946
  • Douw Lodewyk Steyl, 1920 – 1921(hulpprediker)
  • Jan Daniël Stulting, 1934 – 1943
  • Christiaan Jacobus Odendaal, 1947 – 1955
  • Johannes Lodewyk Nel, 1956 – 1964
  • Nico Schreuder, 1958 – 1966
  • Frederik Christoffel Coetzee, 1985 – 1997
  • Mattheüs Human Langenhoven, 2016 – hede