gestig
1938
Eerste predikant
Ds. J.H.A. Crous
Ring
Goudveld (voorheen Hennenman)
Adres
Beckstraat 20, Hennenman
Waarby ingelyf
Die NG Gemeente Hennenman is ‘n gemeente op die gelyknamige dorp in die Vrystaatse Sinode. Op 1 Augustus 2012 is die dogtergemeentes Hennenman-Oos (1956) en Hennenman-Wes (1982) by die moedergemeente ingelyf. Destyds het Hennenman 421 belydende lidmate gehad, Hennenman-Oos 439 en Hennenman-Wes 426. Teen 2022 was die moedergemeente se lidmaattal 757. Die saamgestelde gemeente gebruik die kerkgebou van die ou Oos-gemeente by Beckstraat 20.
Agtergrond
Hennenman was eers bekend as Ventersburg-weg en sedert die stigting van die NG Gemeente Ventersburg in 1890 was dit een van sy wyke. Omdat dikwels verwarring ontstaan het deur die name Ventersburg, Ventersdorp, Venterstad, Venterskroon en Ventersburgweg-stasie, is besluit om die stasie Hennenman te noem as ‘n huldeblyk aan P.F. Hennenman van die plaas Swartpan. Die feit dat Hennenman aan die hoofspoorweg na Johannesburg en in die middel van ‘n produktiewe mieliestreek geleë is, het hom vinnig laat ontwikkel.
Intensiewer bearbeiding
As gevolg van die ryk kalkafsettings in die omgewing is in 1936 ‘n tweede sementfabriek opgerig, naamlik die Anglo Alpha-sementfabriek. Met die toename van die bevolking in en om Hennenmanstasie het die intensiewe bearbeiding van die wyk noodsaaklik geword. Vanaf 1926 het hier ‘n Sondagskool met ongeveer 50 kinders onder leiding van Wessel de Beer bestaan. Vanaf 1927 is twee buitedienste per kwartaal hier gehou. Eers is die dienste in die ou houtskoolgebou gehou, maar dit was spoedig te klein, met die gevolg dat die inwoners van die wyk Hennenman in 1928 besluit het om ‘n eie saal op te rig. P.F. Hennenman het ‘n stuk grond vir die doel geskenk en ‘n boukommissie is gekies.
Verskillende persone het mooi bedrae in die boufonds gestort. Op ‘n gemeentevergadering te Ventersburg op 30 Junie 1928 is besluit om ‘n saal vir £1 250 te bou. Plaaslik is toe reeds meer as £1 000 byeengebring. Gedurende die depressiejare en die groot droogte van 1933 het die Ventersburg-kerkraad dit moeilik gevind om voorsiening te maak vir die meer intensiewe bearbeiding van die wyk Hennenman.
Gemeentestigting
Hennenman het gevoel dat die tyd vir afstigting aangebreek het. Ná ‘n derde poging in 1938 is die afstigting van ‘n nuwe gemeente te Hennenman toegestaan. Op 20 Junie 1938 is die grenslyne finaal deur die Ringskommissie vasgestel. Die eerste koster en kassier was G.H. Pienaar, onderwyser aan die plaaslike skool. Op 15 Augustus 1938 is die eerste leraar, ds. J.H.A. Crous, beroep en op 28 Oktober is hy bevestig. Die pastorie is gekoop vir £1 500. Sedert 1939 is daar kragtig geywer vir die stigting van ‘n dorp en op 5 Augustus 1941 is die stigting van ‘n dorpsbestuur vir die gebied Hennenman-Havengaville goedgekeur. Die naam van die dorp sou Hennenman wees.
Kerkbou
Die kerksaal was spoedig te klein en die gedagte aan kerkbou het vinnig begin posvat. Ds. Crous neem ‘n beroep aan na Luckhoff, waarop ds. J.F. Mentz van die Paarl die beroep na Hennenman aanneem. Op 13 Desember 1947 is die nuwe kerkgebou, ontwerp deur Gerard Moerdyk, ingewy deur ds. Crous en dieselfde aand word ds. Mentz bevestig. Die sieletal van die gemeente staan toe op 1 800 en die lidmate op 1 100.
Met die ontdekking van goud in hierdie omgewing het dinge te Hennenman ook teen ‘n versnelde tempo ontwikkel. Op 9 Junie 1951 is Virginia afgestig as ‘n selfstandige gemeente, met ‘n bruidskat van £6 000.