NG Gemeente Heilbron

Die NG kerk Heilbron. Pres. Jan Brand het die hoeksteen van die kerk op 27 November 1880 gelê. Dis ontwerp deur David McArthur. Sy enigste ander NG kerk was die moederkerk op Bethlehem.

Gestig

Mei 1873

Ring

Heilbron

Adres

Presidentstraat 40, Heilbron

Sluit in

Heilbron (noordelike deel) en distrik

Eerste predikant

D.J. Minnaar (1879–1915)


Die NG Gemeente Heilbron is ’n gemeente op die gelyknamige Vrystaatse dorp, waar benewens die moedergemeente ook sedert 1929 die NG Gemeente Heilbron-Suid bestaan. Heilbron is die 19de gemeente wat in die Vrystaatse Republiek gestig is.

Heilbron is in Mei 1873 in sy geheel van die gemeente Kroonstad afgestig met ’n sieletal van nagenoeg 3 000. Ds. H.W. van der Merwe van Kroonstad was die eerste konsulent. Die naam Heilbron staan in verband met die fontein wat destyds baie sterk was (“Bron van Heil”). Eers op 28 Junie 1879 is prop. D.J. Minnaar as predikant bevestig deur ds. G.W.B. van der Lingen van Kroonstad. Ds. Minnaar het die gemeente 36 jaar lank met die grootste ywer en toewyding bedien. Hy moes weens swak gesondheid aftree en neem op Sondag 26 September 1915 afskeid van die gemeente nadat hy sy emeritaat aanvaar het. Hy is in latere jare deur die hulppredikers A.J. Troskie, M.W. Odendaal en J. le Roux Hauptfleisch bygestaan.

Op onderwysgebied het ds. Minnaar dit so ver gebring dat ná die Tweede Vryheidsoorlog Heilbron die meeste buiteskole in die Vrystaat gehad het sodat elke kind binne bereik van ’n skool was. In die gemeente was 55 buite-Sondagskole met meer as 800 leerlinge. Deur sy onvermoeide ywer, bygestaan deur sy onvergeetlike eggenote, het ’n seunskoshuis tot stand gekom en is die vooruitsig van ’n meisieskoshuis geskep, wat enige jare ná sy dood opgerig is; uit dankbare herinnering is laasgenoemde na hulle genoem Helena-Minnaar-Hof.

Die gemeente was wyd uitgestrek en die ledetal het toegeneem; tog ds. Minnaar elke huisgesin jaarliks met kar en perde besoek. In 1882 is Parys van Heilbron afgestig en in latere jare dele onder Koppies, Edenville, Petrus Steyn (gestig met die naam Concordia) en Oranjeville. Pres. Jan Brand het die hoeksteen van die kerk op 27 November 1880 gelê. Die gebou het £12 000 gekos. Die inwydingsrede is gehou toe ’n blye en dankbare skare toegespreek is deur die begaafde en onvergeetlike ds. P. Winter, destyds predikant van Bultfontein, altans Ons Kerk Album (1917).

In ds. Minnaar se 36 jaar lange dienstyd het die lidmate skerp toegeneem. In 1879 het hulle 800 lede getel; in 1884 het die getal so toegeneem dat ’n nuwe gemeente op Parys gestig moes word, geheel en al uit Heilbron. In 1908 is ’n groot deel aan die NG Gemeente Koppies afgestaan, in 1913 ’n stuk aan Edenville en in 1914 nog ’n gedeelte afgesny aan Concordia (later Petrus Steyn genoem). Nogtans het die gemeente steeds sowat 2 200 lidmate getel met tussen 4 000 en 5 000 siele.

Ds. S.J. Perold het die gemeente van Januarie 1916 tot Januarie 1918 en weer van Februarie 1919 tot middel 1930 met groot toewyding bearbei (van 1918 tot 1919 was hy leraar van Robertson) en het ds. A.J.L. Hofmeyr van 1925 tot 1928 as hulpprediker gehad. Ds. A.H. Stander was die volgende leraar, van af 1931 tot 1933. Daarna het ds. Louis L. Nel die herderstaf in 1935 opgeneem en die werk van sy voorgangers met ywer voortsit tot 1957 toe hy aangestel is as algemene sendingsekretaris in die Oranje-Vrystaat. Ds. W.J.M. Jansön het hom in 1957 opgevolg.

In 1929 was die ledetal ruim 2 000 en moes telkens twee Nagmale gehou word om in die geestelike behoeftes van die gemeente te voorsien. Hierdie reëling het nie bevrediging gegee nie en deur ooreenkoms is toe besluit om die gemeente in twee te verdeel. Op 25 September 1929 is die suidelike deel toe onder die naam Heilbron-Suid afgestig. Die eiendomme is eweredig verdeel en het die allerhartlikste samewerking tussen leraars, kerkrade en gemeentelede bestaan, volgens die medewerker van Ons gemeentelike feesalbum (1952). (Geskryf deur Morne van Rooyen)

Predikante