NG Gemeente Heilbron-Suid

Die NG kerk Heilbron-Suid. (Foto: Morné van Rooyen)

gestig

25 September 1929

eerste predikant

Ds. F.J.B. Naudé

RING

Heilbron

ADRES

Breëstraat 59, Heilbron

EERSTE PREDIKANT

Die NG Gemeente Heilbron-Suid is die tweede gemeente op die Vrystaatse dorp Heilbron en ‘n gemeente in die Vrystaatse Sinode.

Op 25 September 1929 is hierdie gemeente van die gemeente Heilbron afgestig, nadat onderling ooreengekom is om die gemeente in twee te verdeel, aangesien dit te groot geword het en die kerk te klein. Die kerkeiendomme is ook eweredig verdeel. Die kerkkoshuise en sendingeiendomme het die gesamentlike besit van die twee gemeentes gebly.

Ds. J.P.H. Steyn van Petrus Steyn was die eerste konsulent en ds. D.J. Pienaar, vroeër van Potchefstroom, het die gemeente ’n tyd lank bedien. Die Hervormde gemeente het goedgunstiglik die gebruik van hulle kerk aan die pas afgestigte gemeente beskikbaar gestel.

In Augustus 1937 is ds. F.J.B. Naudé as die eerste predikant bevestig en hy het die gemeente tot 1942 bedien, toe hy die beroep na Kerkenberg (Harrismith) aangeneem het. Onder leiding van ds. Naude is geld ingesamel om ’n eie kerk te bou, wat deur A. Fairweather, van Kroonstad, in 1936 teen koste van £8 800 voltooi en wat op 15 Augustus van daardie jaar ingewy is.

Met die inwyding van die orrel en ligte het prof. David Roode die orrel by die geleentheid bespeel. Die uurwerk en klok in die toring is ’n geskenk van wyle ouderling. C.J. Roos, wat dit self in Holland laat vervaardig het. Sy gade het later ’n stuk grond aangekoop en aan die gemeente geskenk om ’n kerksaal daarop te laat bou. Een van die grootste bydraers tot die kerkfondse was oud-ouderling J.J. (Oupa) Els.

Ná die vertrek van ds. Naudé word ds. G.D. Wessels predikant van die gemeente tot 1948, toe hy ’n beroep na Sundra, Transvaal, aanneem. Sy opvolger, ds. I.E. Heyns, is einde 1948 hier bevestig. Die gemeente het toe ’n goeie pastorie sonder skuld besit. Vanaf die begin het daar die allerhartlikste samewerking tussen die leraars, kerkrade en gemeentelede van die twee NG gemeentes bestaan.