gestig
6 November 1920
Die NG Gemeente Gwelo was ‘n gemeente in die Sinode van MIdde-Afrika.
Die dorpie Gwelo het in 1894 tot stand gekom as die middelpunt van ‘n mineraalgebied waaronder goud, chroom, silwer, asbes. Kort na die begin van hierdie eeu was daar al ‘n klompie lidmate van die N.G. Kerk. In 1902 het eerw. A. J. Liebenberg daar besoek afgelê, en in 1905 ds. N. Geldenhuys van Bulawayo waaronder die wyk geressorteer het en prop. G. B. A. Gerdener.
‘n Groot bron van kommer was ongeveer 50 kinders wat sonder enige skoolopleiding moes grootword, en ‘n tydjie later is die skooltjie Ebenhaeser gestig.
Ander besoekers aan die dorpie was eerw. A. J. Botha, ds. I. van A. Smuts en dr. D. J. Malan (lg. het drie dienste in die magistraatshof gehou), ds. P. de W. Eksteen. Uiteindelik, na baie rondswerf, kon ‘n eie kerkgebou bekom word.
Intussen het ook die Daisyfield-weeshuis in die omgewing tot stand gekom onder eerw. Botha in 1914.
Die behoefte het al hoe groter geword om nie maar net ‘n wyk van Bulawayo te wees nie maar ‘n selfstandige gemeente. Tydens die vergadering van die Ringskommissie, het ds. B. J. Kloppers van Salisbury aan die gemeente bekendgemaak dat Gwelo op 6 Nov. 1920 tot ‘n aparte gemeente afgestig het. In sekere sin kan ds. Kloppers beskou word as die stigter van die gemeente, wat die eerste afstigting van die Ring van Bulawayo was. Die eerste nagmaal is op 7 Nov. deur ds. W. C. Malan van Umtali bedien. Omdat hy op een tydstip konsulent van byna al die gemeentes in die land was, is leraars uitgenooi om die gemeente behulpsaam te wees. So het verskeie Leraars dan ook die nuwe gemeente in die herderlose jare besoek.
Uiteindelik, op 2 Junie 1922 is die Rhodesiese veteraan, ds. I. N. Geldenhuys as die eerste leraar van die gemeente bevestig. Hy het drie jaar in die gemeente gewerk en was ‘n kenner van die landsomstandighede en ook van gemeentelike en geestelike omstandighede.
Die troetelkind van ds. Geldenhuys het intussen (1914) na Daisyfield verskuif en hier het hy weer die geleentheid gehad om hom in die besonder daarvoor te beywer. In 1925 het hy ‘n beroep elders heen aangeneem.
Weereens was daar ‘n lang vakature waartydens ds. D. du P. Steyn o.a. die gemeente besoek het totdat ds. G. I. van Zyl uiteindelik in 1927 as leraar bevestig is. Hy het vir byna 18 jaar die gemeente bedien. Hy het hom daarop toegelê om ‘n nuwe kerkie te laat bou wat na vier jaar betrek is.
Daisyfield het intussen uitgebrei en in 1936 is ‘n nuwe direkteur benoem wat ook medeleraar van Gwelo sou wees. My was ds. H. Botha. seun van die vorige direkteur en ‘n gebore Rhodesiër. Saam is daar met groot toewyding gewerk om Daisyfield te ontwikkel.
In 1944 moes ds. Van Zyl weens gesondheidsredes vertrek en ds. Botha word as Leraar beroep. Hy het die gemeente tot 1950 bedien. In 1948 het Daisyfield na Salisbury verskuif.
Die Ouetehuis van die N.G. Kerk het ook in Gwelo tot stand gekom en in 1960 het die eerste inwoners ingetrek.
Ander leraars wat die gemeente bedien het:
Ds. S.F. Dreyer 1951-1954
Ds. M.I. Swart 1954-1959
Ds. I.S. Dreyer 1959-1963
Ds. I.H. van Niekerk 1964-
Bron: Ned, Geref. Kerk Midde-Afrika 75: 1895 – 1970