
gestig
23 Maart 1909
ring
Ring van Heidelberg
Adres
Bothastraat, Greylingstad
eerste Predikant
Ds B. R. Hattingh
Die NG Gemeente Greylingstad is ‘n gemeente in die Hoëveld Sinode.
Die gemeente bestaan uit dele wat eers behoort het tot Heidelberg en Standerton en is tot afsonderlike gemeente van die Ned. Herv. of Geref. Kerk van Transvaal afgestig deur die Ringskommissie van Potchefstroom op 27 April 1909. Sy word geplaas onder Ring van Utrecht en tot haar eerste konsulent word benoem die predikant van Standerton, ds. N.H.C. De J. Theunissen. Die gemeente was een van die weinige wat nie na haar dorp genoem is nie, aangesien die dorp destyds bekendgestaan het as Willemsdal. Dog later is die dorpie ook Greylingstad genoem.
Die eerste predikant van die gemeente was ds. B.R. Hattingh, vroeër van Sutherland, Kaapkolonie. Hy is tot herder en leraar beroep op 11 Julie 1910 en bevestig op Saterdag 22 Oktober 1910. Op dieselfde dag is ’n gebou van yster en hout, wat tydelik vir godsdiensoefeninge sou gebruik word, deur ds. A.J. Louw van Heidelberg ontsluit.
Die vooruitgang van die gemeente was baie snel. Toe die eerste predikant hier aankom, was daar op die hele plek wat tot dorp verklaar sou word, geen enkele ander gebou as dié wat vir kerklike doeleindes opgerig is nie. Drie jaar later is ’n voorlopige pastorie gebou en betaal en kon die hoeksteen van die nuwe Godshuis gelê word deur genl. C.F. Beyers op 18 Januarie 1913. Die plegtige inwyding van die sierlike en doelmatige kerkgebou het op 2 Mei 1914 plaasgevind.
Van die gemeente se stigting in 1909 tot 30 Junie 1916 was die inkomste £17 784.18s.8d, of gemiddeld byna £3 000 per jaar. In daardie jaar het die ywerige leraar bedank om hom te wy aan die werk van die Helpmekaar-beweging en om “nationale bedrijvigheid aan te moedigen”. Sy opvolger was ds. N.H.C. De J. Theunissen, wat sy liefde vir Transvaal nie vergeet het nie en van Die Strand hierheen oorgekom het aan die einde van 1916. (Geskryf deur Morne van Rooyen).
Predikante
- Bernardus Rudolf Hattingh, 1910 – 1916
- Nicolaas Hendrik Christiaan de Jongh Theunissen, 1916 –
- David Johannes Streicher, 1936 – 1940 (Hulpprediker)
- Thomas Philippus Smith, 1959 -1976
- Tertius Erasmus, 1992 – 1996
- Johan David 1996 – 2000
- Sarel Marthinus Johannes Dry, 2001 – hede