GESTIG
1862
Ring
Queenstown
Adres
Balfour
Sluit in
Balfour, Seymour
INGELYF BY
Fort Beaufort
Eerste predikant
T.I. van Wyk (1912–1926)
Die NG Gemeente Greykerk was die 89ste oudste gemeente van die Nederduitse Gereformeerde Kerk en het die dorpies Seymour (jare lank deel van die voormalige tuisland Ciskei) en Balfour, 14 km daarvandaan in die Oos-Kaap, omsluit.
Nadat die Britse regering van die Kaap dit reggekry het om die Xhosa-hoofman Macomo uit sy woongebied in die vrugbare valleie van die Katrivier en sy bolope te verdryf, het kaptein (later sir) Andries Stockenström, destyds kommissaris-generaal van die oostelike distrikte van die Kaapkolonie, op die gedagte gekom om hierdie ontruimde distrikte aan bruin mense uit die sendingstasies Theopolis en Bethelsdorp te gee. Dit was die oorsprong van die geskiedkundige Katriviernedersettings wat as buffer tussen die wit grensbewoners en die Xhosas moes dien en wat in 1844 as distrik die naam van sy stigter, Stockenström, ontvang het.
In 1830 het die regering eerw. William Ritchie van die Londense Sendinggenootskap se Tjumie-sendingstasie aangestel om in die nedersetting te arbei en enkele jare later het sy werkkring ’n gemeente van die NG Kerk, die latere NG Gemeente Stockenström, geword. Dit het egter tot 1848 Balfour geheet, na die woonplek van die leraar.
Wit nedersetting
In die Agtste Grensoorlog (1850–’51) het ’n gedeelte van die bruin mense van die Katrivier hulle aan die kant van die Xhosa-aanvallers geskaar. Gevolglik is hul grond verbeurd verklaar en aan wit nedersetters uitgegee is. ’n Ruk lank het dié intrekkers saam met die bruin mense onder die bearbeiding van ds. Thomson gestaan, maar reeds in 1855 het hulle hul ontevredenheid te kenne gegee omdat hulle saam met die bruin mense die Nagmaal moes geniet (destyds nog uit een gemeenskaplike Nagmaalsbeker) en geen wit kerkraadslede gekies is nie. Wat die laaste grief betref, was die kerkraad bereid om toe te gee, maar oor eersgenoemde wou hulle geen konsessie maak nie. Die Ring het die handelswyse van die kerkraad goedgekeur, maar terselfdertyd by hulle aanbeveel om een of meer tafels “voor de nieuwe of blanke leden” te bedien. Al die blankes het nie met dié reëling geneë geneem nie en in Februarie 1860 het hulle besluit om hul eie kerk op te rig waarin ook die Engelse van die distrik ’n heenkome kon vind.
Afstigting
’n Komitee wat die saak moes behartig, het in dieselfde jaar ’n memorie voor die Ring gelê met die versoek om ’n afsonderlike gemeente uit te maak, maar het as enigste motief aangegee dat die bestaande kerkgebou te klein was. Die Ring het dit nie as voldoende rede vir afstigting beskou nie, maar die saak is verder ondersoek en in 1862 is toe uit Stockenström ’n gemeente vir die wit lidmate gestig, sover bekend die eerste en enigste maal dat wit lidmate uit ’n oorwegend bruin kerk afgestig het.
Eers is besluit om die kerk wat reeds in Julie 1862 ingewy is en wat dekades lank nog as kerksaal sou dien, “Sir George’s Dutch Reformed Church” te noem, maar later is dié naam deur “Greykerk” vervang, albei ter ere van die gewilde Kaapse goewerneur sir George Grey, wat die kerkplaas aan die gemeente geskenk het.
Eerste eie leraar
‘n Volle 50 jaar lank is die gemeente as konsulentsgemeente deur die leraars van Stockenström bedien. Eers in 1912 is ds. Tobias Izaak van Wyk tot eerste eie leraar van Greykerk bevestig en hy is opgevolg deur di. H.P. van Straten (1928 – ’38), S.S. Weyers (1938 – ’42), P.A. de Wet (1942 – ’47), Gibeon Nel en andere. Die gemeentegrense was dieselfde as dié van die distrik en gemeente Stockenström. Die kerkgebou en pastorie het nie op die hoofdorp, Seymour, gestaan nie, maar op ’n plaas van amper 140 ha naby die dorpie Balfour aan die voet van die skilderagtige Katberg, in die middel van die distrik, by die spoorwegstasie Katberg en aan die latere R67 tussen Fort Beaufort en Queenstown.
Ds. P.A. de Wet
Petrus Arnoldus De Wet (6 Junie 1903 – 23 Februarie 1992) op 26 Julie 1903 is op Lichtenburg gedoop. Hy word in 1934 gelegitimeer en dien agtereenvolgens in die volgende gemeentes: Christiana (1935), Duplooysburg (1937), Greykerk (1942), Queenstown (1947), Kerkenberg (1949), Willowmore (1953), Bedelia (1956), Greykerk (1960), Potchefstroom-Noord (1962) en Ventersdorp-Oos (1966). Hy aanvaar sy eerste emeritaat in 1969 maar aanvaar ’n beroep in 1973 na Dwaalboom. Op 25 Januarie 1976 aanvaar hy sy tweede emeritaat. Hy woon voor sy dood op Magaliesburg. Twee kinders is uit sy huwelik in 1933 met Cornelia Hester van Rooyen gebore op Winburg op 6 Maart 1914.
Inlywing
Soos die geval met die amper al die ander gemeentes in die Oos-Kaapse grensgebied wat deels of heeltemal binne die latere tuislande van Ciskei en Transkei geval het, het Greykerk ophou bestaan en is dit op 11 Desember 1983 by die NG Gemeente Fort Beaufort ingelyf. Dieselfde lot het die NG Gemeentes Pondoland (ingelyf by NG Gemeente Kokstad), Du Plessis (ingelyf by Indwe), Komga (ingelyf by Stutterheim), Alice (ook ingelyf by Fort Beaufort) en Peddie (ingelyf by King William’s Town) getref.
Die omgewing om Blinkwater, Buxton, Hertzog, Balfour, Katberg en Seymour was ’n vooruitstrewende landbougebied gedurende die 1940’s tot 1960’s. Boere het veral met lemoene en tabak geboer. Daar was selfs twee groot sitruspakhuise in die omgewing en heelwat van die sitrusproduksie is daarvandaan uitgevoer. Hierdie gebied het buite die stamgrond van die destydse Ciskei geval. Gedurende die 1970’s het die owerheid van Ciskei, toe nog nie “onafhanklik” nie, aanspraak op gebiede binne die gemeentegrense gemaak. So is dit vroeg in die 1980’s by Ciskei, wat in 1981 “onafhanklik” geword het, ingelyf. Die wit boere en hul gesinne moes die gebied verlaat en die Greykerk het ontbind. Die Suid-Afrikaanse regering het die NG Kerk vir die verlies van die Greykerk-eiendom vergoed. ’n Gedeelte van die geld is gebruik om akkommodasie vir van die Greykerk-lidmate in Huis Corrie Dreyer-ouetehuis op Adelaide te bou. Die res van die geld is belê sodat die lidmate verder finansieel ondersteun kon word.
Nagevolge van Sinodebesluit van 1857
Die NG Sinode van Oos-Kaapland skryf soos volg oor die Kaapse Sinode van 1857 se besluit – “weens die swakheid van sommige” – na aanleiding van die wit lidmate van Stockenström se beswaar dat gemeentes wat uit die heidene opgerig word, hul Christelike voorregte in ’n afsonderlike gebou of gestig kon geniet: “Dit is uiters belangrik om raak te sien dat (dit) geen prinsipiële besluit tot afsonderlike kerkvorming was nie. Immers begin die besluit met die uitspraak: ‘De Synode beschouwt het wenschelijk en schriftmatig, dat onze ledematen uit die Heidenen in onze bestaande gemeenten opgenomen en ingelijfd worden, overal waar zulks geschieden kan.’ Veel eerder moet dit as ’n ordereëling gesien word, beskou as in die beste belang van ‘de bevordering van de saak van Christus onder de Heidenen’. Ongelukkig het hierdie besluit tog die weg tot afsonderlike kerkontwikkeling gebaan.” En: “Die verdere (ongelukkige) verloop van die geskiedenis is bekend: in 1881 word die NG Sendingkerk gestig, in 1910 die (swart) NG Kerk in Afrika, en in 1968 die (Indiër) Reformed Church in Africa.” (Geskryf deur Morne van Rooyen)
Predikante
- Tobias Izaak van Wyk, 1912–1926
- Hendrik Petrus van Straten, 1928–1938
- Stephanus Salmon Weyers, 1938–1942
- Petrus Arnoldus de Wet, 1942–1947, 1960–1962
- Gideon Nel, 1947–1952
- Joachim Petrus Nicolaas Prinsloo, 1952–1960
- Christoffel Frans Snyders le Roux, 24 Februarie 1968–1974 (waarna Kuruman en NG gemeente Grahamstad, 1978–1988, en toe uit die bediening)
- Isak Marthinus Stephanus Joubert, 1975–1981 (uit die bediening)
- André Johan de Villiers, 1980–1983 (laaste leraar)