NG Gemeente Graaff-Reinet

Die kerkgebou van Graaff-Reinet se moedergemeente, opgerig van 1885 tot 1887 volgens die plan van die Kaapse argitek en siviele ingenieur James Bisset.

GESTIG

11 November 1792

Ring

Graaff-Reinet

Adres

Kerkstraat, Graaff-Reinet

Sluit in

Graaff-Reinet, Adendorp

Waarby ingelyF

Nuwekerk

Eerste predikant

Andrew Murray sr. (1822–1866)


Die NG Gemeente Graaff-Reinet, ook bekend as die Grootkerk, is op 11 November 1792 gestig as sesde gemeente van die Nederduitse Gereformeerde Kerk aan die Kaap. Dit is die oudste gemeente in die Sinode van Oos-Kaapland asook die provinsie Oos-Kaap.

Op 1 Januarie 2018 is die eenwording van NG Gemeente Nuwekerk en Grootkerk deurgevoer. Cradock met sy drie gemeentes is nou die enigste dorp op die Oos-Kaapse platteland met meer as een NG gemeente.

Agtergrond

In die 18de eeu het die boere se perdekommando’s, wat van die Kaap af ooswaarts getrek het, die gebied van die Kamdeboovlakte en die Sneeuberg bereik. Die eerste plase aan die voet van die Sneeuberge is in die dekade ná 1770 aangelê. Onrus, wetteloosheid en talle botsings met die Xhosas het die vroeë geskiedenis van Graaff-Reinet gekenmerk. Eers met die aanstelling van ’n landdros, wat wet en orde moes handhaaf, het die vreedsame ontwikkeling van die dorp begin.

Mauritz Woeke, die eerste landdros, is op 13 Desember 1785 na die destydse grensgebied gestuur. Hy het die distrik en woonplek, wat hy vir homself uitgesoek het, na die goewerneur van die Kaap, Cornelis Jacob van de Graaff, en sy vrou Cornelia, gebore Reinet, genoem. Die grense van die nuwe landdrosdistrik, die vierde in die land naas Kaapstad, Stellenbosch en Swellendam, is op 19 Julie 1786 in ’n kennisgewing van die regering, ’n sogenaamde “plakkaat”, geproklameer. Die Kaapse goewerneur het die dokument op 30 Augustus 1786 onderteken en dit so amptelik bekrag.

Gemeente gestig

Graaff-Reinet se eerste NG kerkie het binne die eerste dekade van die gemeente se bestaan afgebrand.

Graaff-Reinet se eerste kerkie

Ses jaar later stig die NG Kerk dié oudste gemeente in die huidige Oos-Kaap. Ds. J.H. von Manger (1792–1795) is as Graaff-Reinet se eerste predikant aangestel. Die ouderlinge was Marthinus Wessel Pretorius en Jan Jacobs. Die diakens was Andries Pretorius en Barend Burger. Die eerste doopplegtigheid is op 20 Oktober 1792 gehou en Susanna de Beer is op daardie dag gedoop. Ds. Von Manger het ongelukkig nie kerkraadsnotule gehou nie. Ná die burgeropstand in 1795 het hy na Kaapstad vertrek.

Hierna is ds. H.W. Ballot (1798–1800) na die gemeente gestuur. Tydens die eerste vergadering moes hy van ouderling Marthinus Wessel Pretorius, vader van kommandant-generaal Andries Pretorius, verneem dat daar geen aantekeninge gehou is van die vorige besluite van die kerkraad nie. Ds. Ballot het wel kerkraadsnotule gehou en die eerste notules dateer van 8 Januarie 1798. Die eerste kerk in die gemeente se geskiedenis het afgebrand weens die nalatigheid van ene Jansen. Die tweede kerk (die eerste op die huidige perseel) is in 1799 voltooi en is op 28 September 1800 ingewy. Die Bybel van diaken Paul Maree is aangekoop om as Kanselbybel te dien.

Van 1800 tot 1806 was die gemeente herderloos. Gedurende 1806 het ds. J.J. Kicherer (1806–1815) die derde predikant van Graaff-Reinet geword. Tydens sy bediening is die gemeentegelde in ’n stinkhoutkis en die Nagmaalgerei in ’n geelhoutkis bewaar. Op ’n vergadering op 28 Julie 1806 is daar gekla omdat daar geen banke en stoele in die kerk was nie. Die lidmate is toe versoek om vir hul sitplek in die kerk te betaal. Die sitplekke in die kerk het voortdurend moeilikheid veroorsaak, byvoorbeeld tot Ferdinand Hartzenberg by geleentheid kla dat die huisvrou van T. Warnich sy stoel in die kerk verskuif het.

Tydens die tydperk dat ds. Kicherer op Graaff-Reinet was, is die Reinet-huis as eerste pastorie voltooi en het hy die huis bewoon. Hierna het ds. Johannes A. Schüutz die gemeente van 1815 tot 1818 bedien. Niks buitengewoons het tydens ds. Schütz se bediening plaasgevind nie. Daar word selfs gemeld dat die kerkraadsvergaderings so kleurloos was dat dit wat bespreek is, nie eens aangeteken is nie. Die verwaarloosde kerk is deur ’n gekalkte muur omring. Twee slawe is aangekoop om te help met die herstelwerk aan die kerk. Die reisiger Burchell was op besoek aan die dorp was, het die orrel bespeel en dit as synde in ’n slegte en verwaarloosde toestand beskryf. Die predikante van George en van Graaff-Reinet was voor die stigting van die gemeente Uitenhage verantwoordelik vir die geestelike welsyn van die mense van Uitenhage. Landdros Cuyler se twee kinders is albei gedurende 1816 op Graaff-Reinet gedoop.

Dr. Abraham Faure (1818–1822), die gemeente se laaste Afrikaner-predikant vir die res van die 19de eeu, was ’n buitengewoon begaafde leraar. Hy was baie bekommerd oor die tekort aan geestelike leesstof in die gemeente en het die eerste biblioteek op Graaff-Reinet help stig. Van 1822 tot sy aftrede in 1867 was hy leraar van die Groote Kerk. Hy is oorlede op 27 Maart 1875.

Ds. Andrew Murray sr.

Graaff-Reinet se derde kerk

Die derde kerk, op dieselfde prominente perseel as die tweede en vierde (huidige), is kort na die koms van ds. Andrew Murray sr. (1822–1866) gebou en het diens gedoen tot dit gesloop is om plek te maak vir die kerk wat in 1887 ingewy is.

Ná die tweede Britse besetting van die Kaap het die owerheid besluit om die land se inwoners deur middel van die onderwys, staatsdiens en die Kerk te verengels. Ingevolge ’n proklamasie van 1822 moes Engels die enigste amptelike taal word. Nederlands moes uit die staatskole en die Nederduitse Gereformeerde Kerk verdwyn en deur Engels vervang word. Lord Charles Somerset het opdrag aan ds. George Thom van die Londense Sendinggenootskap gegee om predikante in Skotland te werf. Die verengelsing van die NG Kerk het egter nie geslaag nie. Daar is wel Engelse eredienste gedurende die 19de eeu gehou, veral in die gemeentes van die Kaapse Kerk. Maar die meeste Skotse predikante het Hollands geleer en baie van hulle is met Afrikaans-Hollandse meisies getroud. Die Skotse predikante is vereer vir hul positiewe invloed in dorpsname soos Robertson, McGregor, Sutherland, Fraserburg en Murraysburg.

Ds. Andrew Murray sr. (1822–1866) het dan ook 10 maande in Nederland deurgebring om die taal aan leer voor hy hierheen gekom het. Saam met hom op die skip uit Skotland was die dr. William Robertson wat as onderwyser ook na Graaff-Reinet gestuur is. Hy bly vyf jaar hier en vertrek daarna na sy vaderland om hom as leraar te bekwaam, waarna hy in 1831 die eerste leraar van die NG gemeente op Clanwilliam word. Buiten sy jare lange diens as voorsitter van die Ring van Graaff-Reinet, is ds. Murray in 1834 tot skriba en in in 1837 moderator van die Kaapse Kerk verkies.

Hy het as vrygesel in Suid-Afrika aangekom en is in 1825 met die toe 16-jarige Maria Susanna Stegman getroud. Sestien kinders is uit dié huwelik gebore van wie 11 volwassenheid bereik het. Vyf van die seuns het bekende predikante geword – John (15 September 1826 – 27 Desember 1882), Andrew (9 Mei 1828 – 18 Januarie 1917), William (29 Oktober 1829 – 16 Junie 1899), Charles (26 Februarie 1833 – 31 Oktober 1904) en George (7 Augustus 1845 – 18 Mei 1921) – en vier van die dogters is met bekende predikante getroud. Een van ds. Charles Murray se dogters, Amelia Asher, het getuig dat daar sekerlik nie ’n gelukkiger gesin as hulle was nie. Volgens haar het die kinders en vriende gedurig in die groot tuin met sy oorvloed vrugte gespeel.

Ds. Andrew Murray sr. was baie gelukkig in sy nuwe vaderland en het onbaatsugtige diens aan die gemeenskap gelewer. Hy het baie gedoen vir die sendingwerk in Suid-Afrika sowel as elders op die vasteland. Hy het baie belanggestel in en gehelp met die onderwys en was ook ’n groot voorstander van die vrystelling van slawe.

Ná die aankoms van ds. Andrew Murray is dadelik begin met die oprigting van die derde kerkgebou. Die tweede kerk is geheel en al gesloop en dienste is in die opelug en op plase gehou. Die derde kerkgebou, met sy strooidak, statige gewels, kloktoring en ringmuur, het die gemeenskap van Graaff-Reinet 60 jaar lank gedien. Jare later, toe die kerk te klein vir die gemeente geword het, is daarna na dié gebou as die “Klein Kerkie” verwys.

Ná 44 jaar het ds. Andrew Murray weens swak gesondheid afgetree. Die gemeente het ’n beker vol goue ponde aan die bejaarde predikant geskenk met sy aftrede. Net vier maande nadat hy sê emeritaat aanvaar het, is hy oorlede. In 1871 is ’n gedenknaald vir die suidelike kerkdeur opgerig deur ’n dankbare gemeente.

Ds. Charles Murray

Ds. Charles Murray was ’n besonder begaafde mens met ’n groot liefde vir die onderwys. Hy was ’n kindervriend en het sy suster Helen Murray baie gehelp om die Midland Seminary te stig. Die Ladies Seminary op Wellington was ’n groot sukses; daarom het Charles en sy suster Helen besluit om ’n soortgelyke skool op Graaff-Reinet op te rig. Helen was 38 jaar lank verbonde aan die Midland Seminary. Ds. Charles het ook ’n kerkskool gestig vir behoeftige kinders. Tydens sy bediening was daar 600 kinders in die Sondagskool. Hy was ook verantwoordelik vir die musiekpublikasies Kinderharp en Halleluja Liederen.

Ds. Charles is in 1861 met Amelia Baillie getroud, die dogter van ’n Wesleyaanse sendeling, John Baillie. Uit dié huwelik 14 kinders gebore, van wie vier seuns en twee dogters na die sendingveld in Njassaland gegaan het. Hulle huistaal was Engels.

Kerkskeuring

Weens groot, ingrypende en blykbaar onoplosbare probleme in die gemeente het in die jare 20 van die vorige eeu veel onenigheid op Graaff-Reinet ontstaan, hoofsaaklik weens die gebruik van Afrikaans as kanseltaal deur ds. J.F. Naudé, ds. Beyers Naudé se vader. Nadat herhaalde pogings tot versoening misluk het, het ’n groot aantal gemeentelede besluit om ’n afsonderlike gemeente te stig, met die primêre doel om Engels as kanseltaal te gebruik (iets wat toe nooit in die praktyk gebeur het nie).

Politiek het ook ’n rol gespeel: Die afstigters was hoofsaaklike ondersteuners van die Verenigde Party; jare lank het die Nuwekerk bekendgestaan as die “Sap-kerk”, in teenstelling met die moedergemeente as die “Nat-kerk”. Op 4 September 1927 is ’n onafhanklike gemeente ná veel stryd deur 621 lidmate tot stand gebring. (Geskryf deur Morne van Rooyen)

Predikante