NG Gemeente Glen Lynden

Glen Lynden se tweede kerkgebou op Bedford staan naby aan die eerste kerk op die dorp, wat nou as kerksaal dien.

GESTIG

5 Januarie 1827

Ring

Albanie

Adres

Hartstraat, Bedford

Sluit in

Bedford en omgewing

Eerste predikant

John Pears (1829–1830)


Die NG Gemeente Glen Lynden (Bedford) is die 19de oudste gemeente van die Nederduitse Gereformeerde Kerk in Suid-Afrika en die sesde oudste in die teenswoordige Sinode van Oos-Kaapland. Dit is op 17 Julie 1829 gestig op die gelyknamige Oos-Kaapse dorpie, maar die swaartepunt van die gemeente het van 1891 af na die dorp Bedford verskuif met Glen Lynden vandag net ’n buitewyk.

Daar word gesê Glen Lynden se geskiedenis is die ingewikkeldste van al die NG gemeentes s’n. Dieselfde geld die dogtergemeente Adelaide.

Ontstaan

As antwoord op die regering se aanbod van plase aan die Oostelike grens van die Kaapkolonie, het Afrikaners en, in 1820, Skotse setlaars hulle langs die Baviaansrivier gevestig. Hul tydelike woonplek het hulle Glen Lynden genoem. Omdat Afrikaans- sowel as Engelssprekendes sterk na ’n eie gemeente verlang het, het hulle in 1826 ’n versoekskrif aan die regering gerig om ’n predikant en kerkgeboue. As reaksie op die gunstige antwoord is op 5 Januarie 1827 – die stigtingsdatum van die gemeente – ’n bestuurskomitee gekies vir die benoeming van ’n predikant en die beplanning van die geboue.

Die kerk, wat in 1964 oorgedra is aan die NG Kerk in Afrika, is in 1828 voltooi en op 1 Mei 1829 is die eerste predikant, die Skotse ds. John Pears, na wie Pearston genoem is, verwelkom. Reeds in 1830 het hy die kansel egter met ’n professoraat in Kaapstad verwissel. Ontmoedig deur sy swartgallige verslag oor Glen Lynden, waar hy dit onmoontlik gevind het om ’n gemeente op te bou met boere wat nie in die kerk belanggestel het nie, het die regering ds. Alexander Welsh eers in 1833 vir as sy opvolger gestuur. Hy was eweneens ’n predikant uit Skotland.

Die hoeksteen van die ou kerk op Bedford is in 1894 gelê. Dit dien as kerksaal sedert die ingebruikneming van die nuwe kerk.

Wedywering om kerksentrum

In 1855 is Bedford as dorp tussen Glen Lynden en Adelaide aangelê. En van toe af was daar hardnekkige wedywering tussen die drie plekke om voorrang as kerksentrum te kry omdat Adelaide nie vir Bedford of Glen Lynden kon bevredig nie. Bedford het egter ’n ongelyke stryd gehad, want Glen Lynden sowel as Adelaide het probeer verhinder dat Bedford in aanmerking kom omdat nie een van hulle as gemeente sonder Bedford kon bestaan nie.

Vroeër reeds het die adjunk-goewerneur van die Oostelike Provinsie, sir Andries Stockenström, ook probeer hulp verleen. Op las van goewerneur sir Lowry Cole het hy in Maart 1830 die plaas Glen Lynden as kerklike gemeente-eiendom geproklameer. Die moeilikheid met Glen Lynden was so ernstig dat Stockenström op 9 Junie 1830, as gesaghebbende in die Oostelike Provinsie, aanbeveel dat Glen Lynden verlaat word en die plaas Koonapspos (die latere Adelaide) vir die gemeente as middelpunt geneem word.

Ná ds. Pears se bedanking het Stockenström alle belangstelling in die saak verloor en dit daargelaat. Toe die gemeente Glen Lynden met die vakature kennis neem dat die goewerneur hulle bestaan op Glen Lynden afkeur, het ouderling Robert Hart en ander belangstellendes met ’n nuwe voorstel vorendag gekom. Hulle beveel aan dat Stockenström ’n stuk van sy plaas Maasstroom (die latere dorpie Bedford) vir ’n gemeentemiddelpunt gee. Hy het eers geaarsel, maar later ingewillig. Ook dié plan het misluk. In ’n brief wat Thomas Pringle onverwyld aan hom skryf oor die saak, berispe hy hom en Robert Hart dat hulle Glen Lynden wou ondermyn om Maasstroom se waarde te verhoog. ’n Kwaai brief van sir Andries, soos net hy dit kon skryf, was die antwoord daarop. En hiermee was die plan ook vereers van die baan.

Ds. Welsh is op 17 Augustus 1833 deur ds. John Taylor op Glen Lynden bevestig. Sy bediening was moeilik gewees en met die grootste moeite kon die transporte van die kerkgrond op Glen Lynden en Koonapspos nie voor 1859 gekry word nie. In sy tyd het die gemeente drie bloedige Grensoorloë met hulle verwoesting moes deurmaak. Die Groot Trek van die Voortrekkers het ook sy gemeente se ledetal uitgedun. Die leiers, Piet Retief en Van Rensburg, was twee van ds. Welsh se lidmate. Louis Trichardt se plaas in die Kolonie het ook binne die gemeentegrense geval. Die stryd met die Engelssprekende lidmate van Glen Lynden was sedert ds. Welsh se koms daar, maar teen 1839 was hulle ledetal uiters gering.

Die plaket van die RNG aan die ou Glen Lynden-kerk.

Ook die geskenk van die grond aan die Koonaprivier het lank vir die kerkraad moeilikheid opgelewer. In Maart 1848 gee sir Harry Smith die hele stuk grond aan die kerkraad, maar daardie Julie herroep hy dit. In Augustus 1848 word die landmeter gelas om die grondbrief vir die hele stuk grond op te stel, maar in Februarie die volgende jaar word dit herroep. Die kerkraad het die saak voor die Ring en Sinode gebring, sonder dat hulle juis vordering gemaak het, maar aan sir Andries is dit in 1854 opgedra om dit voor die eerste Kaapse Parlement te bring.

Vooraf moes die landmeter eers die plaaslike toestande kom ondersoek. Die parlement het toe beslis dat al die grond aan die gemeente behoort, maar eers in 1858 ontvang die gemeente kaart en transport van sowel Glen Lynden as Koonapspos. Net soos in die tyd van ds. Pears het die regering dus steeds getwyfel aan die voortbestaan van die gemeente; daarom het hy hom sy volle grondregte so volstandig onthou. Steeds was die saak van die gemeente op Glen Lynden onuitvoerbaar en nou was dit weer so ’n moeilike saak omdat die twee middelpunte meer as 50 km uitmekaar was. Destyds was dit ’n groot afstand wat net met moeite afgelê kon word. Die onsekerheid het gemaak dat Koonapspos ook nooit kon groei nie en maar van 1840 af ’n sukkelende dorpe gebly het.

Die ou NG kerk, Glen Glynden. (FOTO: Arina Short)

Sedert die voltooiing van ’n kerk op Koonapspos in daardie jaar, het die swaartepunt van die gemeente ál meer soontoe geskuif en is Koonapspos in 1849 Adelaide genoem, met insluiting Glen Lynden en Oos-Rietrivier. Ná ds. Welsh se dood het sy opvolgers op Adelaide gaan woon. Al Bedford se pogings om ’n kerk het misluk, terwyl Glen Lynden reeds in 1874 ’n nuwe kerk ingewy het. Sake is eindelik so ver gedryf dat Adelaide in 1890 van Glen Lynden afgestig en Bedford in 1891 tussen Glen Lynden en Adelaide verdeel is. Hierdie onbevredigende verdeling het bly voortbestaan tot 1914, toe besluit is dat al Bedford se dorpsgrondbewoners onder Glen Lynden val.

Hoewel Bedford eers in 1895 ’n kerk gekry het, het hy tog sedert 1891 die swaartepunt van die gemeente Glen Lynden geword toe die predikant daar gaan woon, het. Vandag dra die gemeente wel die naam Glen Lynden, maar die plek self is net ’n buitewyk.

Ds. M.L. de Villiers se dienstyd

Prop. M.L. de Villiers het in 1912 ’n beroep na die gemeente aangeneem nadat dit nie lank vakant was ná die vertrek van ds. D. Du Plessis Steyn nie. Vandat die vakature in Junie 1912 begin het, het die kerkraad ook ds. (later prof.) George Murray Pellissier van die NG gemeente Pietermaritzburg beroep. Prop. De Villiers was die tweede beroep. In die tyd dat hy op Bedford was, het hy twee beroepe gehad wat hy bedank het. Dit was die tyd van die Eerste Wêreldoorlog van 1914 tot 1918 en die gevreesde Spaanse Griep teen die end van 1918. Die wonderlike en geseënde Helpmekaar-beweging val saam met dié gebeurtenisse. Die dienende en oud-kerkraadslede in die gemeente het in Oktober 1917 £100 tot die Helpmekaar bygedra. Die NG Gemeente Grahamstad, wat eers in 1916 van die NG Gemeente Albanie afgestig, het aanhoudend ondersteuning vir die hulpprediker daar gekry, want die NG lidmate in die Engelse stad het skaars honderd getel.

Ds. De Villiers het met buitengewone moeite die arbeid onder die jong mense bevorder. As bewys hiervan moet dien die oprigting van ’n debatsvereniging vir hulle een maal per maand en ’n klein Sondagskool-leeskamer. ’n Ring-Sondagskoolkonferensie is op ’n keer gehou en met een Kersfees was daar vir die kinders ’n Kersboom. Op die pastorieterrein is ’n tennisbaan vir die vermaak van die jong mense aangelê. In dié tyd is die Dingaansfees op Vleiplaas gevier. ’n Tweede sou saam met die NG Gemeente Somerset-Oos gevier word, maar weens die Griep kon dit nie plaasvind nie.

Op Bedford was ds. De Villiers se pastorie die middelpunt van ’n ongekende musieklewe. Hy het dankofferkonserte gereël, kamermusiekaande in die pastorie aangebied, orreluitvoerings in die kerk gelewer en selfs ’n salonorkes met vyf viole, tjello, klarinet en klavier op die been gebring. Hier, net soos later op Simonstad, het hy hom verder musikaal-skeppend besig gehou. Op Bedford skryf hy baie liedere, dikwels met ’n patriotiese inslag, onder meer Ik ken ’n liefste Volksman, Helpmekaarslied en Slagtersnek, oor die Slagtersnek-rebellie wat in die Oos-Kaap plaasgevind het en in ’n groot mate aanleiding tot die Groot Trek gegee het.

Ds. George Hofmeyr se dienstyd

Ds. Georg Hofmeyr, die leraar van 1920 tot 1925, was ’n harde werker en liefdadigheid was ’n kenmerk van sy bediening op Bedford. Met sy koms na sy nuwe gemeente was dit geweldig droog en het hy die boere in hulle nood getrou bygestaan. Daar is besluit om ’n jaarlikse donasie aan die plaaslike hospitaal in die vorm van ’n kollekte te skenk. Dit was veral op die gebied van die onderwys dat hy die kerkraad aangespoor het om meer as hulle deel by te dra sodat behoeftige leerlinge skoolgeld, boeke en klere kon ontvang.

Ds. Hofmeyr was ’n sterk voorstander daarvan dat die kerkraad die plaaslike koshuis oorneem. Op ’n spesiale kerkraadsvergadering waarop ds. J.H. van Wyk van Adelaide ook teenwoordig was, is gevra dat die kerkraad die koshuis van die skoolraad oorneem. Ná ’n lang bespreking besluit die kerkraad om tot hierdie stap oor te gaan as hulle van die huurgeld vrygestel word. Nadat ’n kompromis aangegaan is, word die versoek aanvaar en ’n koshuiskommissie gekies wat bestaan het uit ds. Hofmeyr (voorsitter), oudl. P. Maré, namens die kerkraad, mevv. F. Hofmeyr, L. Vosloo en mnr. G.R. van Niekerk. Mnr. en mev. H.S. Farrel is as koshuisouers aangestel onder wie se leiding die koshuis nuwe hoogtes bereik het.

Ds. en mev. Hofmeyr het geen moeite ontsien om vir die behoeftige leerlinge ’n ware tuiste te help skep nie. Daar is ook besluit om ’n kerksaal vir gemeentelike gebruik in Cradockstraat te bou en ’n klavier en 150 stoele word aangekoop. Dit word die Saamtreksaal genoem en is op 13 Mei 1922 ingewy. Die kerkraad besluit om drie jaar lank die gemeente Alice geldelik te help, terwyl £10 vir die kerkgebou van die NG Gemeente Namakwaland op Springbok gestuur sou word.

’n Voorstel is ingedien waarop die leraar versoek is om in Afrikaans te preek, en hy ontvang volmag van die kerkraad om dit te doen. Gedurende die tyd spreek die kerkraad hom uit ten gunste van die vereniging van die afsonderlike NG Kerke in een sinodale verband. Die kerkraad besluit eenparig dat die Gewetensklousule vir Hoër Onderwys behoue moet bly.

Begin 1924 word besluit om die salaris van die leraar tot £400 te verhoog plus reiskoste van £75 per jaar. Die kerkraad het by wyse van bonusse sy dankbaarheid betoon vir die goeie dienste wat die leraar gelewer het. ’n Nuwe Ford-motor word teen £164 vir sy gebruik aangekoop, maar £30 word gedurende die eerste jaar aan herstelwerk bestee. Daar is besluit om die kerkgebou, saal en pastorie op Bedford te elektrifiseer, terwyl ds. Hofmeyr die kerkraad verteenwoordig op die landswye Sondagskoolkonferensie wat op Bloemfontein gehou is. Nadat die leraar vir ’n beroep na Robertson bedank het, bied die kerkraad hom ’n bonus van £25 aan en bedank die pastoriepaar vir die goeie werk wat hulle in belang van die Here in die gemeente doen.

Die kerkplaas, Glen Lynden, het gedurig aandag geverg, terwyl die leraar op ’n taktvolle manier die probleme help oplos het. Die kerkraad is vir die doel in verskillende kommissies verdeel, naamlik ’n huur-, ’n turksvy- en ’n waterkommissie. Die turksvyplaag het soms so ’n bedreiging geword dat die hele kerkraad moes inspring om probleme te voorkom. Ds. Hofmeyr ontvang op 25 Julie sy demissie, nadat hy ’n beroep na Greytown in Natal aangeneem het.

Die kerk op Glen Lynden. (FOTO: Gert du Plessis)

Nuwe kerkgebou

Bedford het in 1957 ’n nuwe kerk in die sogenaamde tentstyl gekry, een van die vroeë voorbeelde van dié boustyl wat soos ’n veldbrand deur die land versprei het en waarvan voorbeelde in die onmiddellike omgewing die kerkgeboue van die NG Gemeente Stutterheim en NG Gemeente King William’s Town is. Die argiteksfirma was dié van Johannes Anthonie Smith en Douw Gerbrand Steenkamp, wat die ontwerp-argitek was. Ds. J.D. Thom het die hoeksteen op 9 Augustus 1957 gelê en die bouaannemers was Swart & Kemp (Edms.) Bpk.

Latere ontwikkelings

Ds. Hennie Geyer het op 15 Januarie 1960 leraar van Glen Lynden geword. Dit was reeds die 35-jarige predikant se derde gemeente. Hy het gereeld huisbesoek gedoen in die klein (wat getalle betref) gemeente. In sy dienstyd moes ingrypende besluite oor die geskiedkundige kerksentrum in die Baviaansriviervallei geneem word en is dit aan die destyds NG Kerk in Afrika oorgedra om as sendingkerk te dien. Hy bly hier tot aan die begin van 1966 tot hy na die NG Gemeente Aliwal-Noord vertrek. Ds. Geyer, wat in die distrik Jamestown gebore is en in die distrik Sterkstroom grootgeword het, is op 4 Mei 2011 in die ouderdom van 87 jaar oorlede.

In 2012 berig die Ring van Albanie in sy herderlike brief aan gemeentes: “Die gemeentes Glen Lynden, Adelaide en Fort-Beaufort het onlangs besluit om nouer saam te werk en gaan voortaan as die Smaldeel NG Kerke hulle kragte saamspan in projekte wat hul andersins nooit alleen sou kon aanpak nie. Dit sluit jeugwerk, kinderdienste, huweliks- en gesinskampe, retraites en ander projekte in.” (Geskryf deur Morne van Rooyen)

Predikante

  • John Pears, 1829 – 1830
  • Alexander Welsh, 1833 – 1856
  • Georg Wilhelm Stegmann, 1859 – 1890
  • Daniel Jozua Pienaar, 1891 – 1896, 1898 – 1900
  • Daniël Du Plessis Steyn, 1900 – 1906, 1908 – 1912
  • Marthinus Lourens de Villiers, 1912 – 1918
  • Georg Wilhelm Stegmann Hofmeyr, 1920 – 1925
  • Sydney Francis Feneysey, 1925 – 1933
  • Ockert Almero Cloete, 1934 – 1941
  • Johannes George Fourie van Rooyen, 1941 – 1946
  • Gerhardus Igantius Moolman, 1947 – (?1952)
  • Jacob Daniël Thom, 1953 – 1959
  • Hendrik Belsazar Geyer, 1960 – 1966
  • Luther Delport, 1966 – 1971
  • Willem Johannes Jacobus Oosthuizen, 1971 – ?
  • Mornay du Plessis le Roux, 1978 – 1982
  • Jerry Fourie, 1983 – 1989
  • Alwyn Jacobus Burger, 1989 – 2003
  • Lindsay Rudolf Swanepoel, 2004 – 2009
  • Stefanus Thomas Malan, 2012 – 2016