NG Gemeente George

Die kerkgebou van die NG Moedergemeente George. Bokant die ingang staan: “Ingewy 1842, herbou 1906,” (nadat die toring die vorige jaar ineengestort het).

GESTIG

1813

Ring

George

Adres

H.v. Kerk- en Courtenaystraat, George

Sluit in

George (deels)

Eerste predikant

T.J. Herold (1813–1823)


Die NG Gemeente George is in 1813 gestig as die negende gemeente van die Nederduitse Gereformeerde Kerk en die agste gemeente in die teenswoordige Sinode van Wes-Kaapland.

Agtergrond

Die eerste verkenners is reeds in 1667, 15 jaar ná die stigting van die verversingspos aan die Kaap, na Outeniqualand gestuur om vee van die Khoi te ruil. Die ruilhandel, waardevolle houtsoorte, weiding en die hoofweg hierlangs na die Ooste het kort voor lank nedersetters gelok en laat genl. Janssens, goewerneur van die Kaap tydens die Bataafse bewind (1803–1806) en die man na wie Jansenville in 1855 genoem is, aan die hand doen dat in Outeniqualand ’n “Europische Colonie” gestig moes word.

Op 23 April 1811 vaardig die indertydse goewerneur, graaf Caledon, ’n proklamasie uit ter stigting van ’n nuwe drosdy, naamlik George’s Drostdy, wat dan ook op dieselfde dag van Swellendam afgestig word. ’n Dorp word aangelê en deur die eerste landdros, A.G. van Kervel, uitgelê. George is so genoem ter ere van koning George III van die Verenigde Koninkryk, wat destyds die heersende monarg was. “George Town”, soos dit in die beginjare bekendgestaan het, was die eerste plek wat aan die Kaap gestig is ná die Britse bewindsoorname en is al beskryf as die mees Engelse nedersetting in die hele Suid-Afrika vanweë die lowerryke ligging en die koel, nat klimaat.

Gemeentestigting

Ná 1798 was die omgewing van die latere George deel van die nuwe gemeente Swellendam en ná die stigting van die drosdy, het dit aanvanklik so gebly. Van Kervel het die onderwys en godsdiens in ‘n treurige toestand aangetref en op sy aanbeveling gee sir John Cradock, Caledon se opvolger as goewerneur, toestemming tot die oprigting van ‘n kerk en belowe geldelike steun.

Ds. Tobias Johannes Herold is deur die goewerneur aangestel, soos destyds die geval was, as George se eerste predikant. Met sy aankoms hier tref hy nóg ‘n pastorie nóg ‘n kerkgebou nóg ‘n kerkraad aan. Sy eerste taak was om ‘n kerkraad aangestel te kry, wat destyds van owerheidsweë moes geskied. Ds. Herold neem sy intrek in April 1813 in die woning van C.F. Pohl op Sandkraal, wat as pastorie sowel as kerk moes dien. Dit duur lank tot ‘n behoorlike kerkgebou opgerig kon word. In die jaar 1815 dra die goewerneur die pynlike taak aan ds. Herold op om die terdoodveroordeeldes van die Slagtersnek-rebellie op die dood voor te berei en hulle in hul laaste lewensoomblikke by te staan. Die amptelike verslag wat hy oor die verrigtinge gedoen het, bestaan vandag nog in druk.

Eerste kerk

Sandkraal was egter nie sentraal geleë nie en Van Kervel stem toe dat die “oude Posthuis” as kerk gebruik kon word. Dit was hiervoor egter ondienlik en toe word daar oorgegaan tot die bou van die nuwe, sogenaamde Cradock-kerk. Hierdie kerk is deur reën sodanig beskadig dat die Langgebou opgerig moes word wat later as buitegeboue sou dien en tans vir konferensies gebruik word.

Tweede leraar

Ds. J.S.S. Ballot volg ds. Herold op nadat die gemeente vier jaar vakant was, en onder sy leiding is die huidige kerkgebou opgerig. Hy lê die hoeksteen op 14 April 1832. Die heer C.P. Visser is saam met drie gehuurde slawemesselaars van die Kaap af per ossewa gehaal om as bouopsigter op te tree. Die fondament moes ses voet diep en vyf voet wyd gegrawe word sodat dit ‘n muur van drie voet dik “met deszelfs zwaare lasten” sou kon dra. Weens ‘n gebrek aan fondse was die bouwerk ‘n geloofsdaad, maar ná 12 jaar kon die kerk eindelik ingewy word op 9 Oktober 1842, wat dit een van die oudste NG kerke maak wat vandag nog as sodanig gebruik word.

Die boumateriaal het uit 1 800 wavragte fondament-, stoep – en platklip en 1 896 756 bakstene bestaan. Bakstene wat deur die gemeente self in sy eie steenoonde gebrand is, is nie bygereken nie. Die ontsaglike hoeveelheid geelhout (die hele plafon, die pilare onder die galerye en die panele van die galerye bestaan daaruit) en stinkhout wat gebruik is, is uit die plaaslike woude afkomstig en groot hoeveelhede het ook van Knysna en Plettenbergbaai gekom.

Die deur van die hoofingang is van kiaathout en is per ossewa van Kaapstad na George vervoer. Die preekstoel, wat deur ene Heyns ontwerp en binne ‘n jaar deur hom voltooi is, is uit plaaslike stinkhout vervaardig en het destyds R400 gekos. Riet vir die oorspronklike rietdak en kalk vir die pleisterwerk was uit die distrik Riversdal afkomstig.

Kerk herbou

In 1905 ervaar die gemeente ‘n terugslag toe die toring ineenstort, toevallig drie jaar voordat die NG kerk op Uniondale, ‘n dogtergemeente van George, se toring in 1908 platgetrek en herbou is omdat dit ‘n gevaarlike bars vertoon het. George se NG kerktoring is net die jaar daarna herbou volgens die plan van die argitek Folkert Wilko Hesse. Reeds op 13 September 1879 is die orrel ingewy en in 1919 is die gebou van elektriese ligte voorsien.

Ná 35 jaar diens tree ds. Ballot af en word agtereenvolgens deur di. C.F.J. Muller, Z.J. de Beer, D.J.J. Rossouw, Beyers (wat baie vir die onderwys beteken het), J.A. Hurter, P.P. van der Merwe, G.J. Lötter, J.S. Klopper, D.F. du Toit, J.G. Lochner, H.F. Heymann en C.W.I. Pistorius opgevolg. (Geskryf deur Morne van Rooyen)

Dogtergemeentes

Predikante