GESTIG
1851
Ring
Beaufort
Adres
Kerkplein, Fraserburg
Sluit in
Fraserburg en distrik
Eerste predikant
C.A. Bamberger (1854–1882)
Die NG Gemeente Fraserburg is ’n gemeente van die Nederduitse Gereformeerde Kerk in die Sinode van Wes-Kaapland, hoewel die dorp Fraserburg binne die provinsie Noord-Kaap val. In die ou Kaapse Kerk, voor die verdeling van dié Sinode in drie, was Fraserburg met sy stigting op 24 Februarie 1851 die 41ste gemeente. Dit is dus ’n jaar of wat jonger as Humansdorp, Namakwaland en Ladismith (al drie 1850), maar ouer as Knysna (ook 1851), Hopefield, Middelburg (Kaap), Aliwal-Noord en Robertson (almal 1852).
Agtergrond
Kerklik het die latere Fraserburg deel uitgemaak van die gemeente van Beaufort-Wes, wat omstreeks 1830 maar ’n baie klein plekkie was. Dit het slegs ’n paar inwoners en geen kerk gehad nie. Oorspronklik was dit bedoel as ’n voorpos om drosterslawe en ontvlugte misdadigers te keer en te verhoed dat hulle die kolonie se grens oorsteek en vrykom. Die eerste predikant daar was ds. John Taylor, en onder sy wydverspreide kudde het ook die Nuweveldse pioniers getel. Die taak van hierdie predikant was byna bo-menslik. Op die dorp moes hy kerk hou in ’n tent van waseile. Sy gemeente was uiters mobiel en in omvang het dit die grootste gedeelte van die oppervlakte tussen Tulbagh en Graaff-Reinet beslaan.
In Desember 1824 is ds. Colin Fraser aangestel om hom op te volg as herder van die uitgetrekte gemeente. Hy het jare lank ’n groot rol in sy nuwe werkkring gespeel en in sy tyd, en gedeeltelik danksy sy bemoeiinge, is die gemeente, wat ook sy naam dra, teen 1851 gestig.
Gemeentestigting
As gevolg van die gunstige verloop van voorlopige reëlings kom daar op 24 Februarie 1851 42 lede van die NG Kerk te Ayesfontein byeen “met goedkeuring en toestemming van die Kerkraad te Beaufort … ter verkiesing van ’n geskikte kerkplaas te Wes-Nuweveld.” Die voorsitterstoel is ingeneem deur die leraar van Beaufort wat tot die verrigtinge van die geleentheid oorgegaan het met die stel van die volgende vrae: 1. Sal daar ’n nuwe gemeente te Wes-Nuweveld gestig word of nie? “Op dezen vraag was het eenparig antwoord van Ja.” 2. Watter is die geskikste plaas as ’n middelpunt ten einde aldaar ’n kerk te bou? “Op dezen vraag werden twee plaatsen voorgedragen Rietfontein en Kichererskerk.” Die uitslag van die stemming was 34 teen een ten gunste van Rietfontein. Diegene wat buite stemming gebly het, het as rede daarvoor aangevoer dat hulle die plek Kichererskerk nie geken het nie. Hierna is die eienaar van Rietfontein genader ten einde te verneem of hy bereid sou wees om sy plaas te verkoop. Hiervoor was die heer Visser te vinde. Hy sou verkoop teen die som van 25 000 riksdalers (sowat £1 870), op voorwaarde dat sy woonhuis en perdemeul sy eiendom bly.
Die kopers kon die koopsom skuldig bly vir vyf jaar teen betaling van ses persent rente. Tot 31 Oktober 1852 bly die plaas in sy besit, tot welke datum geen rente aan hom betaal word nie. Die delging van die kapitaal hoef nie noodwendig te geskied as die vyf jaar om is nie; dit kon ook voor die datum geskied. Die koopbrief is opgetrek namens die kopers en onderteken deur ’n kommissie bestaande uit: J.S. Cilliers, Aysfontein; C.J. Meyburgh, Blydevooruitzicht; H.R. Sieberhagen, Klipkraal; D.J. van Schalkwyk, Wagenmakersvallei; W.T. van Schalkwyk, Moutonsfontein; J. Olivier, Ezelsfontein ; W. F. Sieberhagen, Van Rhynsplaats; W. F. Kruger, De Dam; C.J.G. Kruger, Grootfontein; en C.G. Immelman, Quaggasfontein. Die notule van hierdie vergadering sluit af met die woorde dat die kommissie van tyd tot tyd sitting sou hou te Aysfontein “beide om eenige bepalingen voor hare werkzaamheden te maken, en alles ter behartiging van de zaak des Heeren in die Nieuwe Gemeente van West Nieuweveld.”
Om aan Albertus Abraham Visser sy 25 000 riksdalers te betaal, was nie so maklik gedaan as gesê nie. Maar die kommissie het sonder verwyl aan die werk gespring en dikwels vergader om belangrike besluite te oorweeg. Vir die insameling van geld word dit dan ook gereël dat daar kollektelyste sou rondgaan en dat erwe opgemeet en verkoop moes word. Hierdie besluite is op 10 Maart 1851 geneem te Ayesfontein op ’n goed bygewoonde vergadering onder voorsitterskap van G.J. Meyburgh. Daar is onder meer ook besluit om ’n memorie aan die goewerneur te rig om kwytskelding van herereg op die plaas Rietfontein. Op 10 Mei 1851 is die tenders van die landmeters Auret en Thwaits behandel, en die opmeting van erwe toegewys aan eersgenoemde wat ook die goedkoopste getender het. Op 12 Mei 1851 is met die opmeting ’n aanvang gemaak en die hele kommissie was verplig om teenwoordig te wees. H.R. Sieberhagen word, selfs al het hy mooi om verlof om afwesig te wees gevra, verplig om die opmeting by te woon. Hierdie erwe is te koop aangebied en op 15 September 1851 is die eerstes van die hand gesit. Die meeste was geleë langs die hoofstraat.
So het die plaas Rietfontein stadigaan die gedaante van ’n dorpie aangeneem. Daar is gevoel dat die dorp ’n nuwe naam moes kry. En uit dankbaarheid jeens die onbaatsugtige dienste van ds. Fraser en ouderling Gerrit Jacobus Meyburgh is die owerheid versoek om die naam Fraserburg, wat aan beide herinner, aan die gemeente en dorp goed te keur. Die volgende Goewermentskennigsgewing, geteken op gesag van die Goewerneur op 5 November 1850 (hierdie datum is foutief maar die korrekte is nie bekend nie), spreek vir homself: Daar die komitee van die nuwe gemeente van die NG Kerk van Wes-Nuweveld, in die afdeling van Beaufort, versoek het dat die naam Fraserburg gegee word aan die gemeente, en daar sy Eksellensie, die Goewerneur sy toestemming daartoe verleen het, sal dit dienooreenkomstig hierna die naam Fraserburg dra. ’n Ander Goewermentskennisgewing gedateer Koloniale Kantoor, 12 Desember 1853, verklaar dat dit sy Eksellensie behaag het, op aanbeveling van die Ring van Graaff-Reinet van die NG Kerk, om die grenslyne van die gemeente Fraserburg goed te keur. Hiermee was die stigtingswerksaamhede van die kommissie feitlik afgehandel.
Eerste kerkraadsvergaderings
Die Kerkraad sou van toe af toon aangee en lank die belangrikste orgaan in die geskiedenis van die gemeente, sowel as van die dorp en omgewing, wees. Hierdie liggaam se werksaamhede het begin op 26 November 1851 met die hou van ’n gekombineerde vergadering te Klipkraal “ter verkiezing van eenen Leeraar voor Fraserburgh”. Ná etlike vergeefse beroepe is eers op ’n vergadering gehou 7 Junie 1854 die beroep uitgebring wat bestem was om te slaag, op ds. C.A. Bamberger.
Ds. Bamberger, Fraserburg se eerste predikant
Ds. Carl Arnoldus Bamberger se dienstermyn is van die belang vir Fraserburg omdat hy byna 28 jaar lank aan die hoof van die gemeente gestaan het en tot groot hoogte die fondamentlêer was van kerklike, maatskaplike en opvoedkundige instellings, en bestendig het dit wat later as tradisie erken en bestempel is.
Die dominee was, wat persoon betref, ’n groot, breë en frisgeboude man. Hy het deurgegaan vir ’n man met buitengewone opleiding, of soos mense destyds gesê het: “Hy was ’n man van groot geleerdheid.” Wat geaardheid betref, was hy nie iemand wat toenadering aangemoedig het nie — miskien onbewus — al sou hy dan nie, soos te kenne gegee word, van hovaardigheid verwyt kon word nie. Een ou lidmaat, wat nog gelewe het met die eeufeesvieringe, het hom beskryf hom as “‘n man wat ’n baie heerskappyvoerende houding ingeneem het”. Van hom as prediker kan met sekerheid gesê word dat hy moeilik tot die diepste behoeftes van sy kudde deurgedring het. Hy kon hulle hart moeilik raak. Daarom het hy en sy kerkraad dikwels in godsdiensstate gekla oor gebrek aan vrug op die prediking van die evangelie. Deurdat hy baie geleerd was, was dit miskien vir hom moeilik om tot die eenvoudige geloofsbegrippe van die pioniersgeslag deur te dring. Aan sy opregtheid en roepingsgevoel was daar egter nie die minste te twyfel nie.
Ds. Bamberger is op 8 Oktober 1854 “in syn gewigtig ambt als Leeraar van Fraserburgh voorgesteld en ingehuldigd”. Dieselfde dag nog neem hy die boeke en papiere in ontvangs ooreenkomstig artikel 202. Die konsulent, ds. Fraser, het aangemerk dat, aangesien dit ’n nuwe gemeente is, daar geen behoorlike doop-, lidmaat- of huweliksregisters was nie. Die nuwe predikant het dadelik met sy werksaamhede van meer permanente aard begin.
Daar was in die eerste instansie geen behoorlike woning vir die leraar nie. Op ’n vergadering gehou op 6 November 1854 is die saak deur die kerkraad bespreek en het hulle besluit om van ouderling G.J. Meyburgh ’n huis te huur as verblyfplek vir die pastoriegesin tot ’n behoorlike pastorie gebou kon word. Dit sou die kerkraad 120 riksdalers per jaar kos. Ses maande hierna was die kerkraad besig om ’n geskikte stuk grond aan te wys ten einde ’n pastorie daarop te bou. Ná lang en deeglike oorweging “besloot men twee natte erven annex de tegenwoordige Kerkgebou No. 21 en 23 met de droge erf No. 22 daartoe te bepalen” vir pastorietuin en pastoriegebou onderskeidelik. Die raad het ook besluit om die tuinerwe te ommuur. Binne nog drie maande is daar reeds ’n behoorlike kontrak met die bouaannemer Henry John Burnett opgetrek. Hy sou die gebou teen die bedrag van £1 100 voltooi. Daar is ook gespesifiseer dat hy honderd geelhoutplanke vir die gebou moes gebruik. Die Kerkraad moes die kontrakteur £300 gee met sy aankoms hier en met die aanvang van die werk. In Desember het hy weer £200 tot voortsetting van die bou van die pastorie ontvang.
Tweede kerk
In 1861 was die skuld op die kerkgebou van die gemeente nog nie alles vereffen nie. Met die eerste Nagmaalsviering in genoemde jaar, so besluit die kerkraad, sou aan die gemeente bekendgemaak word hoeveel skuld daar nog was en die Raad “sou dan er op aandringe voor de afbetaling”. Nieteenstaande hierdie toedrag van sake was die predikant en kerkraad nie tevrede met die gebou nie omdat dit geensins vir die behoeftes van die gemeente toereikend was nie. Buitendien is die kerkie gebou as ’n tydelike noodhulp, die raad het dit self bestempel en beskou as “provisioneel”. Daarom is daar nou reeds sprake van ’n nuwe kerk.
In die ringsverslag van 1860 verklaar die Kerkraad dat die kerkgebou, veral by geleentheid van die avondmaal, die gemeente nie kan bevat nie “en er behoefte aan een ruimen Kerkgebouw gevoeld wordt.” Die Raad het dan onder aanvoerderskap van die leraar van nou af nie gras onder hulle voete laat groei nie. Daar is tenders uitgeskryf vir die bou van ’n nuwe kerk. Reeds op 2 Julie 1865 behandel die kerkraad die tenders. Daar was die tenders van A. Cormack, Lamb en Broers, Hand en Fischer en die van Burnett voor die raad. Aangesien hulle almal na die smaak van die raad te hoog was, besluit die raad om opnuut tenders te vra. Hierdie keer het hulle besluit om af te sien van die oorspronklik beoogde plankvloer. Dit kom neer op aansienlike besparing. Van verskeie planne het die raad ook finaal die sogenaamde “toornplan” gekies. Hierdie keer moes die tenders op 16 September in wees.
Maar weer was almal bo die gemeente se vuurmaakplek, te wete oor £6 000, waarop die raad besluit om die Hager raad te pleeg in verband met ’n plan vir ’n kerk met duisend sitplekke en sinkdak wat nie meer as £5 000 sou kos nie. Van Hager ontvang hulle twee sketse waaruit die raad een kon kies. Ná lang bespreking word besluit om Hager te vra wat ’n kerk volgens elk van die planne sou kos. Hierop antwoord hy op 12 Maart 1866, en die kerkraad se keuse val op Plan A. Die gemeente was ook al teen hierdie tyd baie geesdriftig vir die kerkbouery en die ringsverslag van 1866 getuig as volg hieromtrent: “Met innige blydschap mogen wij melden dat by onze laaste Avondsmaals-gelegenheid de Gemeente blyken heeft gegeven van een hartelyk verlangen naar een beter en ruimer Godsgebot. Niet minder dan £2 000 werd dadelyk door een klein gedeelte der Gemeente ingeschreven en de overstelpende bereidvaardigheid in het geven overtrof alle begrip, zy geven in het geloof want de schaarsheid van geld en de donkere vooruitzigten van haare tydelike omstandigheden bewyzen, dat zy niet op een vleeschlyk arm heeft gesteund. Moge de Heer het goed werk bevorderen met zyn besten zegen.”
Ná persoonlike onderhoude met verskeie tenderaars besluit die kerkraad op 26 November 1866 “om voorwaardelyk die tender van Findly, verteenwoordiger van Lamb-broers aan te nemen.” Die kerk sou gebou word op die “nuwe plek”. Dit moes front maak met Cilliersstraat. Die kommissie wat die kontrak met Findly moes optrek, was ds. Bamberger, C.F. Marais, O.G. van Schalkwyk, D.C. Cilliers, P. Gouws en M.J. le Roes. Die kerkraad beklee hulle met mag om in alle opsigte na goeddunke te handel. Hierdie kontrak was teen die einde van die jaar reeds voltooi. Op 26 Desember keur die kerkraad dit algemeen goed op voorstel van broers C.J. Meyburgh en P. Joosten. Op dieselfde datum word die boukommissielede vir die “Nieuw Kerk” gekies. Hulle was die leraar, 0.G. van Schalkwyk, C.F. Marais, M.J. le Roes, P. Poggenpoel en P. du Toit (A. seun).
Teen die middel van die volgende jaar het Findly al so ver gevorder dat hy die eerste paaiement kon ontvang, nadat die kerkraad hulself vergewis het dat die bouwerk dusver bevredigend gedaan is. Op 3 Augustus inspekteer die boukommissie die baksteenwerk en ontvang die bouaannemer sy tweede paaiement klokslag volgens die oorspronklike kontrak tussen die twee partye. Vroeg in 1868 is begin met die installasie van kerkmeubels. Die raad het onder meer “besluit dat banken voor de predikstoel van de Nieuwe Kerk worde gemaakt op die wysen zoo als te Stellenbosch”. Daar is ook ’n som van sowat £2 000 opgeneem by die ou heer A. du Toit. Die stelsel van banke uitgee is ook vooraf behoorlik bepaal. Dit het die grondslag gevorm van die stelsel wat met 31 Januarie 1951 doodgeloop het. Die nuwe kerkgebou is op 8 September 1868 “plegtig ingewy tot die diens van die God van Hemel en Aarde”. Met behulp van enige broers uit ander gemeentes (nie tot die Ring van Beaufort behorende nie), het die gemeente ’n heerlike fees gevier.
Tweede kerk gesloop
Vroeg in 1949 was daar ’n voorstel tot grootskaalse herstelwerk, terwyl daar in dieselfde jaar nog ’n kommissie vir hierdie doel gekies is. Ná raadpleging met argitekte, beraadslagings en oorwegings is die gevoel van die gemeente in 1951 gevra by wyse van ’n stembrief. Aangesien die oorgrote meerderheid van die gemeente gevoel het dat dit nodig is dat daar tot die aanbou van ’n nuwe kerk oorgegaan word, het die kerkraad sodanig besluit. Vanaf dié tyd het die boufonds vinnig vooruitgegaan, sodat voorbereidsels getref kon word vir die aanbou van ’n nuwe kerk. Onder blyke van groot belangstelling is die afskeidsdiens in die voormiddag van 14 Augustus 1955 gehou, by watter geleentheid die woord bedien is uit Ps. 84. Ná die aanddiens is ’n orrel- en kooruitvoering gegee. Op Maandagoggend 15 Augustus 1955 om negeuur is die laaste samekoms van die gemeente in die ou kerk gehou. Woorde is gespreek deur eerw. W.J. Conradie en ds. C.F. Marais, waarna ’n geskiedkundige oorsig oor die bestaan van die ou kerk aan die gemeente voorgehou is. Nadat Ps. 127 gelees is en enkele gebede deur gemeentelede gedoen is, is die gebou vir sloping oorhandig aan mnr. M.J. Claassen, verteenwoordiger en voorman van mnr. F.P. van Heerden, wat die werk onderneem het. Die orrel, waarvan die pype weer gebruik word, is vir sloping oorhandig aan mnr. W. Nossek, verteenwoordiger van die firma Suid-Afrikaanse Orrelbouers, wat dit herbou.
Pas nadat die gemeentelede die kerk verlaat het, is met die werk voortgegaan. By die afskeid aan die ou kerk het baie gedagtes in die hart vermenigvuldig, luidens ’n gedenkbrosjure wat met die inwyding van die nuwe kerk in September 1956 uitgegee is. “Daar was weemoed, veral onder die ouere lede van die gemeente, gedagtig daaraan dat dit die plek was waar hulle ten doop gebring is, waar hulle belydenis van geloof afgelê het, in die huwelik bevestig is, hul eie kinders sen doop gebring het, waar hulle male sonder tal die Woord gehoor het, saam tot die troon van genade die hart in gebed opgehef het, die versoeningsdood van ons Verlosser Jesus Christus herdenk het, en so as in die teenwoordigheid van God verkeer het. Ja, wie was nie met weemoed vervul om van so ’n plek afskeid te neem nie? Maar daar was ook dankbaarheid dat so ’n plek, waaraan soveel verbintenisse hang, vir 87 jaar aan die gemeente gegun was, ’n plek waarvan ons glo dat menige die lig in Christus daar aanskou het, ’n plek wat kan getuig van vrede wat met God gevind is, ’n huis van die Here wat luid gespreek het van die ewige Vaderhuis met sy baie woninge. Maar by dit alles was daar ook die hoop en vooruitsig op die nuwe gebou wat opgerig sou word. En hierdie hoop het ook verlenging gevind in die hoop op die ewige lewe wat vir die kinders van God aanstaande is. Weemoed, dankbaarheid en hoop — dit was die gedagtes van die hart by die besondere mylpaal.”
Ds. P.D. Rossouw
Nadat ds. Bamberger sy demissie aanvaar het, het die kerkraad sy eerste beroep op 25 September 1882 uitgebring op ds. Adriaan Moorrees van die NG gemeente Richmond. Hy het die beroep van die hand gewys, waarna die gemeente ds. P.D. Rossouw, van die NG gemeente Steynsburg, op 20 November daardie jaar met ’n volstrekte meerderheid beroep het. Op 5 Februarie 1883 is ds. Rossouw in die gemeente verwelkom en bevestig. D.A. Kotzé skryf: “As sy voorganger se funksie hier die van fondamentlêer was op tydelik gebied, dan was syne die van grondlêer van geestelike werk en geestelike waardes. ’n Opvolger van hom verklaar dat hy ‘gesond gesaai en diep geploeg’ het. Dit is ook asof die beloop van omstandighede hom hierin behulpsaam was. Daar was byna voortdurend droogte gedurende sy verblyf alhier. Hierdie tydelike beproewing het skuldbesef in die harte van onverskilliges gewerk, met die gevolg dat die gemeente aan geestelike verdieping verryk en vergoed is, vir wat sy aan tydelike waarde verloor het.”
Op 11 Oktober 1896 is ds. Rossouw, wat 14 jaar leraar van die gemeente Fraserburg was, oorlede. Op 26 Oktober 1896 het die kerkraad te boek gestel “hoe diep zy het groote verlies gevoeld, dat de Kerk in het algemeen en die gemeente in het byzonder, geleden heeft door zijn vroegtydigen dood. Dat de Kerkraad zyn getrouwe arbeid in de gemeente hoog waardeerd en Gode dankzeg voor hetgeen Hy in hem aan de Kerk en de gemeente geschonken heeft.” Ds. Rossouw is onder blyke van groot en innige deelname begrawe in die kerkgebouterrein. Die gemeente het vir hom in dankbare herinnering ’n grafmonument opgerig. Ook die dorpsraad het sy nagedagtenis geëer deur die naam Rossouwstraat, wat destyds deur die dorp se sakekern geloop het.
Ds. Sypkens se bediening
Ná ds. Rossouw se heengaan, het die gemeente gelukkig getref dat reeds die tweede beroep geslaag het en wel op 11 Januarie 1897 op dr. Former Sypkens, by uitnemendheid ’n kenner van tale, onder meer ook Frans, Latyn en Engels, asook ’n verdienstelike prediker. Sy dienstermyn was vir die gemeente ’n veelbewoë tydperk van beroering en beproewing weens die Tweede Vryheidsoorlog en genadelose droogtes.
Hy is op 13 Januarie 1860 in Delfzyl, Nederland, gebore en is dus twee dae voor sy 37ste verjaardag na Fraserburg beroep. Hy het sy opleiding eers aan die Gimnasium in Groningen ontvang en daarna aan die Universiteit van Utrecht. Sy doktorale eksamen het hy in April 1886 afgelê. In Mei daardie jaar het hy in Suid-Afrika aangekom en toelogiese klasse aan die Kweekskool bygewoon. Hy was toe reeds twee jaar kandidaat in die teologie. Toe hy dus by die Sinode wat in 1886 vergader het, aansoek doen om die proponentseksamen einde 1887 af te lê, is dit hom met dispensasie van sekere wetsartikels geredelik toegestaan. Sy eerste gemeente was Newcastle in die destydse Natal waar hy in Junie 1889 bevestig is. In hierdie jong gemeente, toe sowat sewe jaar gelede gestig, het hy met toewyding en getrouheid gewerk tot 1897 toe hy die beroep na Fraserburg aanneem.
Ds. Sypkens was ’n buitengewoon geleerde. Sy preektaal was onvervalste Nederlands. Hy was ’n talentvolle prediker en sy liefde vir Christus het altyd in sy prediking duidelik geblyk, soos ook sy liefde vir die waarheid, skryf D.A. Kotzé in Fraserburg se eeufees-gedenkboek. Een van sy redes word onder andere nog onthou. Hierin het hy verklaar dat as jy iemand vra of hy van die waarheid hou, so iemand sou sê: “Ja, ek het die waarheid lief,” maar as jy dieselfde persoon die waarheid, soos van toepassing op hom, sou vertel, hy baie kwaad sou word – byna sonder uitsondering. Ds. Sypkens was liggaamlik nie sterk nie. Die uitgestrekte gemeente het sy kragte verder verswak. In 1906 moes hy sy emeritaat aanvra. Hy is toe terug na Europa. Hy is in die hoë ouderdom van 89 jaar en nege maande op 23 Maart 1949 in Engeland oorlede.
Ds. M.S. Daneel
Die eerste twee beroepe ná die vertrek van ds. Sypkens was onsuksesvol. Die eerste een is uitgebring op ds. M.S. Daneel van Calvinia en die tweede op ds. H.J.L. du Toit van Richmond. Op 14 Mei 1906 is ds. Marthinus Smuts Daneel vir die tweede maal beroep. Reeds drie weke later het hy die beroep aanvaar, mits hy op Fraserburg einde September of begin Oktober bevestig kon word. Die kerkraad het hierin toegestem. Op waardige wyse is ds. Daneel toe op 29 September verwelkom. Wat veral ’n blywende indruk gemaak het, volgens D.A. Kotzé in die eeufees-gedenkboek, was die voortreflike koorsang onder leiding van die orrelis mnr. Strobos bygestaan deur mej. Dyason. Etlike adresse is hom en sy gade ook aangebied. Sewe jaar en vier maande het ds. Daneel op Fraserburg gearbei. Volgens Kotzé kan van ds. Daneel gesê word “dat hy hom hart en siel beywer het vir die geestelike en tydelike belange, nie alleen van die gemeente nie, maar ook van dorp en distrik in die algemeen. Hy was ’n wakker leier op wie se beslissing die gemeente in tye van twyfel kon reken. Ds. Daneel was ’n man uit ’n stuk, ’n man wat wis wat hy wou. Tydens sy dienstermyn was daar deurgaans prysenswaardige samewerking wat gemeentelike aangeleenthede betref. In tye wanneer belangrike besluite geneem moes word, het die gemeente bankvas agter die predikant gestaan. Wat kerklike werk betref, getuig die Ringsverslae van vrug op die arbeid. Die bywoning van die gewone oggend- en aanddienste was goed. Die gemiddelde getal toehoorders was om en by 200 per geleentheid. Die Junie-nagmaal van 1907 (is) baie uitstekend bygewoon, en daar was nie meer sprake van dat ’n lidmaat dorp toe kom en nie nagmaal gebruik nie. Verreweg die grootste gedeelte van die lidmate het deelgeneem.”
Ds. Lou Hofmeyr
Ds. Daneel se opvolger, ds. J.W.L. (Lou) Hofmeyr (1914 – ’17), het uit die sendingveld gekom en aan die sending moes die gemeente hom weer offer toe hy organiserende sendingsekretaris van die Kaapse Kerk geword.
Ná ds. Daneel se vertrek moes weer ’n leraar beroep word. Op die groslys verskyn daar hierdie keer interessante name, name van figure wat bestem was om later ’n groot rol in die land, en selfs in die wêreldgeskiedenis te speel in minstens een van die gevalle. Onder hierdie name was dié van dr. W.P. Steenkamp en dié van dr. D.F. Malan. Die finale keuse het egter op ds. H.P. van der Merwe (moderator van die Kaapse Kerk in 1924) geval. Hy het bedank. Ná nog vier mislukte beroepe is op 23 November 1914 ds. Johannes Wynand Louw Hofmeyr hierheen beroep. Die beroep het geslaag. Hy was die vierde van die vyf seuns van ds. Hofmeyr van die NG gemeente Somerset-Oos wat almal predikant geword het. Ds. Lou Hofmeyr is op 19 Julie 1878 gebore en oorlede op 28 Oktober 1936 in die ouderdom van 58 jaar. Hy is op 4 April 1906 op Worcester getroud met Anna Jemima (Minnie) Strassheim (presidente van die Vrouesendingbond van 1934 – ’41). Net een kind is uit dié huwelik gebore.
Tydens sy beroep na Fraserburg was hy in die sendingveld werksaam. Uit die aard van die saak het sendingwerk dus in sy tyd ook op Fraserburg die nodige aandag geniet. Daar was weer ’n verwoestende droogte wat drie jaar voortgeduur het, nogtans is die openbare eredienste goed bygewoon. Ook kon die Kerkraad verklaar dat daar “groot eensgesindheid heers in die gemeente”. Maar dit was die gemeente nie vergun om hierdie leraar lank hier te hê nie. Ná twee jaar en 10 maande se verblyf neem hy reeds afskeid op 15 Desember 1917. “Die Kerkraad dink met dank terug aan sy getroue arbeid.”
Predikant tot die eeufees
In 1918 het ds. J.G. Olivier, later Organiserende Sendingsekretaris van die Kaapse Kerk, leraar van Fraserburg geword. Tot sy vertrek in 1925 het hy diep spore op geestelike en opvoedkundige gebied afgedruk. Hy is opgevolg deur ds. H.C. Kruger, wat tussen 1925 en 1948 die gemeente bearbei het. Veral vir die verenigings lewe het hy hom beywer.
Die volgende leraar was ds. I.F. Retief. In April 1951 het die gemeente die heuglike eeufeesviering onder sy leiding meegemaak. In die loop van die eerste honderd jaar van die gemeente se bestaan is verskeie gemeentes van die moedergemeente afgestig. Die ledetal van laasgenoemde was met die eeufeesviering 1 038. Daar is destyds gevoel dat die kerkgebou vanweë ouderdom nie meer goed beantwoord aan die vereistes van die groot gemeente nie, vandaar dat ernstig aan die bou van ’n nuwe kerk gedink is. In die brosjure vir die inwyding van die nuwe kerk word die besluit om die ou kerk af te breek en ’n nuwe te bou kort en kragtig verduidelik: “Vroeg in 1949 was daar ’n voorstel tot grootskaalse reparasie, terwyl daar in dieselfde jaar nog ’n kommissie vir hierdie doel gekies is. Na raadpleging met argitekte, beraadslaginge en oorweginge is die gevoele van die gemeente in 1951 gevra by wyse van ’n stembrief. Aangesien die oorgrote meerderheid van die gemeente gevoel het dat dit nodig is dat daar tot die aanbou van ’n nuwe kerk oorgegaan word, het die Kerkraad sodanig besluit.”
Onlangse verlede
Van 1972 tot 1984 het die gemeente agtereenvolgens drie predikante gehad wat almal verder studeer en aan die Kweekskool as doktor gepromoveer het: drr. Kobus Victor, Adelbert Scholtz en Eduan Naude. Dr. Scholtz se pa, dr. G.D. Scholtz, was in die jare sestig redakteur van die Transvaalse oggendblad Die Transvaler. Dr. Scholtz jr. en dr. Victor was klasmaats aan die Kweekskool en het einde 1967 saam afstudeer. Ds. Paul Roos-Jonker het dr. Naude in 1984 opgevolg, maar ook sy dienstyd was kort, want in 1988 het uit die NG Kerk bedank en aangesluit by die Afrikaanse Protestantse Kerk. Sowat 40 lidmate het hom gevolg waarna die plaaslike AP gemeente in ’n stadium twee keer soveel lidmate gehad het, maar in die jongste jare het dit afgeneem tot sowat 30. Ds. Johan Basson het hom opgevolg en in die gemeente gebly tot hy sy emeritaat aanvaar het.
In 2001 het die gemeente sy 150-jarige bestaan met die publikasie van ’n sagteband-feesbundel gevier asook ’n feesdiens waartydens dr. Victor gepreek en dr. Naude die Nagmaal bedien het. Dr. Victor se preek was na aanleiding van dieselfde teks wat hy 27 jaar vantevore tydens sy afskeidspreek gebruik het.
Ds. Friedrich Kotzé
Ds. Fritz Kotzé het op Vrydag 27 Mei 2016 die 165 jaar oue gemeente se 18de leraar geword nadat ds. Wessel Oosthuizen sy emeritaat aanvaar het om te gaan boer. Kotzé was een van vier jong kandidate wat gevra is om ’n proefpreek op Fraserburg te kom lewer. Hy het twee ander beroepe bedank om die een hierheen aan te neem.
Sy verwelkoming in die gemeente het reeds op Dinsdagaand 24 Mei begin toe lidmate ’n ent die dorp uitgery het om hom op die Leeu-Gamka-pad te verwelkom. Hy is vergesel van sy verloofde, Chanté Benson (met wie hy intussen getroud is), haar ma, Lara Benson, dié se suster, Karen Redelinghuis, en Kotzé se ouers, Louwrens en Erika Kotzé.
Die Sondagoggend was daar ’n groot opkoms van lidmate wat ds. Kotzé se intreepreek kom hoor het. Hy het sy visie vir die gemeente aan die hand van Koos van der Merwe se gedig “So sal ek kom” met die kerkgangers gedeel en gesê: “Dit daag elke gelowige uit om anders oor God te dink en praat sodat ons radikaal anders oor Hom kan getuig. Dit wys ook opnuut ons weerloosheid sonder God.” Ná die erediens het lidmate op die skouterrein bymekaargekom vir ’n vleisbraai en gesellige verkeer saam met ds. Kotzé en sy familie. (Geskryf deur Morne van Rooyen)
Predikante
- Carl Arnoldus Bamberger, 1854 – 1882
- Pieter Daniël Rossouw, 1883 – 1896
- Former Sypkens, 1897 – 1906
- Marthinus Smuts Daneel, 1906 – 1914
- Johannes Wynand Louw Hofmeyr, 1914 – 1917
- Johannes Gerhardus Olivier, 1918 – 1925
- Carel Hendrik Kruger, 1925 – 1948
- Ignatius Ferreira Retief, 1949 – 1959
- Nicolaas Salomo Steenkamp, 1960 – 1966
- Archibald Rothman, 1967 – 1971
- Dr. Kobus Victor, 1972 – 1974
- Dr. Adelbert Scholtz, 1974 – 1981
- Dr. Eduan Naude, 1981 – 1984
- Paul Roos-Jonker, 1984 – 1988
- Johan Basson, 1989 – 2011
- Wessel Oosthuizen, 2011 – 2016
- Frederich Kotzé, 2016 – 2019
- Suléne du Toit, 2019 – hede