
Gestig
10 Februarie 1894
Ring
Ficksburg
Adres
H.v. Reitz- en Brandstraat, Fouriesburg
Sluit in
Fouriesburg en omgewing
Eerste predikant
Michiel Heyns (1894–1906)
Die NG Gemeente Fouriesburg is die 36ste gemeente wat in die destydse Vrystaatse Republiek tot stand gekom het. Weens die inlywing van Bethlehem by Bethlehem-Wes is dit nou die 35ste oudste gemeente in die Vrystaatse Sinode.
Fouriesburg is ’n pragtig geleë dorpie aan die grens van Lesotho. Dit is aangelê op ’n gedeelte van die plaas Groenfontein, wat destyds die eiendom was van ene “Roos” Stoffel Fourie. Wat die natuurskoon betref, aldus die medewerker van Ons gemeentelike feesalbum (1952), is dit “ongetwyfeld een van die mooiste plekkies in die Vrystaat. Geleë op ’n heuwel, word (die dorp) omring deur pragtige berge, veral die Maluti-gebergte”.
Tot en met die oorgawe van die dorpie gedurende die Tweede Vryheidsoorlog was dit die laaste setel van die Republikeinse regering. Die laaste appèlhof het ook hier sitting gehad, met genl. J.B.M. Hertzog, adv. F.R. Cronjé en adv. Hugo as regters en die latere hoofregter Jaap de Villiers as staatsprokureur. Met die oorgawe van genl. Prinsloo omtrent 22 km hiervandaan in die rigting van die dorpie Clarens is die regeringslede gevange geneem en Rachel Steyn, pres. M.T. Steyn se eggenote, wat indertyd hier gewoon het, na Bloemfontein vervoer.
Die gemeente is op 10 Februarie 1894 deur die Oostelike Ring gestig, met ds. H. van Broekhuizen, van Ficksburg, as konsulent. Ds. Michiel Heyns was die eerste leraar. Hy was ’n diep geestelike man en het ’n hegte fondament vir die gemeente gelê. Met groot seën het hy van Oktober 1894 tot op 21 Februarie 1906 hier gearbei, toe hy weens verswakte gesondheid sy demissie moes aanvaar. Op 5 Mei 1907 is hier oorlede en hier begrawe. Hy sou op 22 Augustus 41 jaar oud geword het.
Sy opvolger was ds. T.A.T. Louw, ’n man van ywer en werklus, wat die gemeente maar ’n korte tyd bedien het, van 28 Julie 1906 tot 24 Junie 1908, toe ook hy ná ’n ernstige siekte oorlede is. In sy dienstyd is met die vernuwing en vergroting van die kerkgebou begin, wat eers ná sy dood voltooi is. Hierdie kerkgebou is op 4 September 1909 ingewy tydens die bevestiging van die derde leraar van die gemeente, die innig vrome ds. M.J. de Kock. Ná ’n geseënde bediening van 16 jaar het ds. De Kock ’n beroep na Riebeek-Kasteel aanvaar en het hy op 16 Augustus 1925 van die gemeente afskeid geneem.
Die vierde leraar was ds. W.A. Roux, wat as jong predikant van Cradock af gekom het en op 22 Januarie 1926 bevestig is. In sy dienstyd is ’n groot nuwe kerksaal opgerig en ingewy, asook ’n kerkkoshuis. Later is die pastorie vergroot en die kerkgebou hernuwe; ook ’n nuwe moderne ligte-installasie is vir die kerkgebou aangebring. Vroeg in die vyftigerjare is ’n tweede kerkkoshuis opgerig.
In die naweek van 11 tot 13 Februarie 1944 het die gemeente sy vyftigjarige bestaan gevier en die voorreg gehad om sy enigste oorlewende oudleraar, ds. M. J. de Kock, en twee predikanteseuns van sy eerste leraar, di. Irene en Louis Heyns, teenwoordig te hê. Teen omstreeks 1951 het die gemeente bestaan uit 790 lidmate en 1 253 siele. (Geskryf deur Morne van Rooyen)
Predikante
- Michiel Heyns, 27 Okt. 1894 – 21 Feb. 1906 (emeritus; 5 Mei 1907 oorlede)
- Thomas Arnoldus Theron Louw, 28 Jul. 1906 Fouriesburg – 24 Jun. 1908 (oorlede)
- Michiel Johannes de Kock, 4 Sep. 1909 – 1925
- Wilhelm Alexander Roux, 22 Jan. 1926 – 29 Mei 1954 (emeritus; 27 Feb. 1955 oorlede)
- Johan Theobold Hattingh de Jager, 1954 – 1960
- Petrus Albertus Pretorius, 1977 – Jan. 1981