gestig
16 November 1895
8 Augustus 1936
Die NG Gemeente Fort Victoria was ‘n gemeente in die Sinode van Midde-Afrika.
Fort Victoria kan tereg beskou word as die oudste dorp in Rhodesië. Nadat Rhodes se ,,Pioneer Column” in Augustus 1890 die gevreesde laeveldgebied deurgetrek het en die Matabele-gevaar nie meer so dreigend was nie, het hulle vir die eerste keer werklik tot stilstand gekom en die fondamente gelê van die eerste blanke nedersetting in die nuwe land.
Die eerste fort van sooiwalle en slote was egter nie bestem om lank te bly bestaan nie, want reeds in 1892 besluit die offisier in bevel van die polisiepos, na goedkeuring van die B.S.A.-maatskappy, om te skuif na ‘n meer geskikte plek ongeveer vyf myl noord van die oorspronklike aanleg om sodoende ‘n meer toereikende watervoorraad te bekom. Hierdie tweede aanleg, in die kom van die samevloeiing van die Umshigashi- en Mucheke-riviere, is die huidige Fort Victoria. Omrede sy strategiese ligging het Fort Victoria ‘n belangrike aanloopplek geword van voornemende setlaars, handelaars, fortuinsoekers, e.d.m. Sommige het van hier af die pad na die noorde (Salisbury) gevat, ander na die ooste (Gasaland) en nog andere se trekpad het hier doodgeloop. Onder laasgenoemde groep was daar talle Afrikaners wat lidmate van die NG Kerk in Transvaal, die Oranje Vrystaat en die Kaap Kolonie was. Hulle het ‘n deel uitgemaak van die honderde Afrikaner families wat in daardie jare Cecil John Rhodes se aanbod van goedkoop plase aanvaar en die nuwe land met moed en hoe verwagtings binnegetrek het.
Die Stigting van ‘n Gemeente
Ongeveer 15 maande na ds. Nel se vertrek verklaar ds. P. A. Strasheim van Wynberg in Maart 1895 hom gewillig om na Masjonaland te gaan. Hy besoek Morgenster op 17 Junie en gaan daarvandaan in geselskap van eerw. Louw na Fort Victoria waar 54 persone op hom gewag het. Hy doen aansoek om ses erwe vir die N.G. Kerk by die plaaslike regeringsamptenare en belê ‘n vergadering van manslidmate in die huis van D. van Rooyen. Verskeie ander vergaderings volg, voorbereidende maatreëls word getref, maar daar is nie oorgegaan tot die stigting van ‘n gemeente nie. Nadat met eerw. Louw onderhandel is om die eerste Sondag van elke maand ‘n diens op Fort Victoria te kom hou, die sakramente te bedien, Sondagskool en katkisasieklasse te hou, vertrek hy na Fort Charter. Tydens hierdie besoek van hom is die eerste lidmate aangeneem. Hulle was A.M. Spies, L.P. Spies, H.C. van Rooyen en E. van Riet.
In November 1895 was ds. Strasheim terug op Fort Victoria waar hy weereens samesprekings met die manslidmate voer oor die stigting van gemeente. Hierdie keer is daar tot ‘n besluit geraak en word die gemeente Victoria op 16 November 1895 gestig. Die eerste kerkraad was saamgestel uit ouderlinge R.T. van Rooyen en H.J. Maritz en diakens P.S. van Niekerk, G.J. Euvrard, L.Spies en M.A. Schönveldt.
Die Jare van Terugslae en Onselfstandigheid
Die nuutgestigte gemeente was uit die staanspoor uit in die moeilikheid. Sonder ‘n vaste leraar en onderhewig aan ‘n gedurige wisseling van lidmate, verbrokkel die gemeente stelselmatig. In 1903 besoek ds. H.C. de Wet van Alexandria die gemeente en bevind dat daar ongeveer 90 persone van die N.G. Kerk in die distrik gewoon het, waarvan slegs 40, lidmate was. Sy sienswyse was dat daar onder dergelike toestande geen moontlikheid vir ‘n gereelde gemeente bestaan het nie.
In Maart 1905 besoek ds. Geldenhuys van Bulawayo en eerw. Liebenberg van Enkeldoorn weer die gemeente en stel aan die lidmate by geleentheid van ‘n gemeentevergadering te Welkornshoek die keuse om deel te word van of Bulawayo of Enkeldoorn gemeente. Die lidmate besluit op eersgenoemde en so verloor die gemeente sy selfstandigheid, en word as’t ware ‘n aanhangsel van Bulawayo. Hierdie toedrag van sake sou bly voortbestaan tot in 1917 toe die Ring van du Toitspan besluit het dat Victoria liefs by die gemeente van Enkeldoorn ingesluit moet word.
Die kerkraad van Enkeldoorn het ingestem dat aan die “Victoria wyk” die vergunning toegestaan word om oor twee-derdes van alle plaaslike inkomste te beskik. Vir die doel het die kerkraadslede van die Victoriawyk ‘n Finansiële Kommissie gevorm wie se besluite nogtans onderhewig was aan die goedkeuring van die Enkeldoorn-kerkraad. Daar is ook ‘n Kerkbou-kommissie in die lewe geroep met die doel om fondse in te sarnel vir die bou van ‘n doelmatige kerkgebou aangesien die oorspronklike geboutjie wat in 1914 opgerig is, te klein geword het.
Selfstandigwording
In Maart 1933 word die moontlikheid van afstigting en selfstandigwording op ‘n gemeentevergadering in Fort Victoria bespreek. Ds. A.A. Louw, op versoek van die Finansiële Kommissie, verduidelik die doel van die vergadering aan die lidmate en daar word ten gunste van selfstandigwording besluit.
Ds. Strydom, Sendingsekretaris van die N.G. Kerk in die O.V.S. besoek die gemeente in Junie 1933 en verduidelik aan die Finansiële Kommissie dat die Victoria-gemeente 40 jaar vantevore gestig is en gee aan die hand wat hulle behoort te doen om weer selfstandigheid te verkry. Die Finansiële Kommissie reageer op ds. Strydom se raad en versoek die Enkeldoorn kerkraad om proponent J.H. van Wyk van Salisbury te beroep as hulpleraar met werkkring Fort Victoria.
Vir die volgende drie jaar sou die vraag van selfstandigwording op elke vergadering van die Finansiële Kommissie bespreek word. Ds. Van Wyk wat hom die beroep na Enkeldoorn, met werkkring Fort Victoria laat welgeval het, tree in hierdie tyd as voorsitter van die Kommissie op. Na die dood van ds. Liebenberg moes hy egter die werk in die moedergemeente op hom neem en Victoria was weereens sonder ‘n leraar.
Aan die begin van 1936 gee die Ring van Bulawayo uiteindelik toestemming tot afstigting en op 8 Augustus 1936 word die plegtigheid op Fort Victoria waargeneem onder voorsitterskap van die Ringsvoorsitter ds. G.J. van Zyl. Die “nuwe” gemeente het aanvanklik uit vier wyke bestaan, t.w. die Gutu-Chatsworthwyk, die Oostelike (Rurgwe) wyk wat tot teen die Sabi-rivier gestrek het. die Dorpswyk wat Mashaba en Shabani ingesluit het en die Zimbabwe-Nuanetsiwyk wat tot aan Portuguese grens in die suide gestrek het. Die eerste kerkraad het bestaan uit ouderlinge J.J. Meyer, H.J. Spies, J.N. Rossouw en J.H. Kruger en diakens G. Steenkamp, G.A. Haasbroek, P.J. Vermaak en J.J. Biljon.
Groei en Konsolidasie
Die kerkraad het nie dadelik ‘n leraar beroep nie aangesien die finansiële toestand van die gemeente te swak was. Ds. A. A. Louw wat saam met andere van sy medesendelinge, o.a. eerww. I.D. Moller en J.M. Joubert, reeds soveel gedoen het vir die gemeente, het weereens die leemte gevul. Nogtans was dit nie nodig om te lank te wag nie want op 31 Julie 1937 word die eerste leraar van die gemeente, ds. G.J. le Roux, bevestig.
Die groei was aanvanklik maar stadig. Finansiële probleme en die feit dat die gemeente so uitgestrek en lidmate yl-verspreid was, het die vooruitgang gestrem. Die Kerkbou-kommissie is omskep in ‘n bou kommissie met opdrag om uit te kyk vir ‘n geskikte pastorie vir die leraar. Nadat daar vir geruime tyd op twee gedagtes gehink is, word uiteindelik besluit om ‘n pastorie te koop in stede van een te bou.
Groei was daar wel, en die kerkgebou was weldra te klein. Nadat daar vir ‘n hele aantal jare gebruik gemaak is van die Metodistekerk vir dienste, besluit die kerkraad in Maart 1943 om ‘n nuwe gebou op te trek.
Dit was egter in die oorlogsjare en materiaal was skaars sodat die hoeksteen eers in Januarie 1949 deur ds. J.P. van der Spuy, Oud-moderator van die N.G. Kerk, O.V.S., gelê kon word.
Twee jaar later, op 2 Desember 1950, kon dit in gebruik geneem word. Hierna is ‘n nuwe pastorie gebou wat op 23 April 1954 amptelik ingebruik geneem is en daarna ‘n ruim kerksaal wat teen die einde van 1965 voltooi is. Die huidige geboue-kompleks voldoen aan die behoeftes van die gemeente vir plaaslike byeenkomste maar in die buitewyke word daar nog steeds van nie-kerklike geboue gebruik gemaak om dienste en bidure te hou. In die verskillende wyke van die gemeente het groei en vooruitgang ook nie uitgebly nie. Aangesien die oorspronklike vier wyke so uitgestrek was, is daar deur die jare heen verskeie herindelings gemaak na gelang van omstandighede en namate die lidmatetal verminder of vermeerder het. Die oorspronklike Gutuwyk is later in drie verskillende wyke opgedeel, t.w. Gutu, Sote en Chatsworth. Aanvanklik is Nagmaal drie maal per jaar te Gutu bedien maar tans word dit slegs twee maal gedoen. In die Oostelike wyk (Rurgwe) het daar veral tussen die jare 1953 tot 1960 ‘n hele aantal lidmate bygekom met die opening van myne naby Bikita en Umkondo op die Devuli-beesplaas. Op een stadium in die vyftigerjare is daar gereeld eenkeer per maand ‘n aanddiens in een van die woonhuise te Bikita Minerals gehou dog dit is later weer gestaak toe die getal lidmate gedaal het.
Verreweg die grootste ontwikkeling sedert selfstandigwording het in die Laeveld, waar die dorpies Chiredzi en Triangle ontstaan het, geskied. Die grootskaalse besproeiingskemas in hierdie dele het die lidmatetal van die gemeente aansienlik laat styg. Die oorspronklike Zimbabwewyk is in Maart 1955 in twee gedeel met die suidelike deel bekend as die Laeveldwyk wat Nuanetsi ingesluit het. In Junie 1965 word daar ‘n begin gemaak met die bou van Sondagskoolklasse op Triangle en Chiredzi en op 12 Februarie 1966 besluit die kerkraad om Nagmaal twee keer per jaar in die Laeveld (Triangle) te bedien. Die ou dorpswyk wat Mashaba en Shabani ingesluit het, is ook deur die jare redelik versnipper en onderverdeel in kleiner wyke. In 1951 laat die gemeentelede van Shabani blyk dat hulle nie meer geneë voel om by te dra vir die kerkgebou op Fort Victoria nie maar liefs hulle eie gebou wil oprig. Tussen 1951 en begin 1954 word die moontlikheid van afstigting herhaaldelik by kerkraadsvergaderings geopper en op 22 Mei 1954 word dit goedgekeur en word die Lundi-rivier as die voorlopige grens tussen die twee gemeentes bepaal. Masbaba het intussen ook tot ‘n selfstandige wyk ontwikkel. Buitedienste word tans op Mashaba, Chiredzi, Triangle, Chatswortb en Gutu gehou. Die vier wyke van 1936 is vandag opgedeel in nie minder as 20 verskillende wyke nie en die kerkraadslede het dienooreenkomstig vermeerder. Onlangse statistiek toon dat daar ongeveer 900 persone in die gemeente is waarvan 600 lidmate is.
Bron: Ned, Geref. Kerk Midde-Afrika 75: 1895 – 1970