NG Gemeente Enkeldoorn

gestig

9 November 1895

sien

NG Gemeente Chivhu

eerste predikant

ds AJ Liebenberg

Die NG Gemeente Enkeldoorn was ‘n gemeente in die Sinode van Midde-Afrika.

In 1895 het die Kaapse Kerk die leraar van Wynberg, ds. P. A. Strassheim afgevaardig om gemeentes in Rhodesië te gaan stig. Op ‘n vergadering gehou op 5 Augustus 1895, waarheen hy deur eerw, Groenewald vergesel is, is besluit om ‘n dorp langs die Umyatirivier te stig. ‘n Paar persone, waaronder mnre. Hoffman en Potgieter, is aangewys om met die organisering te begin. Aangesien die lede van die verskillende kerkgenootskappe te min was om afsonderlike gemeentes te stig, het almal hulle gewig by die beplande nuwe Ned. Geref. gemeente in te gooi.

Op Saterdag 9 November 1895 is ‘n gemeente-vergadering gehou waarop die gemeente gestig en die eerste kerkraadslede gekies is. Dieselfde naweek is ook die eerste Nagmaal gehou en die Sakrament van die doop bedien.

Gedurende die naturelle-opstand van 1896 het Cecil Rhodes vir eerw. A. J. Liebenberg gevra om na die laer van Enkeldoorn te gaan om in daardie omgewing ‘n plek vir ‘n dorp uit te soek. Op 6 Januarie 1897 het eerw. Liebenberg by die laer op Vaalkop aangekom en daarna die plek uitgesoek waar Enkeldoorn-dorp tot stand gekom het. Op ‘n ruim perseel wat deur Cecil Rhodes geskenk is, is die eerste kerkie van pale en gras opgerig. Hierdie plekkie het ook as skool diens gedoen. Die eerste meer permanente gebou se hoeksteen is op 21 Desember 1897 deur magistraat G.H. McCulloch gelê en die voltooide gebou het $2,000 gekos.

Die eerste leraar was eerw. Albert J. Liebenberg. Gebore te Victoria-Wes op 8 Julie 1871 en hy het sy studies voltooi onder dr. Furgeson aan die Sending-Instituut. Op versoek van die Kaapse Kerk het hy na Rhodesië gekom en is in Umtali deur ds. Strassheim as predikant bevestig, terwyl die Sinodale-kommissie onderneem het dat hierdie opdrag om as predikant hier op te tree, elke drie jaar deur hulle hernu sal word. Na verskeie versoeke deur sy kerkraad, het die Kaapse Sinode in 1928 besluit om in erkenning vir sy werk, aan hom predikante-status te verleen. Ds. Liebenberg is daarna onmiddelik ook offisieel as predikant van Enkeldoorn beroep en deur die konsulent ds. J. H. Pienaar van Salisbury bevestig.

Ds. Liebenberg is in 1899 met ‘n onderwyseres, Engela Neethling, van Prince Albert getroud en uit die huwelik is sewe kinders gebore.

In 1927 is besluit om ‘n nuwe en groter kerkgebou op te rig en op 31 Mei 1930 is die hoeksteen deur ds. Liebenberg gele. Die argitek was Gerhard Moerdyk en die bou-aannemer R. Kirkpatrick. Die gebou het $14,000 gekos en onder leiding van mevr. Liebenberg het die susters van die gemeente $1,600 vir die orrel byeengebring. As gevolg van swak gesondheid het ds. Liebenberg in Desember 1932 ‘n operasie in Johannesburg ondergaan. Hy het egter nie weer herstel nie en is na ‘n lang lyding op 6 Oktober 1933 oorlede. Kenmerkend van ds Liebenberg was sy besondere liggaamskrag en sy geloofsmoed. Hy was ‘n begaafde spreker met ‘n minsame geaardheid en ‘n sterk persoonlikheid wat alles daartoe bygedra het dat hy inderdaad ‘n vader in die gemeente was waar hy onthou word as predikant en selfs onderwyser en as ‘n baanbreker held.

Bron: Ned, Geref. Kerk Midde-Afrika 75: 1895 – 1970

Predikante