NG Gemeente Delmas

NG Gemeente Delmas

gestig

22 Mei 1918

ring

Ring van Delmas

Adres

H/v Sesdestraat en Vierdelaan, Delmas

eerste predikant

Ds T D Potgieter

Die NG Gemeente Delmas is ‘n gemeente in die Hoëveld Sinode.

Stigting

Delmas is op 22 Mei 1918 van die gemeente Benoni afgestig, so lui die amptelike kennisgewing van die Scriba Synodi in De Kerkbode. Die gemeente het geen bruidskat ontvang nie en moes maar self die hand aan die ploeg slaan. Daar was geen kerksaal, geen pastorie, totaal niks. Daar moes van onder af begin word. Die gemeente moes in ‘n ou graanskuur byeenkom. Die eerste kerkraadsvergadering is op 10 Junie 1918 gehou.

Eerste leraars

Ds. T.D. Potgieter, destyds spoorwegleraar van die Transvaalse Kerk, het die beroep hierheen aangeneem en op Saterdag 19 April 1919 (die geboortedag van die latere leraar ds. M.J.P. Olivier) is ds. Potgieter om elfuur die oggend bevestig en het hy sy intreepreek om tweeuur die middag gelewer. So het die dienstyd van hierdie dienskneg van die Here begin en het dit tot 1926 geduur. Gedurende ds. Potgieter se bediening is die pastorie, wat jare lank nog in gebruik was, gebou, asook die kerksaal wat baie jare lank as kerk gedien het.

In die plek van ds. Potgieter is prop. J.C. Cronjé beroep en het hy van 1926 tot 1928 in die gemeente gearbei, totdat hy ‘n beroep na Rustenburg aangeneem het. Op 27 April 1929 is ds. H.J. de Villiers van Umtali in Rhodesië tot herder en leraar van die gemeente beroep en het hy dit aanvaar. Die derde predikant van hierdie gemeente het hier gearbei totdat die Here hom op 28 Junie 1936 tot hoër diens opgeroep het.

Vanaf 1937 tot April 1946 het ds. M. J. van Niekerk, vroeër hulpleraar van Benoni, as bedienaar van die goddelike Woord in hierdie gemeente opgetree. Tydens sy ampstermyn is die pragtige, sierlike kerkgebou opgerig na die ontwerp van Gerard Moerdyk. Die bouaannemer was Bachman & Mulder. Vanaf 14 Februarie 1947 het ds. M.J.P. Olivier in die gemeente gestaan.

Op 12 Junie 1948 het Sundra as aparte gemeente van Delmas afgestig. Later het Delmas-Wes op die dorp ook van die moedergemeente afgestig. “So het hierdie gemeente op stoflike gebied tot een van die boeiendste gemeentes van Transvaal gegroei,” skryf Ons gemeentelike feesalbum in 1952. “Of dit op geestelike gebied ook die geval is, dit sal die ewigheid eendag openbaar. Mag God ons genadig wees sodat ons voortdurend sal stry vir die geloof wat eenmaal aan die heiliges oorgelewer is.”

Predikante